Moet navorsing só aangespoor word?

Mei 7, 2010 in Sonder kategorie

Bert Olivier en Louis Jonker lewer in die Seminaarkamer die eerste twee bydraes tot die afgelope maand se miniseminaar oor die navorsingsubsidiestelsel in Suid-Afrika.

Is dié stelsel – waarvolgens universiteite (en, deur hulle, akademici) geldelik deur die staat vir navorsingsuitsette beloon word – suksesvol? Dra dit by tot ’n groter navorsingsuitset? Indien wel, is dit dan ’n geval van kwantiteit eerder as kwaliteit? Wat is die negatiewe onbedoelde gevolge van die stelsel? Is daar sekere soorte navorsing, of sekere navorsingspublikasies, wat onregverdig benadeel of voorgetrek word? Kan ander Afrika-lande, wat in die algemeen die behoefte het om navorsingsuitsette te verhoog, baat daarby vind om ook die SA stelsel in werking te stel, soos onlangs deur Christoff Pauw gesuggereer, en deur andere bestry, is?

As akademikus raak hierdie vrae my regstreeks. Ek dink egter dis ook in alle Suid-Afrikaners se belang om oor hierdie stelsel ingelig te wees, aangesien dit húl belasting-geld is wat vir navorsingsubsidies aangewend word – en dit gaan hier nie om klein bedrae nie!

Verder sal die LitNet-gemeenskap dit dalk interessant vind om te weet dat die tydskrif LitNet Akademies deels deur hierdie stelsel bemoontlik word. LitNet Akademies is ’n geakkrediteerde tydskrif, wat beteken dat akademici wat daarin publiseer geld vir hul universiteit (en daardeur regstreeks of indirek ook vir hul eie navorsingsbegroting) verdien. Saam met die R8 000 per aanvaarde artikel in dié tydskrif wat deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans aan die skrywer (beroepsakademikus of nie) uitbetaal word, dien dit as sterk aansporing vir SA akademici om ook in Afrikaans te publiseer. (Die doel met LitNet Akademies is juis om iets aan die verminderende aantal akademiese publikasies in Afrikaans te doen – en sover lyk dit asof dit ’n groot impak maak.) LitNet Akademies is dus een voorbeeld van hoe die subsidiestelsel, warts and all, kreatief benut kan word om spesifieke gewenste navorsingstendense doeltreffend aan te moedig.

(Hou die Seminaarkamer ook dop vir Francis Galloway, bekende akademiese uitgewer en redakteur van LitNet Akademies, se bydrae tot die miniseminaar, wat binnekort sal verskyn.)

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

3 antwoorde op Moet navorsing só aangespoor word?

  1. gerritbrand het gesê op Mei 11, 2010

    Die vraag is seker of dit tans beter lyk as die tyd voordat die huidige subsidiestelsel ingevoer is? En of, indien dit die geval is, “beter” nie net op kwantiteit dui nie? Ek het mense al hoor suggereer dat kwaliteit erg ingeboed is – juis weens die fokus op kwantiteit. Self is ek uiters skepties oor die hele idee om op watter manier ook al die prestasie van akademiese instellings en hul personeel te probeer beoordeel volgens korporatiewe tipe standaarde. Jy kan akademici dwing om meer te publiseer, maar nie om uitnemende werk te doen nie. Jy kan allerlei stelsels ontwerp om uitnemendheid “objektief” te evalueer, maar dit bly subjektief en word deel van ‘n blufspel.

  2. gerritbrand het gesê op Mei 19, 2010

    WILHELM VAN DEVENTER SKRYF:

    “Hierdie onderwerp moet lewendig gehou word onder alle akademici. Wat die alternatiewe is, weet ek nie, maar wat ek wel weet is dat een van die probleme wat die huidige stelsel van navorsingssubsidies aanmoedig, is herhalende programme en projekte oor holruggeryde onderwerpe, net omdat daar geld daarvoor beskikbaar is. Een van hierdie terreine wat weinig nuwe kennis en kundigheid toevoeg, is die magdom studies oor MIV_VIGS, deur middel waarvan talle mense grade en publikasiegeleenthede ontvang, maar wat so te sê niks bydra tot die heil van mense wat met MIV-VIGS saamleef nie.

    “Myns insiens behoort daar ‘n MIV-VIGS NAVORSINGSRAAD in die lewe geroep te word om werklike navorsingsprioriteite rondom hierdie onderwerp te identifiseer en om alle navorsingsstudies ten opsigte van MIV-VIGS te monitor.”

  3. gerritbrand het gesê op Mei 19, 2010

    Wilhelm, hieroor is ek dit hartlik eens met jou. Vigs het ‘n industrie geword.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.