Hoekom ondersteun ons sportspanne? En hóé moet ons dit doen?
Saterdag speel die rugbyspan wat ek ondersteun (in die Wes-Kaap, waar ek werk, moet ’n mens versigtig wees om te veel besonderhede te gee …) teen nog ’n Suid-Afrikaanse span in die Super 14-finaal. Ek sien vreeslik uit na die wedstryd, veral omdat my span gaan wen. Van my vriende en kennisse kies egter nie so ondubbelsinnig kant nie. “Ja, span X is my span,” sê hulle, “maar ek hou baie van hoe span Y die laaste tyd speel, so ek is ’n bietjie in twee geskeur.”
Dit herinner aan die ou cliché: “Mag die beste span wen.” Of, net so erg: “Rugby het gewen.” Dit laat my ook dink aan daardie verwerplike spesie die sport-fynproewer, wat nie bankvas en konsekwent agter een span staan nie, maar elke jaar in elke sportsoort kyk watter span die meeste potensiaal toon, dan op grond daarvan ’n voorspelling waag, en die res van die seisoen met Stoïsynse afstandelikheid kyk of sy voorspelling uitkom. Ag, kom nou, dis mos nie waaroor sport gaan nie!
Die funksie van sport as vermaak, soos ek dit sien, is om as uitlaatklep te dien vir al daardie houdings en gedragsvorme waarvoor daar in ’n beskaafde samelewing andersyds nie plek is nie. In die politiek, die ekonomie, die beroepslewe, die openbare debat en so meer is daar nie plek vir vooroordeel, eenogigheid, chauvinisme en vyandbeelde nie, maar lede van die spesie homo sapiens het nou maar eenmaal hierdie slegte geneigdhede, en sport as vermaak se nut lê daarin dat dit ’n ruimte bied waarin sulke barbaarshede sonder veel skade aan die mensdom na hartelus uitgeleef kan word.
Hoe tree ’n ware sportentoesias dan korrek op?
Eerstens ondersteun hy lewenslank net een span deur dik en dun, ongeag hoe goed of hoe sleg daardie span vaar.
Tweedens moet daar ten minste een binnelandse en een buitelandse span wees waarteen hy uit beginsel altyd is – wanneer hulle speel (hoe goed of “mooi” ook al), hoop hy hulle verloor.
Derdens gaan dit vir hom oor wen, oor wen alleen en oor niks anders as wen nie. (Totale vermorseling van die anders span is ’n welkome bonus.)
Omdat dit oor wen gaan, en oor niks anders nie, is hy, vierdens, altyd kwaad en onstig wanneer sy span verloor.
Tog probeer hy, vyfdens, sy teleurstelling nie wys nie omdat daar min dinge so vertroostend is as om die ondersteuners van die opponerende wenspan te onstig en frustreer deur hul oorwinning te relativeer en af te maak (byvoorbeeld deur dit aan die skeidsregter, ’n toevallige opportunistiese drie, die afwesigheid van sleutelspelers in die verloorspan of iets dergeliks toe te skryf).
Sesdens verlustig hy hom skaamteloos in die smart van die opponente wanneer hulle span verloor, en vryf hy dit weke lank genadeloos in – simpatie is verbode, sadisme verpligtend.
’n Ware sportentoesias is, in die sewende plek, eenogig: sy span het altyd meer uitmuntende spelers as die ander spanne; vuil spel is altyd deur die ander span begin; en wanneer ’n strafskop teen sy span toegeken word, is die “blinne referee” (vergelyk David Kramer se liedjie met dié naam) ’n inkompetente moroon.
In die agtste plek lees ’n goeie ondersteuner net rugbyskrywers, en luister hy net na rugbykommentators, wat skaamteloos sy span op- en ander spanne afskryf – en stem hy heelhartig en luidrugtig met dié “uitmuntende” joernalis se sienings saam.
In die negende plek probeer ’n lojale ondersteuner ook sy kinders indoktrineer om sy span te ondersteun, al woon hulle in ’n ander omgewing as die een wat deur dié span verteenwoordig word. (Helaas slaag hy nie altyd daarin nie, maar dan het hy ten minste probeer …)
En laastens, in die tiende plek, loop hy nie, behalwe in die mees ekstreme noodsituasies, ’n enkele wedstryd waarin sy span speel mis nie – sy lewensin draai immers vir daardie 80 minute om die verloop en uitkoms van die spel. (Die feit dat ’n private betaalkanaal tans oor eksklusiewe rugby-uitsaairegte beskik, wat beteken dat die meerderheid rugbyentoesiaste – om van potensiële ondersteuners nie te praat nie – moeilik toegang daartoe het, is dus ’n soort misdaad teen die mensdom.)
Daar het julle dit: die tien gebooie van sportspan-ondersteuning. Wie hierdie gebooie nie nougeset gehoorsaam nie het nie die vaagste benul waaroor sport gaan nie en hou, om daardie rede, ’n groot gevaar vir die samelewing in, aangesien hy sport as sosiale uitlaatklep deur sy optrede ondermyn en buitendien heel moontlik sy eie antisosiale, chauvinistiese tendense buite die sportpaviljoen tot nadeel van almal sal uitleef. So iemand behoort hom te skaam. Sulke mense kan nie vertrou word nie.
Mag die beste span (dis nou my span) Saterdag wen!
My tien geboeie het babas gekry – in ‘n sokkerkonteks! Gaan kyk wat Carina van der Walt oor taal- en landsgrense daarmee gemaak het.
* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
Onlangse kommentare