Lojaliteit aan Die Party is alles

Mei 14, 2010 in Sonder kategorie

So Julius Mal-ema word toe ligweg deur die ANC oor die vingers getik. Maar let op: van die vier klagtes teen hom is hy slegs oor een berispe: die feit dat hy, deur sy aanval op Die Leier, verdeeldheid in Die Party kon veroorsaak.

Die feit dat hy sy steun vir Robert Mugabe en sy regering in Zimbabwe uitgespreek het, ’n buitelandse joernalis wat lastige vrae stel grof uitgeskel en by ’n perskonferensie uitgejaag het, en by herhaling ’n lied wat mense tot moord op ’n etniese minderheid aanspoor, gesing het – selfs nadat die sing daarvan deur ’n hof verbied is – word nie deur die ANC as strafwaardig, of selfs afkeurenswaardig, beskou nie. Verder word die ernstige vrae wat oor ’n wye front oor Mal-ema se finansiële posisie en die aard van sy verhouding met mense en instansies in die sakewêreld gestel word nie eens ondersoek nie, wat nog te sê veroordeel. Die ANC het dus nou op die hoogste vlak amptelik te kenne gegee dat hierdie soort gedrag in orde is.

Nie laat dit verras nie. Ook senior figure in die ANC, soos Zuma se eksvrou, Nkosazana, het Mugabe en kie al lof toegeswaai.

’n Selfs nog meer senior figuur in Die Party, Gwede Mantashe, het, nes Mal-ema, ná die hofuitspraak oor die lied “Skiet die Boer” gesê die ANC sal nie die hof hierin gehoorsaam nie – en daardeur duidelik gemaak dat die party hom nie as aan hofbeslissings onderhewig beskou nie. Buitendien het Zuma mos self op die rug van “Bring my Masjiengeweer” president geword.

Ook growwe aanvalle op, en dreigemente teen, die media is algemene praktyk onder ANC-leiers. Al wat hulle in Mal-ema se geval vir ’n oomblik hul wenkbroue laat lig het (voordat hulle dit traak-my-nie-agtig weer laat sak het), is die feit dat dit hier om ’n buitelandse joernalis gaan en dus moontlik Suid-Afrika se beeld na buite kon skaad. In SA is die “beeld” immers alles, die substansie niks. Daarom dat Zuma ook pas weer in die parlement gesê het dis “onpatrioties” om ’n boodskap die wêreld in te stuur dat ons regering die Grondwet minag. Al is dit toevallig die waarheid.

En oor twyfelagtige geldelike praktyke hoef ons nie eens te praat nie; in die ANC, met die president vooraan, is dit byna ’n vereiste vir die bekleding van leiersposte.

Mal-ema se optrede strook dus in alle opsigte met die kenmerkende optrede van partyleiers. Dis vanselfsprekend dat Die Party nie ’n probleem daarmee sal hê nie.

Daar is mense wat redeneer die bestraffing van Mal-ema oor sy kritiek op Zuma kom in die ANC-konteks op ’n baie skerp veroordeling neer, aangesien die ANC tradisioneel nie alte maklik sy lede in dissiplinêre verhore tot orde roep nie. Dis ’n bietjie soos om ’n korrupte polisieman te prys wanneer hy by hoë uitsondering ’n misdadiger in hegtenis neem – gesien die feit dat hy normaalweg in ruil vir omkoopgeld misdadigers teen vervolging beskerm. Verwronge morele logika as jy my vra.

Nog mense gryp na die strooihalm van “sekere ANC-lede” wat krities oor hierdie dinge is en binne partystrukture daarteen probeer optree. Dit mag wees, maar al waaraan dit my herinner, is aan daardie NP-lede van vroeër jare wat hulself as “verlig” beskou het en gereken het hulle kan die party “van binne” verander. Feit is: net soos toe is daar tans weer net een onvergeeflike sonde in die regerende party: dislojaliteit in eie kring. Misdade teen die samelewing kan maar oorgesien word.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

17 antwoorde op Lojaliteit aan Die Party is alles

  1. vuurklip het gesê op Mei 14, 2010

    Malema is die stormram wat dié dinge kan sê wat die ANC se leiers nié kan sê sonder om die Weste te laat skrik nie. Só behou die ANC die lojaliteit van die onopgevoede jeug en maak hulle ons sag vir die dag wat Malema se uitsprake (nasionalisasie van myne ens.) wél ANC beleid word.

    Dan is daar ook die byvoordeel dat die bankrot myne, wat in besit van die Malema en sy bylopers is, deur die Staat gered sal word indien hulle genasionaliseer word.

  2. gerritbrand het gesê op Mei 15, 2010

    Haai, en ek dag ek gee maar net ‘n saaklike, feitelike relaas van die werklikheid!

  3. gerritbrand het gesê op Mei 15, 2010

    Ek dink ook die ANC dink hulle kan Mal-ema vir hul doeleindes gebruik – nes die Nasionaal-sosialistiese Duitse Arbeidersparty gedink het hulle kan die mal populis Adolf Hitler aan ‘n leiband hou.

    Daar is nog ‘n faktor. Baie partylede en “vriende” van die party het waarskynlik finansiele belange wat met die van Mal-ema verstrengel is.

  4. braamdevries het gesê op Mei 15, 2010

    George Orwell se 1984 raak by die dag belangriker leesstof vir alle Suid-Afrikaners.

  5. kuypers het gesê op Mei 16, 2010

    Jou kommentaar is geldig en moontlik ook profeties. Is oordrewe lojaliteit aan die eie nie ook maar net ‘n ander vorm van rasisme nie?

  6. louisna het gesê op Mei 16, 2010

    Gaan jy iets oor Van Zyl Slabbert blog Gerrit? Min mense sal dit so goed kan doen soos jy.

  7. gerritbrand het gesê op Mei 17, 2010

    Baie mense kan (en het) dit beter as ek (ge)doen! Hy was ‘n groot gees en het ‘n baie belangrike rol gespeel. Ook ‘n voorbeeld van integriteit en rasionaliteit gestel. Ek het baie groot bewondering vir hom.

  8. gerritbrand het gesê op Mei 17, 2010

    Ja, as dit om die eie ras gaan (wat by sekere leiers in ons land wel ‘n rol speel), maar my indruk hier is dat dit meer oor die party gaan. Noem dit absolutisme.

  9. gerritbrand het gesê op Mei 17, 2010

    Beslis.

  10. louisna het gesê op Mei 17, 2010

    Ja, hy was ‘n slim man met integriteit.

  11. gerritbrand het gesê op Mei 17, 2010

    En as die regering sy voorstelle oor veranderings in die kiesstelsel, wat hy op hul versoek opgestel het, aanvaar het, het ons vandag ‘n demokrasie gehad.

  12. louisna het gesê op Mei 17, 2010

    Ai wat ‘n jammerte. Seker ook apartheid se skuld.

  13. gerritbrand het gesê op Mei 17, 2010

    Wel, op ‘n vreemde manier is dit dalk, want as Die Pedagogie van die Verdruktes dit reg het, is “nuwe” regerings geneig om die oues wat hulle voorafgegaan het na te boots.

  14. louisna het gesê op Mei 17, 2010

    Sjoe, was die ou rolmodelle dan so swak?

  15. gerritbrand het gesê op Mei 17, 2010

    Helaas. Dis soos Andre du Toit destyds gewaarsku het: die sondes van die vaders …

  16. gerritbrand het gesê op Mei 17, 2010

    WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “In die Ou Suid-Afrika was by name die Afrikaanse Susterskerke se primêre lojaliteit ook partypolities-geöriënteerd, en nou, benewens die na binne gerigte lojaliteit in die ANC, gebeur presies dieselfde in talle sogenaamde swart kerke.

    “Hier in Potch was daar gister ‘n Biddag met die oog op die Wêreldbeker, georganiseer deur die Council of Religious Leaders van die plaaslike Stadsraad. Slegs swart en bruin leraars en gemeentes is uitgenooi en toe beland ‘n epos by my wat alle blanke leraars en gemeentes daarvan beskuldig dat hulle nie in die Biddag en landsake belangstel nie.

    “Ons VGK Dagbestuur het die aangeleentheid onmiddellik (sonder my teenwoordigheid by die vergadering) hanteer en ‘n dringende skrywe van misnoë aan die CRL gerig, maar vanweë partypolitieke lojaliteite (en faksies daarbinne) word daar net geen moed van oortuiging aan die dag gelê om Christelik-Bybelse leierskap aan die dag te lê nie.”

  17. kuypers het gesê op Mei 19, 2010

    Stem saam oor absolutisme as “onbeperkte alleenheerskappy”.
    Maar is die party ter sprake nie ‘n veelknoppige gedoente wat deur ‘n ‘apostolaat’ of ‘ecclesia’ vanuit Lethuli House, die hoofkantoor van die ANC, gerig word nie? As mens “ANC Headquarters” sou google spring slegs ‘Youth League President Julius Malema’ op.
    As die heer reg aangehaal word is hy sterk kleurbewus en strek sy Ubuntu nie veel verder as die Black Africans geledere van die Suid-Afrikaanse gemeenskap nie. Wonder maar net: is ons hier ter lande al in staat om kleurloos te dink? Wil so voorkom of ons nog maar aan die begintrap van die menslike ontwikkelingswenteltrap is. Spiral Dynamics van Don Beck en Christopher Cowan praat van ‘PowerGods’ as egosentriste en die beeldmateriaal van die heer lyk nogal so.
    Groetnis

Los ’n antwoord vir braamdevries. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.