Die tien gebooie van sportspan-ondersteuning

Mei 25, 2010 in Sonder kategorie

Hoekom ondersteun ons sportspanne? En hóé moet ons dit doen?

Saterdag speel die rugbyspan wat ek ondersteun (in die Wes-Kaap, waar ek werk, moet ’n mens versigtig wees om te veel besonderhede te gee …) teen nog ’n Suid-Afrikaanse span in die Super 14-finaal. Ek sien vreeslik uit na die wedstryd, veral omdat my span gaan wen. Van my vriende en kennisse kies egter nie so ondubbelsinnig kant nie. “Ja, span X is my span,” sê hulle, “maar ek hou baie van hoe span Y die laaste tyd speel, so ek is ’n bietjie in twee geskeur.”

Dit herinner aan die ou cliché: “Mag die beste span wen.” Of, net so erg: “Rugby het gewen.” Dit laat my ook dink aan daardie verwerplike spesie die sport-fynproewer, wat nie bankvas en konsekwent agter een span staan nie, maar elke jaar in elke sportsoort kyk watter span die meeste potensiaal toon, dan op grond daarvan ’n voorspelling waag, en die res van die seisoen met Stoïsynse afstandelikheid kyk of sy voorspelling uitkom. Ag, kom nou, dis mos nie waaroor sport gaan nie!

Die funksie van sport as vermaak, soos ek dit sien, is om as uitlaatklep te dien vir al daardie houdings en gedragsvorme waarvoor daar in ’n beskaafde samelewing andersyds nie plek is nie. In die politiek, die ekonomie, die beroepslewe, die openbare debat en so meer is daar nie plek vir vooroordeel, eenogigheid, chauvinisme en vyandbeelde nie, maar lede van die spesie homo sapiens het nou maar eenmaal hierdie slegte geneigdhede, en sport as vermaak se nut lê daarin dat dit ’n ruimte bied waarin sulke barbaarshede sonder veel skade aan die mensdom na hartelus uitgeleef kan word.

Hoe tree ’n ware sportentoesias dan korrek op?

Eerstens ondersteun hy lewenslank net een span deur dik en dun, ongeag hoe goed of hoe sleg daardie span vaar.

Tweedens moet daar ten minste een binnelandse en een buitelandse span wees waarteen hy uit beginsel altyd is – wanneer hulle speel (hoe goed of “mooi” ook al), hoop hy hulle verloor.

Derdens gaan dit vir hom oor wen, oor wen alleen en oor niks anders as wen nie. (Totale vermorseling van die anders span is ’n welkome bonus.)

Omdat dit oor wen gaan, en oor niks anders nie, is hy, vierdens, altyd kwaad en onstig wanneer sy span verloor.

Tog probeer hy, vyfdens, sy teleurstelling nie wys nie omdat daar min dinge so vertroostend is as om die ondersteuners van die opponerende wenspan te onstig en frustreer deur hul oorwinning te relativeer en af te maak (byvoorbeeld deur dit aan die skeidsregter, ’n toevallige opportunistiese drie, die afwesigheid van sleutelspelers in die verloorspan of iets dergeliks toe te skryf).

Sesdens verlustig hy hom skaamteloos in die smart van die opponente wanneer hulle span verloor, en vryf hy dit weke lank genadeloos in – simpatie is verbode, sadisme verpligtend.

’n Ware sportentoesias is, in die sewende plek, eenogig: sy span het altyd meer uitmuntende spelers as die ander spanne; vuil spel is altyd deur die ander span begin; en wanneer ’n strafskop teen sy span toegeken word, is die “blinne referee” (vergelyk David Kramer se liedjie met dié naam) ’n inkompetente moroon.

In die agtste plek lees ’n goeie ondersteuner net rugbyskrywers, en luister hy net na rugbykommentators, wat skaamteloos sy span op- en ander spanne afskryf – en stem hy heelhartig en luidrugtig met dié “uitmuntende” joernalis se sienings saam.

In die negende plek probeer ’n lojale ondersteuner ook sy kinders indoktrineer om sy span te ondersteun, al woon hulle in ’n ander omgewing as die een wat deur dié span verteenwoordig word. (Helaas slaag hy nie altyd daarin nie, maar dan het hy ten minste probeer …)

En laastens, in die tiende plek, loop hy nie, behalwe in die mees ekstreme noodsituasies, ’n enkele wedstryd waarin sy span speel mis nie – sy lewensin draai immers vir daardie 80 minute om die verloop en uitkoms van die spel. (Die feit dat ’n private betaalkanaal tans oor eksklusiewe rugby-uitsaairegte beskik, wat beteken dat die meerderheid rugbyentoesiaste – om van potensiële ondersteuners nie te praat nie – moeilik toegang daartoe het, is dus ’n soort misdaad teen die mensdom.)

Daar het julle dit: die tien gebooie van sportspan-ondersteuning. Wie hierdie gebooie nie nougeset gehoorsaam nie het nie die vaagste benul waaroor sport gaan nie en hou, om daardie rede, ’n groot gevaar vir die samelewing in, aangesien hy sport as sosiale uitlaatklep deur sy optrede ondermyn en buitendien heel moontlik sy eie antisosiale, chauvinistiese tendense buite die sportpaviljoen tot nadeel van almal sal uitleef. So iemand behoort hom te skaam. Sulke mense kan nie vertrou word nie.

Mag die beste span (dis nou my span) Saterdag wen!

My tien geboeie het babas gekry – in ‘n sokkerkonteks! Gaan kyk wat Carina van der Walt oor taal- en landsgrense daarmee gemaak het.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

26 antwoorde op Die tien gebooie van sportspan-ondersteuning

  1. wynvdm het gesĂȘ op Mei 25, 2010

    En dit is hoe dit is! 🙂

  2. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 25, 2010

    Ek’s bly jy stem saam.

  3. smartassblond het gesĂȘ op Mei 25, 2010

    Goeie opsomming, die beste span sal wen..dis nou my span!

  4. DroomKind het gesĂȘ op Mei 25, 2010

    Ek ook 🙂

  5. kobusvictor het gesĂȘ op Mei 25, 2010

    Amen! Halleluja! Netjies en korrek! Stormers bo!

  6. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 26, 2010

    Goed so. Dit was die bedoeling. Ek het eenkeer (toe ek nog by die koerant gewerk het) ook ‘n bloginskrywing gewy aan “Hoekom ek maar vleis mag eet”. Rasionalisering het sy plek …

  7. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 26, 2010

    Hoewel jy kennelik in abstracto verstaan wat ek skryf, snap jy inconcreto duidelik niks daarvan nie: Wie is die Stormers?

  8. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 26, 2010

    Ons ondersteun dus dieselfde span?

  9. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 26, 2010

    Flenters, skaam jou!

  10. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 26, 2010

    DroomKind, jou ook.

  11. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 26, 2010

    Daarsy, vesprei die woord!

  12. smartassblond het gesĂȘ op Mei 26, 2010

    Nee jong, ek vermoed nie so nie…ons Stormer ondersteuners is nie skaam om die span by die naam te noem nie…selfs hier in bulland.

  13. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 26, 2010

    Ja, die Bulmense was nog altyd beskaafd en ontwikkeld. Hulle verdra selfs die mees buitensporige idees.

  14. langenhoven het gesĂȘ op Mei 26, 2010

    Skaamteloos vanuit die Kaap 😉

  15. plankloper het gesĂȘ op Mei 27, 2010

    Uitmuntend saamgevat. Leeus gaan weer wen!

  16. louisna het gesĂȘ op Mei 27, 2010

    Het die elfde gebod nie iets met die rev te doen nie? Blameer hom as jou span verloor

  17. louisna het gesĂȘ op Mei 27, 2010

    Ons praat weer Saterdag as die wedstryd geskiedenis is. Sterkte Kobus.

  18. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 27, 2010

    Wilhelm van Deventer skryf:

    “En dan is daar ‘n elfde gebod. Ek is al my lewe lank uitverkoop aan sokker, nou ook die WĂȘreldbeker en ons span. Maar, indien ons MexiKo nie in die openingswedstryd klop nie, kan SA Sokker vergeet van ‘n nasionale inkoop in die toernooi! Of het ons al gerieflikshalwe vergeet van 1995 toe Madiba op Nuweland uitgestap het en ons die wĂȘreldkampioene AustraliĂ« die loef afgesteek het. En wat lees ons toe die volgende dag in die Sowetan? Ama-Bokke-Bokke! Jammer, maar ons land en al sy mense verwag dit van BB! Anders gaan dit uitdraai soos ‘n partytjie wat ‘n mens self reĂ«l, almal nooi, maar jyself is afwesig!”

  19. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 27, 2010

    Dit word reeds deur gebooie 5 en 7 ondervang!

  20. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 27, 2010

    Huh?

  21. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 27, 2010

    En wie die laaste praat, praat die lekkerste (as hy/sy die regte span ondersteun).

  22. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 27, 2010

    Die elfde gebod is juis skaamteloosheid. Wat my laat dink aan daardie Vlaamse bier genaamd “Het Elfde Gebod” (met as slagspreuk: “Gij zult bier drinken”).

  23. louisna het gesĂȘ op Mei 28, 2010

    Laat rugby wen.

  24. plankloper het gesĂȘ op Mei 28, 2010

    Gebod 1

  25. gerritbrand het gesĂȘ op Mei 28, 2010

    Ai

  26. gerritbrand het gesĂȘ op Junie 16, 2010

    Klik op die nuut begevoegde skakel onderaan my inskrywing hierbo om te kyk hoe my tien geboeie babas begin kry …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.