Zuma se belofte

Mei 11, 2010 in Sonder kategorie

Ek is alles behalwe ’n Jacob Zuma-aanhanger, en ek dink nie sy administrasie hou veel belofte in nie (inteendeel), maar ek was wel vroeër vanjaar opgewonde oor ’n belofte wat hy in ’n toespraak gemaak het, naamlik dat die regering “werkboeke” vir elke skoolvak in al die amptelike tale aan leerlinge beskikbaar gaan stel. Dit dui op ’n kentering in regeringskringe met betrekking tot die kwessie van moedertaalonderrig.

Ongelukkig het die media byna nie hiervan kennis geneem nie (die grootste deel van die SA media trek voordeel uit die oorheersing van Engels, is dus blind vir die nadelige maatskaplike gevolge daarvan, en vind meertaligheidsinisiatiewe daarom nie juis nuuswaardig nie). Gevolglik het ’n mens ná die toespraak nie veel meer oor die beloofde werkboeke verneem nie, en begin wonder of dit maar weer een van daardie edele planne is waarvan uiteindelik niks kom nie. (Die regering se Taal-in-onderwys-beleid, wat al vroeg in die nuwe Suid-Afrika aanvaar is, beloof immers om “moedertaalgebaseerde meertalige onderwys” in werking te stel, maar lê sedertdien en stof vergaar sonder dat enigiets prakties daaruit gekom het.)

Nou is daar egter aan die parlementêre portefeuljekomitee vir basiese onderwys ’n onderneming gegee, naamlik dat die beloofde werkboeke teen Augustus/September vanjaar beskikbaar gestel sal word. Teken die datum aan: As dit gebeur soos belowe is, sal ek die regering hemelhoog prys …

Die dag dat alle Suid-Afrikaners, en nie net Engels- en (sommige) Afrikaanssprekende leerlinge nie, deur die medium van hul moedertaal onderrig word, sal geletterheid, syfervaardigheid en die algemene vlak van skoolonderwys drasties verhoog. Werkboeke in al die amtelike tale kan ’n belangrike stap in dié rigting wees. Laat ons wag en kyk.

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

2 antwoorde op Zuma se belofte

  1. gerritbrand het gesê op Mei 11, 2010

    Meer nog: daar is ook navorsing wat daarop dui dat vaardigheid in die moedertaal vaardigheid in addisionele tale makliker maak. Selfs al sou ons enigste doel wees om die kinders goed Engels te laat leer, sou moedertaalonderrig dus die aangewese strategie wees!

  2. plankloper het gesê op Mei 11, 2010

    Ek dink dis positief. En soos jy se… As hulle die belofte gestand doen sal ek eerste weees om hulle te prys.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.