Reaksie op Marietjie Luyt se brief
Maart 18, 2010 in Sonder kategorie
In haar brief “Hoekom smelt die ys dan (Gerrit Brand)” skryf Marietjie Luyt ek voer aan (in my DinkNet-inskrywing oor die onderwerp) “dat die omvang van klimaatsverandering nie so ernstig is as wat tot onlangs toe gemeen is nie”. Nêrens in die betrokke inskrywing, of in enige ander skryfsel, maak ek egter dié bewering nie. Wat ek wel doen, is om op enkele gevalle te wys waarin afwykende stemme deur die wetenskaplike gemeenskap afgemaak is, maar dit later tog geblyk het dat dié stemme ’n punt beet gehad het. Wat klimaatsverandering betref, verwys ek dan na die navorsingsbedrog waaroor Leopold Scholtz in ’n artikel in Die Burger geskryf het. Die feite hieroor word deur niemand waarvan ek weet, ontken nie. Marietjie verwys in haar reaksie op my skrywe glad nie hierna nie, asof dit geen verskil maak nie. Dit vind ek nogal vreemd.
Anders as ek, vind Marietjie Scholtz se artikel “glad nie so danig uitstekend nie”, maar sy verduidelik nie hoekom, of teen watter deel van die inhoud van daardie artikel sy spesifiek besware het, nie. Wat sy wel doen, is om na anekdotiese (haar eie woordkeuse) getuienis te wys (wat van geen wetenskaplike belang is nie), en na allerlei inligting op die internet wat bevestig dat klimaatsverandering plaasvind. Dit raak myns insiens nie die geldigheid van Scholtz se artikel of my inskrywing nie. In laasgenoemde probeer ek gewoon ’n saak uitmaak vir oop debat in die wetenskap, en wys ek op die gevaar van ortodoksie en verkettering in die wetenskap omdat dit nie die wetenskap of die samelewing ’n guns bewys nie.
* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
Izakdv het gesê op Maart 18, 2010
Ek kop nog nie die “climategate” lekker nie, maar ek stem saam dat die probleem juis heel dikwels te enkellynig beskou word.
My punt is bloot dat dit sin maak om minder te mors!
gerritbrand het gesê op Maart 18, 2010
Hallo! Leopold gee goeie inligting oor “climategate”. Dat minder mors sin maak, si die heilige waarheid. Dus: Amen!