Ja vir nuwe uitsaaiwetsontwerp

November 2, 2009 in Sonder kategorie

Indien ’n nuwe wetsontwerp aanvaar word, sal die finansiering van die SAUK nie meer deur TV-lisensies nie, maar deur ’n stewige toevoeging aan ons belasting, geskied. As dit ook beteken dat die openbare uitsaaier voortaan volledig deur die staat gefinansier word – met ander woorde, dat afgesien word van die huidige gemengde model waarvolgens die SAUK ’n groot deel (tans die grootste deel) van sy koste uit advertensiegelde moet delg, steun ek dié voorstel heelhartig, want eers dan sal ons ’n egter openbare uitsaaier kan hê.

Markfundamentaliste sal die teenoorgestelde voorstel: dat die SAUK geprivatiseer word en dan, soos enige kommersiële uitsaaier, sy eie gelde genereer. So kan staatsuitgawes verminder, en belasting verlaag, word (die hoogste goed vir die markfundamentalis), en sal ’n beter diens aan die publiek gelewer word (vraag en aanbod synde die “onsigbare hand” in wie se goedgunstige voorsienigheid markfundamentaliste hul vertroue stel). Ek is egter nie ’n markfundamentalis nie.

Uit ’n andersoortige hoek kan die beswaar dalk kom dat die SAUK se gedeeltelike afhanklikheid van advertensiegelde help om politieke onafhanklikheid te verseker. Sal ’n uitsaaier wat uitsluitlik van die staat afhanklik is vir sy finansiering nie slegs na daardie meester se pype dans nie? Bring die afhanklikheid van ’n tweede heer (ene Mammon) nie die nodige balans nie? Ek is nie so seker nie. Solank kommersiële uitsaaiers steeds toegelaat word om, naas die openbare uitsaaier, hul ding te doen – en veral om ook nuus te verskaf – sal meerdere stemme steeds gehoor word en sal daar grense wees aan hoe ver die openbare uitsaaier kan gaan met propagandistiese steun aan die partylyn.

Dit sal natuurlik ook help as die wetgewing tegelykertyd aangepas word om die onafhanklikheid van die SAUK-raad te versterk. Maar afgesien daarvan is dit nou maar eenmaal so dat geen openbare instelling se onafhanklikheid uitsluitlik van wetgewing en strukture afhang nie, maar ten minste ook deels van die optrede van diegene wat die instelling bestuur. Met verwysing na die regbank as ’n instelling wat veronderstel is om onafhanklik te wees, het regter Kriegler ’n keer aan pres. Brand van die Vrystaatse Republiek (geen verwantskap nie) se bekende uitlating herinner, spesifiek die woorde wat volg op “Alles sal regkom”, naamlik: “mits elkeen sy plig doen”.

Verder is dit buitendien twyfelagtig of die vrye mark noodwendig so ’n ideale heer is om, naas die staat, lojaliteit mee te deel.

Hoekom is ’n openbare uitsaaier nodig? Omdat daar ’n uitsaaier moet wees wat dinge kan uitsaai wat nie noodwendig kommersieel geregverdig kan word nie. Wanneer ’n egte openbare uitsaaier sy aanbod beplan, is sy belangrikste vraag nie “Wat wil die meeste kykers sien?” nie, maar eerder: “Watter soort inhoud sal ’n waardevolle diens aan die samelewing lewer?” Dit gaan dan nie net oor die inhoud (meer kwaliteitprogramme) nie, maar ook oor balans (’n verskeidenheid stemme en belangegroepe), ontwikkeling (meer plaaslike inhoud) en Grondwetlike prioriteite (gelykberegtiging van al die amptelike tale, byvoorbeeld). Die najaag van hierdie soort doelwitte kan eenvoudig nie op ’n winsgewende (en nog minder op ’n winsmaksimaliserende) grondslag gedoen word nie.

’n Ironie van die meer sosialistiese benadering tot ’n openbare uitsaaidiens wat ek verdedig, is dat dit op die langer termyn ook ekonomiese groei help stimuleer, al is dit nie die primêre doelwit daarmee nie. Immers, waar ’n vraag vir kwaliteit- inheemse inhoud in ’n verskeidenheid tale deur die staat geskep word, ontstaan nuwe markte en nuwe industrieë, wat op hul beurt nuwe kundigheid, ervaring en kreatiwiteit genereer.

Nog iets: Ek hoop dat, onder die nuwe benadering, die staat ook sal toesien dat sportuitsendings uit die gulsige hande van private uitsaaiers geneem, en aan die breë publiek teruggegee, sal word. As dit beteken dat professionele sport ook in gedrang kan kom …

* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.

48 antwoorde op Ja vir nuwe uitsaaiwetsontwerp

  1. Kyk, ek is nou nie ‘n kenner nie, maar dit klink my meer asof die belastingbetaler nou weereens die nie-belastingbetaler gaan moet dra. Soos oral die geval.
    Hoeveel belastingbetalers is daar teenoor nie betalers?
    Dink jy nie dit het hoogtyd geword dat die belasting betaler ‘n bietjie blaaskans gegun word nie?
    Maak nie saak in watter kleurvolle papier en linte hierdie besluit toegedraai word nie, dit bly maar net nog ‘n manier om die belastingbetaler te melk sodat die wat nie betaal nie, nog langer op hulle agterente kan sit en TV kyk.
    Dis maar my beskeie beswaar.
    1% van die belastingbetaler se jaarlikse inkomste
    1% van die besighede se jaarlikse omset
    Die res van uitsaailisensies en ander oorde.

  2. Beteken die wetsontwerp dat belastingbetalers niebelastingbetalers gaan dra? Ja, en dis die hele idee met belasting: dat mense wat dit kan bekostig meer betaal as mense wat dit nie kan bekostig nie. Soos een Amerikaanse regter dit gestel het: “Ek hou van belasting. Ek hou van die idee dat ek vir beskawing betaal.”

    Sit niebelastingbetalers meer TV en kyk as belastingbetalers? Ek twyfel.

  3. ek dink TV-lisensies is in elk geval ‘n klug en glad nie ‘n effektiewe befondsing-strategie nie. dis hoog tyd vir ‘n verandering.

  4. Die probleem is net dat ‘n handjievol moet sorg vir ‘n oormag 🙁 Maak nie werklik vir my sin nie.

    Maar soos ek gesê het, ek is nie ‘n kenner nie. Ek beskou maar die dinge en kan net my kop skud.

  5. Dit was altyd. Maar ongelukkig het die kwaliteit kykgenot so afgeneem dat groot maatskappye nie werklik wil adverteer nie.
    Voeg daarby PVR, almal skip oor die advertensies want dit is ‘n irritasie.
    Dalk as hulle die fatcats minder betaal het, sou hulle nie nou in hierdie verknorsing gesit het nie.
    En wat van die ‘slimboks’ wat almal gaan moet aanskaf as hulle 1,2,3 en free wil kyk. Ek dink hulle het besef dat slegs ‘n handjievol mense dit sal koop. Nou moet hulle kyk na ander befondsing.

  6. Ja, daaraan raak ek nie eens in my inskrywing nie, maar dis ‘n ewe sterk argument: die huidige model is gewoon onprakties.

  7. Gerrit, Maryke het ‘n punt beet die arme belasting betaalers moet vir al die nie betaalers dra en hoe lank gaan dit nog so aan gaan?
    As die SAUK lede nie geld links en regs gemors het op hulleself en onnodige programme nie sou hulle nie in die pekel gesit het nie. En die grootste skande was dat hulle een van die hoofde R6,2 miljoen uitbetaal het na al sy skelm streke!!!
    Maar enige saak het seker twee punte en hoe dit ookal sy die wet van Transvaal is nou oral van toepassing.

  8. Die wanbestuur van die SAUK is ‘n feit soos ‘n koei, maar dit kan myns insiens nie ‘n oorweging wees by die beoordeling van ‘n nuwe finansieringsmodel nie. Waar mense nie “hul plig doen” nie sal geld, waar dit ook vandaan kom, vermors word.

  9. ‘n Klassieke drogredenasie heet die “slippery slope”-argument. Die bedrog setel in die aanname dat ‘n stappie na links noodwendig op ‘n kommunistiese diktatuur afstuur, ‘n stappie na regs op ‘n fascistiese staat. Daar is geen noodwendigheid aan nie.

    Die BBC (Brittanje) en die ABC (Australie) word deur die staat gefinansier en is egte openbare uitsaaiers. Is Brittanje en Australie linkse diktature?

    Dit gaan hier ook nie oor “nasionalisering” nie, maar oor die finansiering van wat reeds van die begin af ‘n staatsbate was. Die SAUK het nog nooit aan iemand anders as die staat behoort nie en kan dus nie genasionaliseer word nie. (Nie dat nasionalisering noodwendig in alle gevalle dwaas is nie.)

    Gesondheid kan myns insiens gerus meer staatsbeheerd raak. In Wes-Europa betaal die staat vir mediese sorg, in die VSA die individuele verbruiker. Die eindresultaat? Wes-Europeers kry beter en goedkoper mediese sorg as Amerikaners.

    Dis eenvoudig ‘n mite dat private kapitaal ‘n instelling beter bestuur as wat ‘n regering dit kan bestuur. Trouens, daar is aanduidings tot die teendeel.

  10. As jy so sê. Die logika ontgaan my egter.

  11. Die logika ontgaan my nog steeds. Ek dink nie dis ‘n alles-of-niks-scenario nie.

  12. Daaroor is jy reg. Ek het geen illusies wat dit betref nie. As rykdom en geleenthede nie regverdiger verdeel word nie, is ons almal onder deur.

    Interessante begrip daai “hoy-poloy”. In Grieks beteken dit eintlik die gepeupel, die massa. In die Nuwe Testament is dit die “skares” wat vir Jesus rondgevolg het. Op die een of ander manier het die woord soos dit vandag in Engels en Afrikaans gebruik word presies die teenoorgestelde betekenis. Hoe het dit gekom?

  13. gcv het gesê op November 2, 2009

    M.b.t. jou stellings oor nasionalisering en ook gesondheidsorg: ek stem nie hier met jou saam nie. Eerstens, die verantwoording aan die publiek wat gepaard gaan met die daarstelling van ‘n staatsgefinansierde uitsaaier is nie ‘n sterk punt van die huidige bedeling in SA nie. Daarvoor is die regerende party heeltemal te sterk – in teenstelling met die situasie in Brittanje – ek kan nie opinie gee oor Aus nie. Opinies van die publiek word nie regtig in ag geneem nie (behalwe as daar met geweld gedreig en betoog word). So wie gaan besluit oor die inhoud van die uitsaaiprogrammatuur?

    Waarskynlik nie die wat daarvoor betaal nie.

    Verder – SA is nie gereed om toenemende staatsbeheer toe te pas nie – veral nie t.o.v. gesondheid nie. Daar is darem nog mediese praktisyns wat begrip het vir die behoefte aan meer inklusiewe gesondheidsorg, maar die groot kommer wat heers oor die gesondheidsplan, is dat die regering nie oor die vermoë besit om dit funksioneel te bedryf nie. Die voorspel hiertoe is die haglike situasie waarin die Ongevalle kommissaris tans is – dis ‘n staatsbedryfde vergoedings-instansie, wat minder as ‘n honderdste so klein is soos die beplande nasionale gesondheidsisteem. As dit nie eens funksioneel bedryf kan word nie, hoe sal dinge gaan as die Groot Plan in werking gestel word?

  14. Jy’s geregtig op jou mening, Neef! Wie besluit tans oor die inhoud op die SAUK? In elk geval die redaksie onder toesig van die raad. En hulle doen dit in elk geval onder politieke druk. Ek dink nie die feit van staatsfinansiering gaan veel daaraan verander nie. As daar geen ander uitsaaiers was nie, soos in ‘n kommunistiese land, sou dit ‘n ernstiger probleem gewees het.

    Oor gesondheidsorg kan ons debateer; dis ‘n komplekse kwessie. Ek is wel ten gunste van sterk regulering, maar dit hoef nie onmiddellik te beteken alles word deur die staat beheer nie. Ek is egter net so seker dat, indien die vrye mark die eerste en laaste woord spreek, ons almal daaronder sal ly. Die antwoord is balans; dis net die hoeveel van wat wat lastig is.

  15. Wie weet!

  16. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Wie besluit watter inhoud is goed vir die volk? En wie is die volk? Te oordeel aan die inhoud van die huidige model sit ons duidelik opgeskeep met inhoud wat ons nie tevrede stel nie anders sou daar nie ‘n behoefte vir DSTV wees nie. Hoekom moet ek help betaal aan inhoud waarin ek nie belangstel nie en in nuusdekking wat eensydig is. Hoekom kan ek nie my geld gebruik om te koop waarvan ek hou nie. Hoekom moet ek gedwing word om my skaars geld vir ander mense se plesier en belangstellings aan te wend? Ek stel nie belang in sokker nie want die sokker van hierdie land gaan oor die belange van sekere skatryk individue (sien onlangse koerantberigte in die verband.) Ek wil Springbok rugby sien. Voordat dit nie gewaarborg is nie, maak jou entoesiasme dat ander mense moet besluit wat goed is vir my, nie sin nie. Dra jy maar by daarvoor. Ek stel nie belang nie.

  17. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Gerrit, jou aanhaling: “Sit niebelastingbetalers (sic) meer TV en kyk as belastingbetalers? Ek twyfel”

    Hoekom twyfel jy?

    Omdat jou stelling ‘n subjektiewe opinie is. En die regter wat so gelukkig en tevrede is om vir beskawing te betaal het heelwaarskynlik soveel geld dat hy nie weet wat om daarmee te maak nie.

    Die realiteit is dat die middelklas hier in Suid-Afrika hulle gatte af werk om die pot aan die kook te hou en ten spyte daarvan nie weet of hulle more nog ‘n werk gaan hê nie. Daarvoor moet hulle spaar, maar die staat dreig om steeds nuwe maniere uit te dink om hulle te dwing om te ontspaar: verhoogde belastinglas op die 10% van die bevolking wat belasting betaal om voordele vir die res te koop soos ‘n openbare uitsaaier, kindertoelaes, 1ste wêreld gesondheidsorg. In die proses van belastingbetalers dwing om 1ste wêreld voordele vir hulself en 9 ander te koop word die belastingbetaler se eie finansiële posisie, veral met die oog op aftreesekuriteit, in gevaar gestel.

    Jou aanhaling van die regter wat so bly is om vir beskawing te betaal, gaan net sin maak as die regter in die RSA belastingbetaler se posisie is. In sy eie land het hy baie ander maatjies wat nog ryker as hyself is wat slegs ‘n paar ouens wat nie geld het nie, te moet help beskaaf. Nooi hom asseblief uit om hier in Suid-Afrika, elke maand, vir die beskawing te kom help betaal, laat hom betaal, en dan hoor ons wat hy daarop te se het. Dan eers, Gerrit, kan jy die regter met soveel hovaardigheid aanhaal hierso. Ek daag jou uit om dit te doen. Komaan. Laat weet ons asseblief wanneer die regter gaan begin geld neersit en hoeveel dit elke maand is. Toe man. Moenie uitchicken nie.

  18. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Gerrit, jou stelling: “Gesondheid kan myns insiens gerus meer staatsbeheerd raak. In Wes-Europa betaal die staat vir mediese sorg, in die VSA die individuele verbruiker. Die eindresultaat? Wes-Europeërs kry beter en goedkoper mediese sorg as Amerikaners” is uiters simplisties. Dit is ‘n growwe veralgemening sonder substansie. Jou stelling is op dieselfde logika vlak as om te beweer: “In Wes-Europa stel die meeste mense belang in sokker en daarom is hulle so kompeterend in sokker. Dus sal Suid-Afrika ook kompeterend wees in sokker as die meeste mense in Suid-Afrika sokker speel”

    Wel, die meeste mense in Suid-Afrika speel sokker maar selfs Finland, met ‘n bevolkingsgetal wat 1/3 van Soweto se bevolkingsgetal is, speel beter sokker as Bafoona-Bafoona.

    So, WTF? Jy sal moet syfers uithaal en wys pel. Jy sal die term “beter gesondheidsorg as” beter moet kwantifiseer man. Andersins is jou veralgemeende bewerings ongelukkig slegs subjektiewe prul.

  19. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Gerrit, jou stelling: “Interessante begrip daai “hoy-poloy” (sic). In Grieks beteken dit eintlik die gepeupel, die massa. In die Nuwe Testament is dit die “skares” wat vir Jesus rondgevolg het. Op die een of ander manier het die woord soos dit vandag in Engels en Afrikaans gebruik word presies die teenoorgestelde betekenis. Hoe het dit gekom?”

    Nou weet ek nie meer nie. Die woordeboeke op my boekrak se dat hoipolloi = gepeupel.

    Is jy eintlik ‘n pseudo-intellektueel wat probeer slim klink? As jy sulke snert kan kwytraak soos hierbo, hoe verwag jy dat mense jou moet ernstig opneem?

    As ek “Neef” of “Kamakazi” was het ek my nie eens verder verwerdig om te antwoord op jou kwasi-intellekteuele gebrabbel nie.

  20. Komodo, ek skryf: “In Grieks beteken dit (hoipolloi) eintlik die gepeupel, die massa.” Dan skryf jy: “Die woordeboeke op my boekrak se dat hoipolloi = gepeupel.” Die woordeboeke op jou boekrak bevestig dus wat ek geskryf het: die regte betekenis van “hoipolloi” is die massa, die gepeupel. Vind jy dit dan nie interessant dat baie mense die woord juis gebruik om die teenoorgestelde te beteken nie? Of ontken jy dat baie mense (soos kamakazi hieronder) die woord “hoipolloi” gebruik om na die room, die elite, die belangrike, “smart” mense, te verwys? Hier is vir jou ‘n voorbeeld uit Die Burger se Katonkel-rubriek: “Wat wou! vertel my vriend Japie Deetlefs van Velddrif, die visse wat aan sy hoek kom byt, is so hoipolloi dat hulle servette aansit, want hy wat Japie is, sit luukse pienk krewels aan sy hoek – teen R36 per kg.”

  21. Sjoe, Komodo, maar jy’s onstig! Ek is bly jy kan hier darem ‘n uitlaatklep vir jou woede vind, al is dit onder ‘n skuilnaam. Ek hoef nie die regter van Amerika te vra om hier belasting te kom betaal nie (ek het ook nie sy kontakbesonderhede nie); ek betaal mos self belasting. Toe in Europa gewoon het, het ek daar ook belasting betaal, ‘n groter persentasie van inkomste as hier. En dis nie waar dat net 10% van Suid-Afrikaners belasting betaal nie. Almal wat iets in SA koop, betaal verkoopsbelasting en dra so tot die fiskus by. Verder is die feit dat slegs sekere burgers inkomstebelasting betaal, en dat, van die burgers wat betaal, party meer as ander betaal, ‘n universele verskynsel. Geen land op die planeet, selfs nie die VSA met sy vryemarkfundamentalisme nie, vra ewe veel belasting vir almal, of laat almal inkomstebelasting betaal, nie. As dit jou grief dat jou belasting aangewend word om toelae vir armes te betaal, of basiese gesondheidsorg vir almal beskikbaar te stel, dan is ons meningsverskil een op die vlak van basiese waardes. Daar val moeilik oor te redeneer. Solank jy net onthou dat ek presies net so belastingpligtig soos jy is, en dat jou siening van belasting dus nie met noodsaak volg uit die ervaring van belasting betaal in SA nie.

  22. Oor die TV-kyk-gedrag van verskillende klasse: Ek reken as iemand beweer een klas (die armes) kyk meer TV as ‘n ander (die middel- en hogere klas), dan is dit seker vir daardie persoon om dit te bewys. Hoekom twyfel ek? Omdat ek sien hoe baie die middelklas voor die TV neergeplak is, en my nouliks kan voorstel dat enige mens dit nog meer kan doen. Kyk maar rondom jou. Hoekom dink jy koop mense TV-kontrakte met tientalle kanale? Omdat hulle nie tyd het om TV te kyk nie?

  23. Jy vra: “Hoekom kan ek nie my geld gebruik om te koop waarvan ek hou nie?” Die ding is net: jy kan…

    Hoekom moet jou belastingbydrae gebruik word om vir uitsendings aan ander mense te betaal? So werk dit nou maar eenmaal in enige moderne staat: Die burgers betaal belasting en die demokraties verkose regering bestee dit soos hy goed dink.

    Hoekom die nodigheid vir DSTV? (Is dit nodig?) Seker om dieselfde rede as in enige ander land (soos onder meer die VSA) wat ‘n openbare diensuitsaaier het: om meer kyk- en luisteropsies te kan geniet. Die logika is eintlik eenvoudig: Mense met genoeg geld kan betaal vir uitsaai-inhoud wat hulle verkies; kommersiele uitsaaiers sal dus in daardie behoeftes voorsien. Die openbare uitsaaier moet toesien dat ook diegene wat nie so baie geld het nie, goeie inhoud kan sien en hoor.

    Wie is die volk? Ons almal. Minderhede, meerderhede, mans, vrouens, wit, swart, jonk, oud, rock-entoesiaste, klassiekemusiek-liefhebbers, noem maar op. Die taak van ‘n openbare uitsaaier is om te sorg dat daar, sover moontlik, vir elke groepie darem iets is wat tot hulle ook spreek. Hoe word dit bepaal? Net soos die skoolcurriculum bepaal word: Die besluitnemers probeer maar hul bes.

  24. Miskien die hewigste politieke stryd in die VSA op die oomblik gaan juis oor die feit dat mediese sorg te duur is, en dat nie almal toegang daartoe het nie. Ontken jy dit? Vir ‘n interessante vergelyking tussen gesondheidsorg in die VSA en Europa, kyk: http://www.nytimes.com/2006/10/18/business/18leonhardt.html?_r=1

  25. Komodo het gesê op November 3, 2009

    “As dit jou grief dat jou belasting aangewend word om toelae vir armes te betaal, of basiese gesondheidsorg vir almal beskikbaar te stel, dan is ons meningsverskil een op die vlak van basiese waardes.

    Gerrit, nee, nou matig jy jouself goed aan wat ek nie gese het nie. Ek vind geen fout daarmee om belasting te betaal om die basiese dienste te verskaf wat die staat tans verskaf nie. Staatshospitale se probleem is dat hulle weens wanbestuur post-94 gedegenereer het van instellings van uitnemendheid na hole waar ek dink geen mens sy voet sal wil sit as hy dit kan verhelp nie.

    Jou opmerking oor hoer persentasie persoonlike belasting wat jy in Europa as in RSA betaal moet jy vergelyk met die ekstra belasting wat ons hier betaal: skoolgeld, sekuriteit, private gesondheidsorg omdat staatshospitale verval het, private vervoer, ens. Hoeveel mense in Europa MOET privaat vervoer he? Hoeveel belastingbetalers in RSA moet private vervoer he om by hulle werk uit te kom en besigheid te doen omdat openbare vervoer hierso so oneindig ontoereikend is? Jy is duidelik besig om appels met pere te vergelyk, Gerrit. DINK, voordat jy sulke simplistiese stellings maak. Asseblief. Vergelyk dan ook die persentasie maatskappy belasting wat aandheelhours aan die staat moet verbeur voordat hulle dividende uitgekeer word met dit wat in Europa geld. Dan praat ons weer.

    En ja, my punt is, moenie die regter hier kom aanhaal as hy van sy eie land praat en nie van die RSA nie. Laat hy eers wys hy is bereid om 1ste wereld standaard gesonheidsorg te betaal vir baie meer mense in die RSA wat dit nie kan bekostig nie as wat hy in die VSA voor hoef te betaal. Dan eers hou sy uitlating water vir my.

    Om by ‘n fyner puntjie uit te kom: waarom is staatshospitale en klinieke nou skielik nie meer goed genoeg nie? Kom ek gebruik jou renenasievlak deur ‘n stelling wat jy gemaak het so effens op ‘n ander terrein toe te pas: Het die werklose massa wat post-94 skool verlaat het hulle gatte afgewerk om geleerdheid te kry? Ek dink nie so nie. So waarom moet hulle 1ste wereld gesondheidsorg kry as daar goeie staatshospitale en klinieke is waar van die beste medisie ter wereld werk? Nou is dit nie ‘n morele kwessie nie, maar ‘n kwessie van “ek wil ook he”. Onthou die slagoffer mentaliteit van jou vorige pos?

  26. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Gerrit, om verder te reageer op jou bewering dat dit gewens is om gedwing te word om ‘n ekstra gerfie van ons persoonlike geld aan belasting af te staan vir die SAUK : Die regering het sy onverantwoordelikheid in die bestuur van belasting oor-en-oor bewys: In plaas daarvan om die agtergeblewe skole post-94 op te hef na Model C-standaard, is ‘n idealistiese Uitkomsgebaseerde stelsel op almal afgedwing. Ek hoef nie die gemors wat dit veroorsaak het aan jou uit te spel nie. Verdere voorbeelde is: HOP-huise, 3de vlak regering, staatshospitale, ESKOM, SAA, SAUK, Departement van Binnelandse Sake (Laat die VK se ambasade jou ‘n bietjie inlig omtrent die gemors daar), nopotisme en korrupsie wat hoogty vier, ek hoef nie te se tot waar dit strek nie.

    En dan dink jy dis ‘n goeie ding as nog meer van ons persoonlike geld deur hierdie regering gevat word om nog iets ekstra in die belang van die massas te bestuur?

    Asseblief, Gerrit, man.

    Dan die nuwe gesondheidsorgstelsel. As dit bedoel is om die hoipolloi toegang te gee tot privaat hospitale is dit bitter ironies: dit is mos die uiterste vorm van erkenning dat staatsinstellings, nl, staatshospitale, nie werk nie!

    Oor jou stelling dat ek vies klink: Ja Gerrit, ek raak vies wanneer daar snert die wereld ingestuur word wat dalk my eie sak mag raak.

  27. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Gerrit, oor die betekenis van hoipolloi moet ek bieg dat ek jou aanvanklike kommentaar hieroor verkeerd verstaan het.

    Ek verstaan hoipolloi slegs as gepeupel, of “die gewone mens”, en nie as die elite nie. Ek vermoed dat die woord in laasgenoemde geval verkeerd aangewend word soos in jou aanhaling uit die koerant. Die feit dat die woord op die verkeerde manier in die koerant gebruik word is dalk eerder ‘n refleksie op die rubriekskrywer se kennis (of dan gebrek aan kennis) as wat dit ‘n aanduiding is van die algemeen aanvaarde betekenis van die woord. Stem jy saam?

  28. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Om terug te kom na die vraag wat jy in jou pos aan die orde stel: Moet ons nie verder teruggaan en eers die volgende vraag beantwoord nie: “Watter morele reg het die regering om ‘n swaarder belastinglas op die publiek af te forseer voordat die regering nie eers die belastingbetalende publiek se geskende vertroue in sy vermoe om belastinggeld verantwoordelik te bestuur herwin het nie?”

    Kom ons kry eers hieroor uitsluitsel, of wat dink jy?

  29. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Nog ‘n ding waaroor ek wonder, Gerrit, dink jy werklik dat die ekstra belasting wat onder die voorwensel van “RED DIE SAUK” gehef gaan word vir die SAUK aangewend gaan word? Dink “brandsotfbelasting wat kwansuis vir padonderhoud gehef is” vir ‘n leidraad.

    Miksien moet ek en jy ‘n bietjie meer sensitief raak vir die moontlikheid dat die aangename gekriewel wat ons soms in ons ore mag voel nie noodwendig veroorsaak word deur iemand wat ons ore wil skoon maak nie maar dalk deur iemand wat besig is om ons deur die ore te werk, as jy my kru metafoor sal verskoon.

    Overgezet zynde: jou entoesiastiese ondersteuning vir die voorgestelde SAUK-belasting spruit dalk meer uit idealistiese naiwiteit as realistiese pragmatisme.

  30. Ek dink twee vrae moet duidelik van mekaar onderskei word: 1) Behoort die openbare uitsaaier volledig deur die staat gefinansier te word? En: 2) Is daar korrupsie en wanbesteding in openbare instellings?

    Die wanbesteding in die SAUK (die raas is darem afgedank) het plaasgevind onder die huidige finansieringsmodel, waarin die belastingbetaler slegs 20%, en die private sektor 80% (deur advertensiegelde) opgedok het.

  31. Wel, dis nogal ‘n komplekse vraag, maar laat ek probeer. Die regering ontleen sy reg om belasting te hef en te bestee aan die feit dat hy demokraties verkies is. Dit bied geen waarborg dat die regering goeie besluite neem nie, maar dit gee die regering die reg om (ook dom) besluite te neem. Dis die aard van demokrasie. As die meerderheid kiesers nie hou van hoe die regering belasting invorder en bestee nie, kan hulle die regerende party uitstem. Wat my betref moes dit lankal gebeur het, maar ek weet ook dit gaan nie gou gebeur nie. Dis die prys van demokrasie, en ek is ‘n demokraat. In hierdie spesifieke geval gaan dit oor ‘n spesifieke voorstel: dat die openbare uitsaaier volledig deur die staat gefinansier behoort te word. Ek dink dit moet, ongeag watter party aan bevind is.

  32. Ek weet nie. Het ‘n woord ‘n “regte” betekenis? (Ek weet ek het self hierdie frase gebruik.) Die betekenis van ‘n woord is immers die gebruik wat daarvan gemaak word. As verskillende mense dieselfde woord verskillend gebruik, beteken dit daardie woord het verskillende betekenisse vir verskillende mense. En as ‘n woord later anders as vroeer gebruik word, beteken dit die woord se betekenis het oor tyd heen verander. Die betekenis van ‘n woord kan dus sowel diakronies as sinkronies wissel. Dis duidelik was met “hoipolloi” gebeur het – al gee die Afrikaanse woordeboeke (ook die nuwe Pharos) nog nie erkenning daaraan nie. (Nog ‘n terloopse interessantheid oor “hoipolloi” is dat die “hoi”-gedeelte in Grieks die lidwoord is en die “polloi”-gedeelte die eintlike naamwoord. Selfs die “ortodokse” woordeboek-betekenis (-gebruik) van die woord wyk dus van die oorspronklike Griekse betekenis af, aangesien dit die gebruik van ‘n addisionele lidwoord – “die” – impliseer. ‘n Taalpuris sou nie van “die hoipolloi” moet praat nie, maar van “die polloi”.)

  33. Jy skryf: “As dit bedoel is om die hoipolloi toegang te gee tot privaat hospitale is dit bitter ironies.” Wie se bedoeling het jy in gedagte? Ek weet die departement van gesondheid hou ‘n ogie op die tariewe van private hospitale en so meer, en ek is dankbaar daarvoor, al behoort ek tot die bevoorregte middelklas. As daai ouens toegelaat word om te vra net wat hulle wil (dis in die VSA bewys), sal hulle ons al hoe meer vir al hoe minder laat betaal. Dit sou dan tot gevolg he dat al hoe meer van ons wat tans van private gesondheidsorg gebruik maak van dioe openbare gesondheidstelsel afhanklik sal word, bloot omdat ons nie meer kan bekostig om private gesondheidsorg te koop nie.

  34. Jy vra: “Het die werklose massa wat post-94 skool verlaat het hulle gatte afgewerk om geleerdheid te kry?” Ek dink nie dis die soort vraag waarop ‘n antwoord gegee kan word nie. Party het. Party het nie. En as ek so na die bevoorregte middalklas-mense rondom my kyk en ek sou vra: “Het hulle hulle gatte afgewerk vir dit wat hulle nou geniet?”, dan sou die antwoord ewe gemeng wees. Party het, party het nie.

  35. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Jou stelling: As daai ouens toegelaat word om te vra net wat hulle wil (dis in die VSA bewys), sal hulle ons al hoe meer vir al hoe minder laat betaal. Dit sou dan tot gevolg he dat al hoe meer van ons wat tans van private gesondheidsorg gebruik maak van dioe openbare gesondheidstelsel afhanklik sal word, bloot omdat ons nie meer kan bekostig om private gesondheidsorg te koop nie.” laat my vermoed dat jy nie weet hoe die vryemark stelsel werk nie.

    ‘n Tekortkoming van jou redenasies is dat jy geneig is om terloops te verwys na wat elders gebeur het sonder om dit behoorlik toe te lig. Dit laat dit klink asof jy iets weet waarvan ons nie weet nie en dat ons jou moet glo sonder dat jy bewys dat jy iets beet het. Jammer, maar jou vae bewering “dit is in die VSA bewys” hou nie water nie totdat jy dit behoorlik toegelig en bewys het.

    Om aan te haak by jou stelleng van hierbo: “Dit sou dan tot gevolg he dat al hoe meer van ons wat tans van private gesondheidsorg gebruik maak van dioe openbare gesondheidstelsel afhanklik sal word, bloot omdat ons nie meer kan bekostig om private gesondheidsorg te koop nie.” totdat ‘n entrepreneur soos ek of jy die gaping wat die belaglike pryse in die mark veroorsaak eksploiteer en die pryse terugbring na ‘n realistiese vlak. Ons verkoop dan aandele van ons nuwe hospitaal aan die publiek sodat ons nog hospitale kan oprig wat verdere mededinging in die mark veroorsaak en waarde vir ons aandeelhouers skep. Indien ons, ons pryse te hoog wil opstoot sal dit weer vir die volgende entrepreneur ‘n gaping in die mark skep en so aan, en so aan. Terloops, hierdie scenario is ook in die VSA bewys.

  36. Jou geloof in die onsigbare hand van die vrye mark is sterker as myne.

  37. Komodo het gesê op November 3, 2009

    “Jou geloof in die onsigbare hand van die vrye mark is sterker as myne.”

    Dis in die VSA bewys.

  38. Komodo het gesê op November 3, 2009

    “Ek dink twee vrae moet duidelik van mekaar onderskei word: 1) Behoort die openbare uitsaaier volledig deur die staat gefinansier te word? En: 2) Is daar korrupsie en wanbesteding in openbare instellings?

    Die wanbesteding in die SAUK (die raas is darem afgedank) het plaasgevind onder die huidige finansieringsmodel, waarin die belastingbetaler slegs 20%, en die private sektor 80% (deur advertensiegelde) opgedok het.”

    En jou punt is?

    En op watter manier beantwoord hierdie antwoord my vraag: “Nog ‘n ding waaroor ek wonder, Gerrit, dink jy werklik dat die ekstra belasting wat onder die voorwensel van “RED DIE SAUK” gehef gaan word vir die SAUK aangewend gaan word? Dink “brandsotfbelasting wat kwansuis vir padonderhoud gehef is” vir ‘n leidraad?”

  39. Komodo het gesê op November 3, 2009

    O ja, ek lees vandag op Moneyweb dat die regering die beplande gesondheidsorgstelsel vir so ‘n wyle eers eenkant toe gaan skuif. Mag ons hoop dat dieselfde met die belastingplan omtrent die SABC gaan gebeur?

    Dit is wat een van die ouens op die uitstel van die NHI te se gehad het en ek deel sy sentimente heelhartig, ook in verband met die SAUK (skuus, SABC)-plan:
    For a state which cannot even produce an I.D document nor fix potholes in major roads to claim that it can actually plan, implement, manage, and control a N.H.I. is either hubris gone completely cuckoo or else just plain thick.
    I opt for the latter.
    In any event this is another elephantine cost centre in an economy full of cost centres but helplessly short of profit/growth centres

    Ek haal aan uit die berig: “Said one top consultant, who did not want to be named: “The people drafting the plan lack the technical capacity to move beyond superficial recommendations that do not take into account financial and other constraints.” Hierdie stand van sake is tipies van staatsinstellings. Waarom kan ons iets anders van die SAUK (skuus, SABC) verwag, Gerrit?

    Ek haal verder aan uit die berig: “Van der Berg and Mcleod found that a payroll tax of over 17% would be needed to fund such a conservatively estimated revenue need.

    “Alternatively, to fund the NHI through an income tax would require tax rates to increase by 85% across the board – the top marginal tax rate of 40% would have to rise to 74%!”

    Enige kommentaar omtrent die haalbaarheid van die NHI, Gerrit? En wanneer gaan ons die hole wat eens staatshospitale was op standaard bring, Gerrit?

    Methinks dat jy in ‘n ivoortoring bly, Gerrit. Trek ‘n bietjie jou sandale aan en kom stap tussen die hoipolloi rond, Gerrit. Dan kan ons oor die realiteit van ons samelewing gesels en ophou lugkastele najaag.

    I rest my case.

  40. Glo jy in die “onsigbare hand”-beginsel omdat die geldigheid daarvan in die VSA bewys is?

    Ek wil net seker maak ek verstaan jou opmerking voordat ek verder kommentaar lewer.

  41. Komodo en Gerrit, julle argumenteer soos mans wat ‘n potjie muurbal speel. Dit is meestal interessant om dop te hou, maar ek dink nie dit gaan iewers heen nie.

  42. Shame Gerrit. Lyk my niemand stem saam met jou nie 😉

    Dit is seker omdat almal van ons wat op Litnet blog in ‘n ras/klas/taal-boksie vassit waaruit ons moeilik kan ontsnap. As ‘n mens wit, gegoed en Afrikaans is dan sê daardie boksie vir jou jy is die enigste hardwerkende, intelligente, belastingbetalende, gekultiveerde groepie Suid-Afrikaner wat bestaan. Daardie boksie het ook nie juis vensters waardeur jy kan uitkyk na die buite-wêreld nie; al wat jy sien is die skrif teen die kartonmuur en daardie skrif lees: “apokalips”. Binne daardie boksie is dit absoluut verregaande om te verwag dat ‘n mens enigsins belasting moet betaal aan die vyand, ek bedoel “staat”. Wat nog te sê van ekstra belasting vir die SABC!

    Nou ja. Natuurlik bly ek ook, meestal rustig, in hierdie boksie en natuurlik kan ek nie pretendeer dat ek heeltemal buite hierdie boksie kan staan nie. Net soos ander boksbewoners dink ek die SABC suck; en net soos ander boksbewoners is ek nie lief daarvoor om al hoe meer en meer belasting te betaal nie. Ek wil eerder spaar vir my oudag, of ten minste KFC koop.

  43. Ek dink net ‘n mens moet onderskei tussen hoe dinge IS en hoe dinge BEHOORT te wees.

    Net omdat die staat nie NOU na die beste van haar vermoë funksioneer nie, beteken dit nie dat almal, byvoorbeeld, moet ophou belasting betaal nie. Dit beteken ook nie dat ‘n mens “idealistiese”, ek sal dit self eerder “goeie” idees noem, moet afskiet net op grond van ons vrees dat dit gaan nie uitwerk nie.

    Dit is, volgens my, die eintlik resep vir ‘n tragedie in hierdie land: as almal hulself heeltyd net gaan blindstaar aan die sogenaamde “feite” (lees: persepsies van hoe dinge nou is); en dan nie die moontlikhede wat op hande is wil/kan bewerk nie.

    Die toekoms is tog nie ‘n one-way street nie!

  44. Jammer. Ek sien my kommentaar het in drie aparte dele verskyn.

  45. Komodo het gesê op November 3, 2009

    Nee, dis slegs ‘n sarkastiese inspeling op ‘n soortgelyke gladde stelling wat Gerrit vroeer gemaak het. Die woorde ‘”onsigbare hand”-beginsel’ kom trouens nie in een van my skryfsels voor nie.

    Ek glo wel wat ek daagliks om my sien en ervaar: as daar ‘n gaping in die mark is, gaan daar ‘n entrepreneur kom wat dit gaan vat. Voorbeeld: die pryse van sementpype was die afgelope paar jaar blykbaar heelwat hoer as wat die insetkostes geregverdig het. ‘n Siviele ingenieur het gesien dat hy ‘n soortgelyke onderneming kan begin en dieselfde produkte teen ‘n billiker prys verskaf. Laas wat ek gehoor het, het hy nogal goed gedoen vir homself. En weet jy, as hy sy onderneming sou verkoop wat hy self van die grond af gebou het, hoef hy waarskynlik vir die res van sy lewe nie te werk nie.

  46. Sjoe dis ‘n ingewikkelde probleem. Ek self kyk graag vanuit ‘n kunste-hoek vol hoop na die voorbeeld wat die moederskip van verantwoordelike TV nl. die BBC stel. En glo dan dat programme wat deur die staat gefinasier word noodwendig beter sal wees as dit wat deur die mark gedryf word.Let wel, ek laat nuus en aktualiteit buite rekening want ons weet mos nou al dat dit nie werk in staatsbesit nie. En as jy al vergeet het, vra maar vir Berlusconi. En natuurlik word jou kuns en opvoedkunidge programme veel beter as die staat die rekening betaal. Maar so eenvoudig is dit nie. Helaas sit die BBC kniediep in die knyp en moes hulle die afgelope jare kwaai sny aan begrotings. TV is peperduur om te maak – jy kom nooit regtig los van die ekonomiese (lees komersiële) sy nie. Hier waar ek woon in Kaasland is daar ‘n reuse aanbod van staats- en komersiële kanale. En ja, die staatskanale saai amazing stuff uit. Maar die demografie maak dit moontlik. Klein landjie met ‘n baie ryk staat en welvarende burgers wat redelik homogeen is. En daar waar die staat nie bykom nie, tree groot borgskappe graag in sonder om werklik die inhoud te dikteer (opera, skone kunste, boekprogramme en kinder TV). As die SABC een, hoogstens twee kanale hou, al die groot sportuitsendings wat baie geld kos laat vir komersiële stasies en die ongelooflike swaar topstruktuur laat vaar, kan dit dalk selfs werk … wie weet. O ja, in Nederland saai die staatskanale tog maar ook advertensies uit om die koffers aan te vul…

  47. Komodo het gesê op November 4, 2009

    Die volgende aanhaling is tipies van die ondervinding van die hoipolloi wat aan ‘n etniese minderheid in die RSA behoort:
    “sabc
    why moan when everything falls on deaf ears….
    i pay for medical aid because i prefer to know i will have care should something happen and what NHI is the govt’s solution.
    SABC tax – i dont watch SABC, i watch dstv but i pay for the tv . .more licence as it’s called. all the years my parents paid without skipping for what.
    I dont get to watch what i want- we are not catered for.
    why cant we have a more democratic system where we can choose without being forced.
    Where has the government lost there ideals.
    SABC is financially challenged – list the company – privitize it.
    The company will profitize as it will be profit driven.
    Come 2010 – hd braodcast – those who don’t pay will be bailed out- we that pay will certainly pay for the rest.
    All working class people should stand together and refuse to pay the taxes as a protest. we dont have to burn things, loot or damage other peoples belongings- lets bring the economy to a standstill.
    im sure then we will be cherished and not exploited for the little we have….”

    Kom ons debateer ‘n bietjie oor die etiek van die wil van die etniese meerderheid wat op die magtelose etniese minderheid afgedwing word d.m.v. ‘n belasting waaroor die etniese minderheid vir alle praktiese doeleindes geen se het nie.

    En kom ons debateer oor die morele en etiese kwessies van ‘n belastingkoers van 74% om aan die volk ‘n NHI te verskaf.

  48. “Alles sal regkom,” seg Jan Brand – maar hy het nie gesê wanneer nie. 🙂
    Jou punt is baie goed gestel. Stem nie orals heeltemal saam nie, maar dit het my weer laat dink.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.