“Letterlik” is nie dieselfde as “waar” nie

Maart 31, 2010 in Sonder kategorie

My jongste rubriek in die Kerkbode:

“Lees jy die Bybel letterlik?” vra iemand my onlangs weer. Niemand kan op dié vraag “Ja” antwoord nie.

Selfs die fundamentalistiese Bybellesers verstaan tog nie Jesus se gelykenisse as feitelike weergawes van historiese gebeure nie? (Om te vra wanneer en waar die verlore seun geleef het, is om die verhaal mis te verstaan.) Wanneer God ons rots genoem word, lei ons nie daaruit af dat God uit minerale saamgestel is nie. Of, soos die filosoof Ludwig Wittgenstein verduidelik het: as ons van God se oog lees, dink ons nie aan wenkbroue nie.

Daar is ook letterlike gedeeltes in die Bybel – tekste waarin woorde op die gewone manier gebruik word. Dat Dawid koning was, of Salomo die tempel laat bou het, word deur die Bybelskrywers letterlik bedoel. Dis anders as om Jesus Koning te noem, of na die gelowiges as God se tempel te verwys.

Dan is daar die omstrede gevalle: Is Jona letterlik deur ’n groot vis ingesluk of het dié verhaal ’n simboliese betekenis? Was daar regtig iemand soos arme ou Job of moet ons die boek Job as ’n soort novelle oor menswees voor God lees? Was Maria biologies ’n maagd toe sy Jesus verwag het, of wil dié verhaal in ’n mitologiese toonaard iets oor Jesus se Goddelike oorsprong sê? Bedoel Jesus, wanneer Hy sê: “Dit is my liggaam … ”, dat die brood letterlik in sy lyf verander, of wil dit sê dat die opgestane Christus deur sy Gees by die gelowiges is wanneer hulle die brood tot sy gedagtenis deel?

Wanneer daar meningsverskil oor sulke Bybeltekste is, gaan dit nie altyd oor of dié tekste geglo kan word nie, maar dikwels oor wat die skrywers daarmee bedoel het. Die vraag is dan nie óf ons die teks moet glo nie, maar wát dit is waarop die teks aanspraak maak. Wie daarop aandring dat hierdie tekste by voorbaat letterlik verstaan moet word, sal ook Jesus se gelykenisse as historiese verslae moet lees en aanvaar dat God ooghare het. Die vraag of ’n Bybelgedeelte letterlik verstaan moet word, is ’n verstaansvraag, nie ’n geloofsvraag nie.

Nie net fundamentaliste vergeet soms dié onderskeid nie. Baie “liberale” Christene wat sukkel om te glo wat sekere tekste beweer, soek ’n uitweg deur sonder goeie gronde aan te voer dat dié tekste nooit letterlik bedoel was nie. ’n Voorbeeld is die getuienis oor die leë graf ná Jesus se opstanding. Dat mense daaraan twyfel, verras nie, maar dit beteken nie die evangeliste het dit nie letterlik bedóél nie.

Die einste “liberales” maak ook soms die teenoorgestelde “fundamentalistiese” fout: om figuurlike tekste letterlik te lees. Ek is byvoorbeeld glad nie so seker dat, soos dikwels beweer word, die ou Israeliete hul voorstelling van die doderyk “daaronder” en God se woonplek “daarbo” letterlik opgeneem het nie. Die letterlike lees berus dalk op blote aannames oor die naïwiteit van antieke samelewings.

Om iets figuurlik of metafories te noem is nie om die waarheid daarvan te bevraagteken nie. Dat God ons rots is, bly waar, al word “rots” figuurlik bedoel. Net so is ’n letterlik bedoelde teks nie noodwendig waar nie. Baie letterlike bewerings – soos die pre-Copernicaanse oortuiging dat die son om die aarde draai – is vals. Die vraag oor of ’n Bybelteks geglo kan word, kom eers ter sprake nádat vasgestel is of dit letterlik of figuurlik bedoel is.

Daar is nog verdere, moeiliker vrae – soos wat dit presies beteken om die Bybel te “glo”. En die teoloog Karl Barth se onthutsende retoriese vraag: “Wat is die belydenis van die gesag van die Skrif as sodanig anders as ’n leë uitroep van ‘Here! Here!’?”

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

6 antwoorde op “Letterlik” is nie dieselfde as “waar” nie

  1. vuurklip het gesê op Maart 31, 2010

    Die probleem met die Bybel is dat daar geen objektiewe manier is om te bepaal wat letterlik gelees moet word en wat eers in die lig van die huidige tyd geïnterpreteer moet word.

    Die meeste mense verlaat hulle op “deskundiges” wat ook maar geen objektiewe maatstaf het nie.

    Om hierdie rede kan ons nie die Bybel as morele rigsnoer vertrou nie.

  2. gerritbrand het gesê op April 1, 2010

    Die Bybel is vir gelowiges nie in die eerste plek ‘n “morele rigsnoer” nie, maar ‘n middel waardeur God dinge laat gebeur. Dis ‘n groot onderwerp op sy eie, en nie waarop my inskrywing hierbo fokus nie.

    Uit jou reaksie lyk dit vir my of jy nog steeds die vraag na die feitelike waarheid/historisiteit en morele waarheid verwar met die vraag of ‘n teks letterlik of figuurlik bedoel word. Laasgenoemde is ‘n suiwer “literere” vraag: Wat was die bedoeling van die skrywer? Het Jesus sy gelykenisse as feitelike historiese narratiewe bedoel, of as figuurlike verhale wat iets oor God en mens illustreer? Het die Psalmdigter, toe hy God ‘n rots genoem het, bedoel dat God letterlik ‘n klip is, of dat God onwankelbaar en betroubaar is? Het die skrywer van Genesis 1 dit as ‘n feitelike weergawe van presies hoe God die heelal geskep het, bedoel, of as ‘n digterlik-beeldende lofsang aan God as skepper? Hierdie vrae kan ‘n mens redelik “objektief” beantwoord deur gewoon die tekste met aandag te ondersoek. Of ‘n mens gelowig of ongelowig is, maak ook geen verskil aan jou antwoord op hierdie vrae nie. Dit is betekenisvrae, nie vrae oor die waarheid, geldigheid of gesag van die betrokke tekste nie.

  3. gerritbrand het gesê op April 1, 2010

    Teologie is ‘n vorm van filosofie, en geen vorm van filosofie ontsnap aan die hermeneutiese problematiek, ook rondom letterlik en figuurlik (dink aan Plato se grot), of aan die onvermydelike feit dat denke vanuit ‘n denkerfenis, ‘n tradisie, vertrek nie.

    Dis onmoontlik om alles in die Bybel metafories te lees, omdat nie alles daarin metafories bedoel word nie. “Van Paulus …” aan die begin van een van Paulus se briewe word nie as ‘n metafoor bedoel nie, maar beteken letterlik dat dit Paulus is van wie die brief kom.

    Weer eens: Die vraag of dit wat die Bybel (hetsy letterlik of figuurlik) beweer waar is, is ‘n ander vraag as die vraag of ‘n spesifieke uitspraak letterlik of figuurlik verstaan moet word. “Koos is ‘n buffel” word (behalwe deur die wildsboer wat sy buffel Koos noem!) metafories bedoel. Dit beteken nie dis waar of dis vals nie. Die vraag of Koos regtig ‘n buffel, dit wil se onbeskof, ongevoelig en so meer is, is ‘n tweede vraag. “Christus het opgestaan!” word in die Nuwe Testament letterlik bedoel. Of jy glo dat dit ook regtig gebeur het, is ‘n tweede vraag.

    Dis die kern van my betoog: dat die letterlike of figuurlike karakter van ‘n teks niks oor die waarheidsgehalte van daardie teks se nie. ‘n Figuurlike uitspraak kan waar wees en ‘n letterlike uitspraak vals.

  4. gerritbrand het gesê op April 5, 2010

    Jy skryf: “Tog sal jy sekerlik die gebreke van ‘n teologiese epistemologie teenoor die van die filosofie erken.” Ongelukkig moet ek jou teleurstel. Ek erken dit hoegenaamd nie. Jy sal moet verduidelik waarin die swakhede of engheid van ‘n teologiese epistemologie setel, anders kan ek nie sinvol daarop reageer nie.

  5. gerritbrand het gesê op April 5, 2010

    As filosoof weet jy tog dat alle lewensvorme met hul gepaardgaande taalspel (om Wittgenstein se terminologie te gebruik) op voorveronderstellings (“tacit presuppositions”) berus, en dat van hierdie voorveronderstellings – in die geval van elke lewensvorm – 1) nie empiries toetsbaar is nie en in hierdie sin metafisies is, en daarom ook 2) nie in isolasie van nie, maar slegs as onderdeel van ‘n lewensvorm, geregverdig of bevraagteken kan word. Hierdie voorveronderstellings kan verder in geen geval binne die betrokke taalspel self bevraagteken word nie, omdat die taalspel daarmee sal ophou. Die taalspel en die lewensvorm wat daardeur uitgedruk word, kan egter wel as geheel aan die hand van eksterne kriteria geregverdig of bevraagteken word. Dit geld nie net sogenaamde religieuse lewensvorms soos die Christelike of Islamitiese geloof nie, maar ook lewensbeskouings in die algemeen, en ja, sulke aardse lewensvorms soos die wetenskap(pe), sport, filosofie … Die Christelike teologie is niks anders nie as ‘n analise van die lewensvorm en taalspel van Christelike geloof, net soos die wetenskapsfilosofie ‘n analise van die lewensvorm en taalspel van die wetenskap, of die politieke filosofie die analise van die lewensvorm en taalspel van die politiek, is. Wat epistemologies vir die een geld, geld net soveel vir die ander.

  6. gerritbrand het gesê op April 5, 2010

    Ek deel nie jou modernistiese kennisbegrip, en die daarmee verbonde onderskeid tussen kennis en geloof nie. As iemand iets glo en dis ook waar, dan weet daardie persoon dit – beskik hy/of sy oor kennis daaroor. Geloof is dus ook kennis vir sover dit waar is. Die een wat dink dis waar sal dit kennis noem; die een wat dink dis vals sal se ja, mense glo dit, maar hulle weet dit nie, want dis nie waar nie.

    Verder dink ek nie induktief-empiriese en logies-deduktiewe redenering is voldoende om sekerheid oor omtrent enigiets op te lewer nie – nie oor die bestaan van God of selfs oor die bestaan van enigiets hoegenaamd nie. Vrae oor die bestaan van wat ook al, bly onbeantwoordbaar buite die konteks van ‘n lewensvorm waarbinne die oortuiging dat dit bestaan ‘n sekere funksie vervul.

    Ek dink ek neig dalk meer na relativisme as jy! Maar nie in die sin dat ek nie dink daar is ‘n objektiewe werklikheid nie. Ek gaan uit van die bestaan van so ‘n werklikheid (al kan ek nie bewys dat dit bestaan nie!), maar ek besef ook dat mense onderling verskil oor hoe daardie werklikheid daar uitsien, dat wat vir die een waarskynlik lyk vir die ander vergesog mag voorkom, en dat dit “relatief” tot elke persoon se vooraf-aannames, ervarings, waardes, geaardheid ens. is. Dit geld nie net “geloof” nie, maar alle soorte kennisaansprake.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.