Natuurwetenskappe het nie substansie nie Repliek op Jurie van den Heever
Augustus 24, 2009 in Sonder kategorie
Galileo Galilei is deur die Katolieke Kerk van sy tyd verbied om hom krities uit te laat oor die leer van die transsubstansiasie, waarvolgens “die brood en wyn tydens die sakrament (van die eucharistie) werklik in die liggaam en bloed van Christus verander”, vertel die Stellenbosse bioloog Jurie van den Heever in ’n onlangse rubriek. Tereg is hy verontwaardig hieroor. Hy het dit egter nie net teen die destydse kerk se outoritêre onverdraagsaamheid nie, maar ook teen die leer van die transsubstansiasie self, en veral die feit “dat die Katolieke Kerk steeds die Heilige Sakrament van die Altaar bedien asof die bygeloof van transsubstansiasie werklik plaasvind”.
Hy redeneer so: “Vandag is dit algemeen bekend dat materie nie skielik van een soort in ’n ander soort kan verander nie en dat transsubstansiasie wensdenkery is. Galileo, as voorste wetenskaplike van sy tyd, het … dieselfde bevinding gemaak … Ons het dus hier te doen met ’n geval waar die wetenskap bo alle redelike twyfel reeds uitsluitsel oor die bestaan van ’n verskynsel gegee het. Die kardinale vraag is dus waarom die amptelike beleid van die (Katolieke) Kerk volgelinge steeds mislei.”
Nou moet dit uitgewys word dat Johannes Calvyn, wat vanjaar 500 jaar gelede gebore, en in die geboortejaar van Galilei oorlede, is, nes die ander hervormers sedert Martin Luther, reeds die leer van die transsubstansiasie afgewys het – op teologiese gronde. Dit sou dus onakkuraat wees om voor te gee dat Galilei die eerste was om transsubstansiasie te ontken, of dat argumente teen transsubstansiasie in Galilei se tyd onbekend was aan die kerklike publiek sodat dit (a lá The Da Vinci Code) toegesmeer kon word.
Dis myns insiens ook onbillik om vandag se Katolieke Kerk daarvan te beskuldig dat hy “volgelinge … mislei” deur die leer van die transsubstansiasie te predik – so asof dié kerk wetenskaplike feite probeer verdoesel! Immers, baie natuurwetenskaplikes wat Katoliek is, glo in transsubstansiasie. Daar is niks teenstrydigs aan nie, want die feit “dat materie nie skielik van een soort in ’n ander soort kan verander nie” – Van den Heever dink hier aan “aan die pogings van die alchemiste van ouds om byvoorbeeld edelmetale uit mindere metale te skep” – is eenvoudig nie ter sake wanneer dit by die beoordeling van die transsubstansiasieleer kom nie.
Eerstens kan die natuurwetenskappe nie bepaal of ’n wonder, verstaan as ’n afwyking van natuurwette, kan plaasvind nie, omdat die vraag of so iets kan gebeur metafisies van aard is – nie vatbaart vir empiriese toetsing nie. Tweedens – en belangriker – is dit in elk geval misleidend om die transsubstansiasieleer voor te stel as sou dit op ’n soort alchemiese wonder neerkom. Wat die Katolieke Kerk leer, is dat die substantia (essensie of wese) van die elemente (die brood en wyn) verander, terwyl die accidentia (waarneembare eienskappe) onveranderd bly.
Chemici klassifiseer verskillende soorte materie, soos die verskillende edel- en mindere metale, uitsluitlik met verwysing na hul empiries agterhaalbare eienskappe (hul accidentia, dus), en waag geen uitlatings oor hul essensie of wese (hul substantia) nie. Tereg ook, want empiriese wetenskappe kan niks oor nie-empiriese, metafisiese sake sê nie.
Wat die leer van die transsubstansiasie (letterlik: substansieverandering) oor die verandering in die brood en wyn bely, is dus nie strydig met die stelling “dat materie nie skielik van een soort in ’n ander soort kan verander nie”. Inteendeel, die leer van die transsubstansiasie beklemtoon juis dat die accidentia, die waarneembare eienskappe, onveranderd bly – dat, in die taal van die moderne wetenskap – die wyn en brood nie “in ’n ander soort materie verander nie”.
Sommige moderne Katolieke teoloë verstaan die term transsubstansiasie as “transfinalisasie” (verandering van doel) en “transsignifikasie” (verandering van betekenis). Daar is ’n saak voor uit te maak dat, in die Aristoteliese denke, wat ten grondslag aan Middeleeuse teoloë soos Thomas Aquinas se ontleding van die eucharistie lê, iets se “substansie” juis sy gerigtheid, sy bestaansdoel en -sin, is. In die viering van die eucharistie kry die brood en wyn ’n nuwe doel en betekenis, want deur hierdie elemente ontmoet die gelowiges vir Christus, net soos hy, tydens sy aardse lewe, deur sy fisieke liggaam tasbaar ontmoet is. Dit wil sê, in die konkrete, tasbare elemente van wyn en brood word Christus as ’t ware beliggaam.
Synde ’n Protestant, hoef ek seker nie die leer van die transsubstansiasie te verdedig nie. Ek is egter ongemaklik met enige argument daarteen wat op wanvoorstellings daarvan berus. As argumente dan teen transsubstansiasie aangevoer moet word, laat dit ter sake konseptuele, eksegetiese en teologiese argumente wees. Om insigte uit die chemie teen die transsubstansiasieleer in te span is ’n klassieke voorbeeld van ’n kategoriefout – net soos wanneer kreasioniste die Bybel teen Darwin wil gebruik. Ironies genoeg verklap dit ook geloof in transsubstansiasie aan die kant van die kritikus, want dit kom neer op ’n poging om die wese van sowel wetenskap as geloof in iets anders te verander.
* Stuur ‘n e-pos met die woord “Ja” in die onderwerpveld na [email protected] om oor nuwe inskrywings op hierdie blog ingelig te word.
Onlangse kommentare