Hoe vind ek ‘n God wat oordeel?

November 6, 2009 in Sonder kategorie

(Die eerste aflewering van my nuwe “Geeste”-rubriek in die Kerkbode het pas verskyn. Lees dit hier.)

Christene praat nie meer oor Gods oordeel nie. Dit word nie soseer verwerp nie; eerder verwaarloos, stilgeswyg, vergeet. Of slegs op “hulle” toegepas.

Só lyk die diagnose van die Switserse teoloog Matthias Zeindler in sy nuwe boek, Gott der Richter (God die regter). Dis ’n fout, reken Zeindler, want hoe vreemd dit ook mag klink: ons het behoefte aan ’n God wat oordeel.

Om dit te illustreer roep Zeindler die moderne literatuur as getuie – onder meer’n gedig deur sy landgenoot Kurt Marti (my vertaling):

Dit sou baie here dalk pas

as met die dood alles vereffen

die heerskap van die here

die knegskap van die knegte

bevestig sou word vir altyd

dit sou baie here dalk pas

as hulle in ewigheid

here sou bly in ’n duur private graf

en hul knegte

knegte in goedkoop grafte in ’n ry

maar daar kom ’n opstanding

wat anders gans anders is as wat ons dag

daar kom ’n opstanding wat is

die opstand van god teen die here

en teen die heer van alle here: die dood

 

Die uitsig op só ’n opstand(ing), sê Zeindler, is goeie nuus, nie net vir knegte nie, maar ook vir here (en dames!), want ook hulle is aan ’n heerskappy onderworpe – van die dood, wat hul identiteit permanent in die ontmenslikende heer-kneg-verhouding wil vasmessel. Die dood is nie die groot gelykmaker nie!

Is dit dalk die hoop, nie op die “opstanding van die vlees” nie, maar op “grondig vergaan” (soos ’n Elisabeth Eybers-gedig dit stel), wat wensdenkery is? (“dié geleentheid / bied hom slegs een keer in ‘n leeftyd,” spot Eybers in ’n ander doodsgedig!) Op so ’n “goedkoop genade” (Bonhoeffer) durf ons nie reken nie, wil Marti se gedig sê; “daar kom ’n opstanding” wat oordeel oor, én bevry van, ons berusting by heer Dood se uitspraak. Sodat ons met Dylan Thomas kan sê: “Rage, rage against the dying of the light.” Of met Johanna Nurse Malobola (in Antjie Krog se vertaling): “dood, … as ek jou van agter kan neertrek soos ’n leeu / en jou wurg aan die keel / as ek jou met my voete in die grond in kan spring …”

Dáárom, sê ’n David Bosch-boektitel, is die evangelie Goeie nuus vir armes … en rykes.

Wie hul ore vir die oordeel sluit, kan ook die vryspraak nie hoor nie. Aan die kruis, verduidelik nog ’n Switserse teoloog, Karl Barth, is God se oordeel oor die mense nie afgeweer nie, maar voltrek – dáárin lê ons verlossing. Daar is troos in die wete dat niks vir God verborge is nie, dat ons geoordeel, en só van illusies en selfgeregtigheid bevry, kan word. Oordeel is nie teendeel nie, maar onderdeel, van God se genade.

Sowel in Die dieper reg as in Liberale nasionalisme ontwikkel N.P. van Wyk Louw die gedagte dat die voortbestaan van ’n volk, as dit nie “voortbestaan in geregtigheid” is nie, ’n oordeel van sy eie inhou: dat so ’n volk iets afstootliks, ook vir homself, word, en daarmee die wil verloor om te bestaan. Die sondes van die vaders, sou André du Toit dit later noem …

En vandag?

As jy jou Christus wil laat noem,

moet jou nabootsing oortuig.

As jy wil wys God is aan jou kant,

moet jy jou slim posisioneer.

As jy op die Grondwet wil neerkyk,

moet jy ‘n sierlike hemelvaart kan uitvoer.

As jy wil koningkraai tot Jesus kom,

is jou ambisie min:

Soos ’n dief in die nag

het hy jou onder jou neus

kaal uitgetrek,

sonder om te bluf,

deur net te is wat hy is.

Kan jy hom dít nadoen?

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

16 antwoorde op Hoe vind ek ‘n God wat oordeel?

  1. Ou-Top het gesê op November 6, 2009

    Ek is maar n eenvoudige ou man wat sekerlik nie geleerd is nie. Tog dink ek soms aan hierdie soort van goed. As ons nie gevra het om te wees waar ons is nie, dan is al logiese antwoord; ons is geplaas waar ons is. Kneg of koning, ryk of arm, goeie mens of slegte mens, jy is geplaas. Nou kom ek op my oudag agter dat die wat blymoedig is daar waar hulle geplaas is, die lewe beter hanteer. Lyk ook vir my of hulle ook nader aan God leef, gelukiger lyk, hulself minder kwel oor die dood, of die buurman of die burgermeester se nuwe kar, of die land, of die wereld.
    Soms kyk en beluister ek hulle so, effens nuuskierig en effens jaloers. En ek wens ek kon soos hulle wees. Dalk is ek maar net n misplaasde kweller.

  2. Die “teologie” (en “Christendom”)het inderdaad ‘n u-draai gemaak sedert Luther se tyd (“waar vind ek ‘n genadige God?”): die God van die populêre Christendom is makgemaak, ingeforseer in die gewilde dinkskemas van die mens: ons moet hom kan verstaan. Maar dis moeilik om werklik in ‘n God te glo wat ons kan verstaan – dan is hy mos maar soos ‘n afgod: deur mense uitgedink, “kleingekry”. Die ware God het hom juis geopenbaar sodat ons in hom kan glo en hom kan aanbid – as die “Gans Andere”: onverstaanbaar in sy oordeel en geregtigheid – net soos in sy liefde en genade.

    Dus: die God wat oordeel in absolute geregtigheid
    kry ons in die Bybel. Die God wat self die eis van sy absolute geregtigheid in die plek van die mens nakom, kry ons ook in die Bybel. Sonder kennis van sy oordelende geregtigheid, kan ons nie sy volmaakte liefde vir sondaars verstaan nie.

    Die kontras wat dikwels gemaak word tussen die oordelende God van die Ou Testament en die liefdevolle God van die Nuwe Testament, is die gevolg van ‘n totale misverstaan van wat God in die Bybel wil sê: in die Ou Testament die openbaring van die ware God se volmaakte deugde (eienskappe) en die mens se volslae mislukking om hom te dien en te aanbid. In die Nuwe Testament leer ons wat dit daardie volmaakte God gekos het om die totaal onvolmaakte mens met hom te versoen.
    Hy bly van ewigheid tot ewigheid dieselfde (Heb 13:8)

    Die ware Christen glo: “Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur”, Heb 12:28.29. Daarom kan ek getroos lewe en sterwe.

    DC Coetsee

  3. Ek weet nie. Ek het ‘n vermoede dat juis daardie ontevredenheid met hoe dinge is, en hoe jy daarin pas, daardie onblusbare verlange na meer, die manier is waarop God met ons besig is. CS Lewis het gereken ons mense se probleem is nie dat ons te veel verlang nie, maar dat ons te min verlang. Anders gestel: dat ons met te min tevrede is.

  4. As ek vir die Kerkbode skryf, is my teikengroep lesers van die Kerkbode. Dis immers ‘n gedrukte blad wat mense, meestal lidmate van die NG Kerk, bewustelik optel. Wanneer ek my blog skryf, is dit vir wie ook al daarop mag afkom en belang stel. Ek het nie regtig ‘n spesifieke teikengroep in gedagte nie, behalwe dan in die wye sin van “denkende lesers”. Maar nie alle denkende lesers stel in dieselfde onderwerpe belang nie. Daarom sal jy sien dat verskillende mense op verskillende inskrywings reageer. Hoekom vra jy?

  5. Zeindler skryf die Goddelike oordeel is ‘n aspek van die Goddelike liefde en genade. As sodanig geld dit ook as ‘n maatstaf vir ons eie hantering van onsself en mekaar. Liefde is nie onge-ergdheid oor ander, om hulle te “verdra”, nie. Liefde oordeel! Maar oordeel wat ongenadig is, onverbiddelik, wat van die genade nie die laaste woord maak nie, is geen ware oordeel nie.

  6. Zeindler sien die regverdige oordeel en die liefdevolle vryspraak nie as twee afsonderlike moontlikhede – asof die een of die ander elkeen van ons se voorland is – nie, maar as twee kante van dieselfde munt: God se triomferende liefde. Sowel die oordeel as die vryspraak is ons almal se voorland; die oordeel IS die genade, en sal daarom sowel “smartlik” as versoenend en verlossend wees. Vir almal.

  7. Ek ondersteun die strekking van jou artikel heelhartig: die moderne Christendom het geweldig afbreuk gedoen aan die “Godheid” van die bybelse God en die rykdom van die evangelie deur “die genadige God” te oorbeklemtoon.

    Ek stem saam dat Christene moet kan oordeel – hoe sal ek by voorbeeld anders “my vyand” kan liefhê?
    Hoe sal ek anders weet hoe ek haar/hom met liefde
    moet reghelp (Gal 6:1-3; Jak 5:19,20). My oordeel berus egter nie op persoonlike voorkeure of emosies nie, maar op die maatstaf van die onveranderlike Wet van God (“Is dit sonde, oortreding van die Wet?”).

    Om te veroordeel is iets anders – God se prerogatief, want alleen hy ken die harte en al die omstandighede(Rom 12:19-21). God se genadige oordeel is in volkome balans met sy regverdige oordeel – want hy is GOD.

    Dit is nie ‘n “cop out” vir ‘n Christen om in sekere omstandighede van sy/haar kant bloot te vergewe nie (al is daar onreg gepleeg en geen berou betoon nie)- dis ‘n daad van geloofsmoed en ‘n belydenis: daar is geen onreg of sonde wat nie uiteindelik bereg sal word nie en dus gaan ek my nie laat opvreet deur woede of wraak of bitterheid of vrees nie.

    Dit is die bevrydende krag van geloof in die oordelende God.

  8. jannel1 het gesê op November 8, 2009

    Is die huidige houding oor genade nie maar deels gekoppel aan die herhalende politieke revolusie tussen ‘liberaal’ en ‘konserwatief’ nie?

    Die mensdom kon nog nooit ‘n goue middeweg vind nie. Bestelle vorder van uiters konserwatief tot uiters liberaal, totdat dit ‘n keerpunt bereik en weer terugkeer na die ander uiterste toe. Is dieselfde nie besig om ook hier te gebeur nie? Van ‘n God van swaard, donder en oordeel tot ‘n allesvergewende God van genade.

    ‘n Keerpunt is dalk nou aan die een punt van die horison bereik en ons kan bes moontlik stelselmatig terugkeer na ‘n allesveroordelende God.

  9. “Aan die kruis, verduidelik nog ’n Switserse teoloog, Karl Barth, is God se oordeel oor die mense nie afgeweer nie, maar voltrek – dáárin lê ons verlossing.”

    Amen.

  10. Akkoord, behalwe dat ek liewer nie sal se die moderne teologie oorbeklemtoon die genadige God nie. Dit gaan nie oor oorbeklemtoning nie, maar oor misverstaan. Waarvoor Zeindler pleit, is nie minder klem op God se genade nie, maar eintlik sterker klem daarop, wat dan insluit ‘n beter, ryker verstaan daarvan as ‘n genade wat hom onder meer in oordeel uitdruk.

  11. Nee, ek dink nie ons moet na balans soek nie. Dit gaan nie oor ‘n bietjie meer of minder genade, of meer of minder oordeel nie. Dit gaan oor ‘n genade sonder grens, ‘n oneindige genade, wat juis as sodanig ook oordeel behels. Zeindler se groot punt is dat die twee nie teenoor mekaar staan of teen mekaar opgeweeg kan word nie. Wanneer Jesus se die waarheid maak vry, dan kan dit vertolk word as “die oordeel sal julle vry maak”. Die oordeel IS die genade.

  12. Jy mag reg wees, maar as jy is, dan is dit elkeen wat skryf se plig om so te probeer skryf dat mense daardeur aan die dink gesit word. Wat sou andersins die punt daarvan wees?

  13. Is dit ‘n oordeel wat afgehandel is en almal by die genade insluit? Is dit ‘n oordeel omdat jy anders gelowig of ongelowig is? Is dit ‘n oordeel omdat jy nie die “regte” morele dinge doen nie? Is dit ‘n oordeel gerig teen vergrype en ongeregtighede? En wat gebeur met die veroordeelde? Beide die wat die genade aangryp of nie aangryp nie?

  14. Vir Zeindler is die oordeel in wese ‘n ontploting van die waarheid – die waarheid oor elke mens in sy volle meersinnigheid en kompleksiteit. Juis daarom is dit sowel smartvol as bevrydend. Wat met die geoordeelde gebeur, is dan ook nie nog iets bykomends daartoe nie – die oordeel as ontbloting is wat met elke mens gebeur, en met die mensdom as geheel, en met die ganse skepping. Deel van die waarheid wat dan ontbloot word, is ook God se liefde en genade teenoor elke mens. Vir Zeindler beteken dit universalisme: dat niemand uiteindelik deur God verwerp word nie. Is dit afgehandel? Ja en nee. In die geskiedenis, in die erediens en so meer word die oordeel telkens weer voltrek, maar daar hoort altyd ‘n voorbehoud by. Vir Zeindler is die eskatologiese (“eind”-) oordeel belangrik – die verwagting dat daar eens volkome suiwer en waar geoordeel sal word.

  15. In Afrikaans en in ons kerk het die woord oordeel negatiewe konnotasies van straf en verwerping Zeindler breek daardeur (nogal bevrydend hoor)en as ek julle reg verstaan, sê dat die oordeel is nie ‘n stap tot iets anders nie, dis nie soos ‘n regter wat jou skuldig of onskuldig bevind nie.Dar volg nie iets daarna nie: dis inherent die finale daad van God. Dis die ware openbaring van God, die ontbloting, die raaisel in die spieel wat duidelik word, die boom van kennis en lewe wat een word.Daarom is dit volkome keniis en ewige lewe.
    Die mens sien sy self waarlik vir wat dit is, weet finaal wat sy wese is, sien God, is een met God, is soos Jesus in God en Hy in my soos Johannes skryf. Kan soos God sê ek is wie ek is. Dan is dit mos net liefde wat bestaan en om dit te sien, te wees, is genade. Die dualisime is opgehef, die skeiding is weg. Daar is net een waarheid. Dis seker wat met hemel bedoel word, né.

    En tog en tog. Is dit ‘n menslike denkkonstruksie? Die vraag is; as dit vir alle mense beskore is, het die mens die keuse om ja of nee te sê? Is dit daar wat die geween en gekners van tande plaasvind? Om finaal jou Self gelyk aan God op te hef? Want dis mos wat Lucifer gedoen het, om nie God se gesag te erken nie?
    Een laaste vrag wat ek mee worstel: Wat is die betekenis daarvan om te glo in die opstanding van die vlees? Stof keer immers tot stof terug en God is Gees. Iets rym nie.

  16. Dis inderdaad Zeindler se bedoeling om te breek met die negatiewe dualistiese siening van oordeel. Dis die verrassende en, soos jy dit stel, bevrydende aspek in sy betoog: dat die oordeel iets is waarna ons kan smag (ook al vrees ons dit!).

    Die opstanding van die vlees, soos ek dit verstaan (en dis myns insiens hoe dit in die Bybel ook verstaan word), gaan nie daaroor dat die materie waaruit jy of ek vandag bestaan (wat ander materie is as waaruit jy en ek bestaan het toe ons gebore is!) weer “gebruik” word nie. In daardie geval sou daar nie genoeg materie wees vir almal wat al geleef en gesterf het nie! Dit wil gewoon se dat die nuwe lewe nie ‘n spookagtige bestaan is nie, maar ‘n volwaardige lewe – meer volwaardig as die lewe wat ons nou ken. Daarvoor gebruik Paulus die wonderlik poetiese paradoks van ‘n “geestelike liggaam”. Zeindler koppel dit aan kommunikasie: Omdat ons liggame het, kan ons in relasie staan, kommunikeer, en in die nuwe lewe sal dit nie anders wees nie. Dit beteken nie ons weet hoe dit gaan “werk” nie.

    Oor Lucifer weet ek nie veel nie, behalwe dat mense dikwels veel meer daarvan lyk te weet as wat die Bybel daaroor se! Ek dink nie Zeindler sal vrede he met die idee dat daar ‘n deur en deur bose persoonlike wese bestaan nie. Ek vermoed hy sal die Satanfiguur eerder sien as ‘n simbool van als wat boos is. Die kerkvader Origenes het weer geleer dat selfs die duiwel op die ou end “gered” sal word. Daarmee het hy nie bedoel dat die bose vir ewig sal bestaan nie, maar dat daar nie ‘n wese bestaan wat deur en deur boos is nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.