Of ‘n sekulêre staat moontlik is
September 25, 2009 in Sonder kategorie
Ek het gister na ’n lesing, “No Priority for the Secular”, deur die Sweedse filosoof Marcus Agnafors, gaan luister. Hy ontleed die begrip “sekulêr” soos dit akademies én populêr gebruik word, en beoordeel krities ’n aantal gewilde argumente ten gunste van ’n sekulêre staat. Breedweg vertolk hy “sekulêr” as nie-religieus of, soos hy dit stel, op ’n afstand van godsdiens, en vind hy die gangbare argumente vir sekularisme – die oortuiging dat die staat sekulêr móét wees – nie oortuigend nie.[1]
Gesien die hernieude omstredenheid oor godsdiens in ons openbare skole is Agnafors se vraagstelling uiters relevant. Die vraag wat dit by my oproep, is egter nie of ’n sekulêre staat – ’n staat sonder religieuse lojaliteite of verbintenisse – wenslik is nie, maar of dit hoegenaamd moontlik, of selfs denkbaar, is.
Wanneer is ’n menslike verskynsel “religieus”? Die relatiewe religiositeit of godsdienstigheid van ’n samelewing word soms “gemeet” deur vas te stel hoeveel van sy lede in die bestaan van God, of ’n “hoër wese”, glo. Maar is dit ’n goeie maatstaf? Boeddhiste word allerweë as religieus beskou, maar geloof in die bestaan van ’n opperwese is nie deel van hul religie nie, en pleitbesorgers vir sekularisme sal sekerlik ewe min vir ’n Buddhistiese as vir ’n Christen- of Moslemstaat te vinde wees.
Die religieuse het te doen met die absolute. Volgens die kerkhervormer Martin Luther is ’n mens se god “dit waaraan jou hart vasklou”. Die teoloog Paul Tillich beskryf dit as ’n mens se “ultimate concern”, maar ook “the ground of being” en “being itself”. Vincent Brümmer, ’n godsdiensfilosoof, praat van die “primêre sinsdeterminant”, waaraan ek sou toevoeg die “primêre synsdeterminant”. En Bob Dylan sing: “You’ve gotta serve somebody …”
Hoekom is daar iets, en nie niks nie? Hoekom is dit soos dit is, en nie anders nie? Wat is die sin van dit alles? Wat maak uiteindelik, onvoorwaardelik, saak? Vrae soos dié is religieuse vrae.
Elke mens lewe, handel, oordeel, kommunikeer – hetsy implisiet of uitdruklik, bewustelik of onbewustelik – vanuit wat hy of sy as die aanneemlikste antwoorde op sulke vrae beskou. Meer nog, die korrektheid van hierdie basiese vertrekpunte waarmee almal leef, kan nie empiries nagegaan word nie; ons oortuigings oor die absolute is metafisies van aard – daar is nie neutrale kriteria waaraan hul graad van aanneemlikheid met universele instemming getoets kan word nie.
Ook die politiek en staatsbestuur is hieraan onderworpe. Agter politieke praktyke, instellings, debatte en maneuvers sit sekere aannames oor wat uiteindelik werklik, moontlik en wenslik is. Daar kan nie ’n neutrale staat wees nie, en dus ook nie ’n sekulêre (in die sin van ’n nie-religieuse) een nie.
Die Accra-verklaring van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke tipeer die bewering dat daar “geen alternatief” vir kapitalistiese globalisering, met sy vernietigende gevolge vir mens en omgewing, is nie, as “afgodery”. Met ander woorde, die ideologie van TINA (“there is no alternative”) is ’n (vals) religie. So is dit. Religie kan nooit uit die openbare domein verban word nie, want enige domein waarop mense handel, is religieus gekleur – gemerk deur uitgangspunte oor die absolute.
Wat wel haalbaar (en, na my mening, wenslik) is, is dat die staat hom nie amptelik by één religieuse tradisie skaar nie, maar as ’n ruimte funksioneer waar botsende oortuigings oor die absolute vreedsaam kan wedywer: ’n staat gewikkel in ’n nimmereindigende debat oor sy eie telos. Iets soos ’n liberale demokrasie, dus.
* Stuur ’n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
[1] Agnafors het sy lesing baie uitdruklik as ’n voorlopige denkeksperiment, en daarom onaf, aangebied en gevra dat daar nie woordeliks uit die teks aangehaal word nie.
Onlangse kommentare