Verlange

Junie 1, 2013 in Uncategorized

Toe ek vanoggend wakker word, sit die verlange in my hart. Dis nou drie jaar laas dat ek my liewe dogter ‘n drukkie kon gee. Sy is in 2010 met ‘n Amerikaner getroud, ‘n dierbare man wat my al “mams” genoem het lank voordat hulle getroud is. Ons Skype gereeld en dan dra sy my op haar tablet deur die huis wat hulle gekoop het, wys my die pers eetkamermure, die lentetuin met daardie uitbundige Amerikaanse blomme, die vlagpaal, die “deck” en die swembad wat hulle energieke buurman vir die somer help skoonmaak het. Af en toe sit sy iets op fb en ek sien ook grepies uit die lewe van haar vriende. Maar ek kan haar nie ‘n drukkie gee nie! Al wat vir hierdie radelose verlange gaan help, is om te skryf.

Ek blaai deur die boekie met haar kindergesegdetjies:

As ek groot is, gaan ek ‘n wit Porsche ry met silwer strepe en pers blommetjies en hartjies daarop. Ek gaan op ‘n groot erf bly met miljoene katte.” Hulle het twee katte wat hulle by die “animal shelter” gaan aanneem het: ‘n gemmerkat met baie bagasie en ‘n liefderike swart langhaarkat met die gepaste naam “Midnight”. Sy ry ‘n Juke – ‘n meer praktiese opsie as ‘n sportmotor op paaie wat soms ysglad is.

Mense wat krulhare het, sal met die volgende juigkreet kan identifiseer: “Dis ‘n – dis ‘n wonderwerk! Ek het nie my hare punte geslaap nie!”

Hierdie aanhaling spreek boekdele: “Ek hou nie daarvan as mamma so deur mamma se tande praat nie.”

Toe sy hoor daar is ‘n laatlam op pad, noem sy my haar liewe “Baby Provider”. Sy voer verveeld haar bababoetie sy vaste kossies met die woorde: “Hap, hoender!”

Oor ‘n Voortrekkerfunksie het sy vertel: “Ons moes net daar stilsit en hande klap. Ons het ‘n bietjie gebabbel en ‘n bietjie gesing.” Vandag werk sy vir die Girl Scouts, ‘n pos wat sy op grond van haar ervaring in die Voortrekkers gekry het. Hulle leuse: “Building girls of courage, confidence and character who make the world a better place.”

Soja, nou voel ek beter. Desember kom al hoe nader en dan gaan ek DV vir hulle kuier en uiteindelik weer my kind kan vashou.

 

 

Gedagtes by ‘n verjaarsdag

April 25, 2013 in Uncategorized

My Middelkind verjaar vandag. Ek gaan soek die klein boekie waarin sy ouma en ek sy kleintyd-gesegdes opgeteken het en volg die kronkelpaadjies van herinnering.

Hy was my ‘hoekom’-kind:

Hoekom is ‘n kat se snorre van plastiek?

 Ons het gou besef dat hy met ‘n helder verstand geseën is:

As kleuter met ‘n boek onder die arm) Vandag wil ek leer lees!

(Graad 1) My juffrou sê ek moenie antwoord nie, die ander kinders moet leer.

(Graad 6) Ek lees Current in Space van Isaac Asimov, dan gee hulle vir my Strawberry Jam Pony.

Hy was slim met woorde:

Neewat, ek gaan sommer kaalvoet. Ek hou nie daarvan om skoenvoet te gaan nie.

Met ‘n digterlike siening:

(Oor ‘n gloeilampie) In die glasomhulsel van die lig lyk dit vir my soos ‘n mensie met ‘n manteltjie om.

‘n Lewendige verbeelding:

Die verkeerskonstabel het plastiek oor sy arms om die skeure in sy moue toe te hou. Sy mou het aan ‘n bumper vasgehaak.

‘n Gesonde selfbeeld:

(Ma vra hoe weet hy) Ek voorspel die wêreld.

‘n Formidabele humeur, wat gelukkig selde tot uitbarsting gekom het:

Wat ek nou in my kop sien, is kwáád.

Ek wil die ou wat huiswerk uitgedink het, in sy bek foeter.

Ek’t vir daai ou sy Moses gegee, wat hy kom soek het.

‘n Mensekenner:

(Hy soebat vir ‘n storie) Kan ek net by Ouma hoor? Ouma het eintlik nooit ‘n nee vir ‘n antwoord nie.

(Van sy sussie) Sy soek altyd ‘n wegkruipplekkie as sy hartseer is…Sy word hartseer van woorde.

Wat sukkel om die mense van Venus te verstaan:

(Nadat hy Rekenaarstudie aan sy sussie moes verduidelik) Ek sal nooit weet hoe werk julle vroumense se koppe nie. Ek het nou net gesien wat sy aan die wonderlike logiese struktuur van Pascal doen.

Vandag staan hy sy plek vierkantig vol as werker, man en pa. Maar in sy ma se hart is daar ‘n hoekie afgesper vir die klein seuntjie…

 

 

Oor Afrikaans

April 23, 2013 in Uncategorized

Rosie se inskrywing oor Afrikaans het my vandag diep laat dink. Hierdie pos is vir haar en vir Ouboet – hy het ook al op sy stoep oor hierdie kwessies gesels.

Die dag toe wilde seuntjies by ‘n Engelse maatjie se huis my ‘Afrikaner, vrot banana’ toegesnou het, het ek huilend huis toe gehardloop.Eers later het ek die teenvoeter geleer: ‘Rooinek, botterbek’.

Ek het in die tydperk van Afrikanermag grootgeword. Met Republiekwording het ek die oranje-blanje-blou teen die blou lug sien wapper en met oortuiging gesing: ‘Kent gij dat volk, vol heldenmoed’, ‘Ons sal antwoord op jou roepstem…’

Toe ek moes besluit of ek honneurs in Engels of Afrikaans sou doen, was daar slegs ‘n oomblik van heimwee na eksentrieke dosente en eeue-oue wêreldletterkunde en toe het lojaliteit die deurslag gegee. Afrikaans was immers ons ‘pêrel van groot waarde’.

Altyd het ek eerste Afrikaans gepraat, sodat ek seker is dat twee Afrikaners nie Engels met mekaar staan en praat nie. Dit het ek ook by my kinders ingeprent. Mense wat nie met so ‘n verbete taallojaliteit grootgemaak is nie, sal dit seker glad nie verstaan nie. Ek onthou die skemeraand toe my seuntjie terugkom van ‘n spelery op die strand en selfvoldaan verklaar: ‘Daai outjie, hy wou nog Engels met my praat, maar ek het sommer gehoor hy kry dit nie so goed reg nie, toe praat ons heeltyd Afrikaans.’ (My kind wat met ‘n Engelse Vrystater getroud is en steeds manmoedig probeer om van Afrikaans ‘n vadertaal vir my kleinkinders te maak, teen die oorwig van moedertaal, huistaal, skooltaal, maatjies, TV en speletjies in…)

‘n Woord uit die Sosiolinguistiek het my destyds al verskrik: ‘taalverskuiwing’. Dis wat gebeur wanneer ‘n taalgemeenskap hulle eie taal vir ‘n ander verruil. Soveel Afrikaanse huisgesinne maak hulle kinders doelbewus in Engels groot. Soveel Afrikaners gaan soek noodgedwonge hulle heil in verre lande. (My broer, met wie se kinders ek van babatyd af Afrikaans gepraat het, ofskoon hulle my net hier en daar verstaan het omdat hulle ma Hongaars is. Hulle huistaal is nou Nieu-Seelandse Engels… My dogter, wat haar hart aan ‘n Amerikaner verloor het en in die VSA woon.)

Afrikaans kon nog staande bly toe dit een van twee amptelike tale was en mense op ‘gelykberegtiging’ aangedring het. Danksy die ryk Nederlandse tradisie en die geweldige werk wat hier in Suid-Afrika op die gebied van standaardisasie, vaktaal en woordeboeke gedoen is, beskik Afrikaans oor die uitgebreide woordeskat wat ‘n amptelike taal behoort te hê. Maar nou is dit een van elf amptelike tale en die een na die ander instansie besluit om slegs Engels te besig. Dit verg harde werk om ‘n taal in stand te hou, dis nie iets wat vanself gebeur nie – veral nie as daardie taal langs ‘n magtige wêreldtaal soos Engels ‘n plekkie moet kry nie! Vroeër is alle wette vanselfsprekend in sowel Afrikaans as Engels uitgevaardig. Dis lank nie meer die geval nie, want nou behoort elke wet eintlik in al die ander amptelike tale ook uitgevaardig te word. As mens aan die tyd, die inspanning en die onkoste dink wat dit elke keer sou verg, om nie eens van praktiese probleme soos standaardisasie en woordeskat te praat nie, is dit te verstane dat die pragmatiste keer op keer Engels verkies. Juis daarom bewonder ek ‘n instansie soos ABSA wat werklik moeite doen om ons veeltaligheid tegemoet te kom.

‘n Verdere probleem is die vermoede dat enigeen wat vir Afrikaans ‘n lansie breek, eintlik ‘n ongure politieke agenda het. Werklik opregte taalstryders is al op hierdie manier afgekraak en verkleineer. Ons moet teen soveel stereotipes baklei. So oordreun die doef-doefmusiek die lieflike luisterliedjies en gaan ons kinders eerder na ‘n (Engelse) charismatiese kerk toe.

‘n Profetiese taalkundige het teen die helfte van die vorige eeu voorspel dat die toekoms van Afrikaans van die taalkeuse van ons swart landgenote sal afhang. As ons nie eens vir ons eie taal kies nie, hoe kan ons verwag dat die keuse enigiets anders sal wees as ‘Engels, Engels, alles Engels’?

Domastrant

April 14, 2013 in Uncategorized

Ek moes regtig van beter geweet het. Afgesien daarvan dat ek alewig verdwaal, het ek nie eens geweet hoe ek moes ry nie!

Verlede week in Bloemfontein gaan soek ek na die Vrouemonument. As tiener, ‘n leeftyd gelede, het ek deur die Anglo-Boereoorlogmuseum gedwaal en gehuil oor die rou menslikheid van die briewe en memento’s. Omdat ek dit nog eenmaal wil beleef, klim ek in die gehuurde motortjie en gaan soek na Pres. Brandstraat – dalk sal ek daar iewers ‘n aanduiding na die monument te siene kry?

My soektog eindig toe ek stroomop in ‘n eenrigtingstraat indraai – dis spitstyd. ‘n Parkeerwag met ‘n helderpers hemp hardloop doodsveragtend in die straat in en stop die aankomende verkeer sodat ek die volmaakste en blitsigste drie-puntdraai van my lewe kan uitvoer. 

Ek kan nie dankie sê nie want ek weet nie waar sit die motortjie se gevaarliggies nie en daar’s geen tyd om te waai nie. Druipstert ry ek terug gastehuis toe.

Van toe af tot nou toe stuur ek goeie wense in die rigting van die barmhartige samaritaan met die pers hemp. Bloemfonteiners is regtige vriendelike mense.

Die Heer het opgestaan…

Maart 31, 2013 in Uncategorized

Die Heer het waarlik opgestaan!

Goeie Vrydag

Maart 29, 2013 in Uncategorized

Gedagtes oor die voorhangsel in die tempel wat daardie middag geskeur het:

Dit beteken dat ons nou vryelik toegang tot die Allerheiligste het deur ons Middelaar, Jesus Christus.

‘n Teoloog sien dit ook as God se gebaar van rou oor sy Seun: soos ‘n Joodse vader sy klere van bo tot onder sou skeur uit smart oor die dood van sy seun, so het God die swaar gordyn van bo tot onder geskeur.

‘n Kaapse draai (vir Tina, omdat sy gevra het)

Maart 22, 2013 in Uncategorized

Stuur die werk my toe verlede week Kaapstad toe, waar ek met ‘n gehuurde karretjie die Kaapse weë moet aandurf. Dit gaan goed, want ek het die eenvoudigste voertuig gevra – en die Kaapse motoriste is hoflik en verdraagsaam.

Twee en ‘n half dae lank werk ek, maak toe spore na my kinders en kleinkinders oor die naweek. Ons gaan dwaal op Babylonstoren rond – ‘n ongelooflike mooi ‘werkende plaas’, met asemrowende tuine.

 Die ‘chip en die blok’…

 

Boomklim!

 

Daarna werk ek nog twee dae om die lekkerte te verdien. Ek is net oor een ding bitterlik spyt: ek was g’n eers náby die see nie…

 Die Kaap is pragtig, maar toe ek aanstryk lughawe toe met ‘n stuk bagasie in elke hand en die wind waai my hare oor my gesig sodat ek skaars kan asemhaal, besef ek net weer: ‘n Pretorianer aard nie hier nie.

Boomklim

Februarie 17, 2013 in Uncategorized

Die hele naweek loop ek met hierdie verlange in my hart – na die boom van my kinderjare. Spesiaal deur ons ouers uitgekies om ‘n lekker klimboom vir my en my boetie te wees, het die Acacia elata vinnig en hoog gegroei, met takke wat op gemaklike klimafstande van naby die grond af om die stam uitspruit.

Ek het daardie boom geklim dat hy kreun – tot hoog, hoog bo waar die takkies so dun was dat ek eers my gewig versigtig moes toets voordat ek met mening daarop trap. Augustusmaand, as die wind sterk op die Wesrand gewaai het, het ek op ‘n spesifieke, buigsame tak gaan sit en saam met die boom in die wind heen en weer geswiep. Partykeer het ek en my kat ons saam in die boom bevind, ander kere was my boet in sy ‘boomhuis’. Die boom was een van die seldsame twispunte tussen my ouers, want elke dan en wan het my pa die top laat afkap sodat die boom nie te hoog groei en dalk op die huis omval nie. Dan was my ma baie hartseer…dalk het sy, soos PG du Plessis se karaktertjie, die boom hoor huil?

Die laaste keer wat ek daardie boom geklim het, was na my pa se dood, die aand toe ek my mammie gaan haal het om na Pretoria toe te trek. Maar dit was geen rustige, mymerende afskeid nie – dit was ‘n verwoede jaagtog agter ‘n senuweeagtige kat aan wat ook in die kar gelaai moes word en toe besluit het om in die boom op te vlug. Op die ou einde moes ek maar weer die volgende dag die hele ent pad aflê om vir Sooisie te gaan haal, wat toe ewe gedweë opgedaag het toe ek hom roep.

Ek wil so bitter graag weer boomklim – maar hoe en waar gaan ek dit regkry? Hier in die meenthuiskompleks is daar geen klimvriendelike bome nie – en ek wil ook nie die buurt traumatiseer met die ongewone gesig van ‘n (bejaarde) vrou in ‘n boom nie. En hoekom op aarde verlang ek so na ‘ons’ boom?

Wag – ek weet: dis omdat my dierbare boetie more verjaar en omdat ek nóg in sy ‘boomhuis’, nóg in sy regte huis by hom sal kan kuier – want hy is baie, baie ver weg in ‘n nuwe land…Veels geluk, my liewe Boet – ek wil so graag vir jou ‘n suurlemoentert bak, maar helaas – daardie dae is ook verby.

Die henna-kat van Wadi Rum

Februarie 9, 2013 in Uncategorized

Pienkerige sand, met hier en daar ‘n fyn, hardnekkige bossietjie. ‘n Kolossale granietberg wat loodreg uit die sand opdoem – sewe pilare, die sewe pilare van die Wysheid! Verstandigheid, kennis en onderskeidingsvermoë, Godvresendheid, regverdigheid, ware wysheid, insig en krag. In hierdie wêreld was Lawrence of Arabia gestasioneer en is die fliek oor sy skouspelagtige avonture jare later gemaak.

 

Die landskap is ongelooflik dramaties en ‘n mens voel oneindig klein. Dis die onherbergsame wêreld van Israel se omswerwinge in die woestyn…g’n wonder hulle het vir hulleself ‘n goue kalf gemaak toe hulle dog Moses gaan nie weer terugkom nie!

 

Daar is vir ons ‘n kameelrit gereël, maar die 21ste-eeuse weergawe: onverskrokke Bedoeïene met hulle kenmerkende rooi-en-wit kopdoeke beman ‘n aantal 4×4-voertuie waarin ons vir die woestynrit gelaai word. (Gelukkig sit ek styf vasgepak tussen twee medetoerlede, anders het ek waarskynlik soos ‘n rubberbal op daardie agterste sitplek rondgebons!)

Ons is skaars op pad, toe kom ek agter hier is ernstige wedywering tussen hierdie manne. Op die plat teerpad op pad woestyn toe begin hulle mekaar verby te steek teen ‘n taamlike spoed, maak nie saak wat van vooraf aankom nie…Toe ons die sand tref, sit hulle voet in die hoek. Ons jaag oor die plat vlakte, kry skaars tyd om die berge raak te sien, gooi esse deur die woestynlandskap en vang so af en toe ‘n dippie of ‘n wal wat my maag ‘n rukkie laat agterbly voor hy my weer inhaal. Agterna vertel ‘n groepie girls hoe hulle gegil het en hoe dit hulle bestuurder tot groter waaghalsighede aangevuur het – hoe innig bly is ek nie dat ek nie in daardie Jeep beland het nie…

 

In die middel van Wadi Rum – “Vallei van die Maan” – tussen lang sandduine, stapels rots en die kenmerkende klipgebergtes wag ‘n groot, langwerpige tentstruktuur ons in. Die tent is oor ‘n permanente houtplatform gespan, daar is lae muurtjies reg rondom gebou waaroor dik, kleurvolle materiaal gespan is. Die gashere wag ons in met verfrissende glasies salie-tee1: heerlik warm, geurig, heuningsoet – ‘n salige ervaring vir ‘n tee-verslaafde soos ekself.

Weer is daar ‘n verskyning wat slegs uit die Arabiese nagte sou kon kom: ‘n bloedrooi kat! By nadere betragting sien mens dis ‘n mooi gemmerkat, maar iemand het hom met kleursel bygedam – sou dit henna wees? Die kleur is lukraak aangebring, dis nie mooi patroontjies soos mens op Arabierse vrouehande sien nie – maar nouja, sekerlik het hierdie meneer nie stilgesit terwyl hy so ingekleur is nie.

 

Ewe kontant kom skuur hy teen al wat leef en beef se bene, laat toe dat hy gestreel word, spring dan op ‘n muurtjie en tuur ver en filosofies oor die duine. Hy spring af op die sand en takel ‘n ronde wit woestynklippie met sy formidabele pote en sterk naels – waarskynlik sy manier om te ‘gym’. Al die maer, misrabele straatkatte van die afgelope twee weke doem in my gedagtes op en ek wil so graag vir hom vertel hoe gelukkig en bevoorreg hy is, maar ag, hy verstaan net Arabies…

1 = ‘sage’, vir diegene wat grootgeword het nadat die ellendige Robertson’s besluit het om nie meer die Afrikaanse name van hulle kruie en speserye op hulle bottel-etiketjies te druk nie

Die Drie Wyse Wywe uit die Weste

Januarie 25, 2013 in Uncategorized

 Op ‘n stralende woestynoggend in Jordanië stap ons ver deur die smal rotsskeur wat na die sprokiestad Petra lei. Die hoë, kleurvolle sandsteenwande omraam ‘n stukkie ongelooflike blou lug daarbo; teen ‘n rotswand klou ‘n wildevy verbete.

 

Ons stap deur die nekropolis waar die Nabatteërs graftombes uit die rotswande gebeitel het, verby die enigste behoue voorbeeld van ‘n vrystaande gebou (‘n tempel wat aardbewings kon deurstaan omdat daar ‘n houtlaag in die mure ingelê is wat die skokke geabsorbeer het), kom uiteindelik by die wêreldberoemde “Skatkamer” uit.

 Oor die Romeinse plaveisel rammel perdekarretjies; oor die sand trippel die allermooiste perde en die polisiemanne wat op hulle ry, lyk vir my soos Romeinse offisiere van ouds.

 

Daar staan donkietjies en wag vir toeriste om op hulle te ry, maar ek het vanoggend ‘n ander ambisie: die dag by die piramides was ek te broos om ‘n kameelrit aan te pak, maar vandag is ek vasbeslote om hierdie avontuur te beleef.

 

Diegene wat Pyramids deur Terry Pratchett gelees het, sal die kameel met die naam You Bastard onthou – die grootste wiskundige wat die wêreld nog ooit opgelewer het. Volgens Pratchett “…camels…have that disdainful expression and famous curled lip as a natural result of an ability to do quadratic equations”.

 

Ek en twee trawante ontdek ‘n jong Bedoeïen met drie kamele wat met primitiewe tuie aan mekaar verbind is – sy rooi-en-wit geruite kopdoek en die kohl wat sy oë teen die helder sonlig en stof moet beskerm, maak van hom ‘n verskynsel uit die Arabiese nagte. Hy laat die kamele die een na die ander kniel en ons klim op: ek in die middel, met ‘n waardige dame voor en nog een agter my. Die kameeldrywer maak klikgeluide met sy tong en laat die diere aanstap – hy loop agter! Ek wonder nog benoud wat maak ons as die diere skielik op loop gaan, maar begin dan ontspan en die rit geniet. Dis hoog, baie hoog daar bo op die kameel se rug, maar die pas is rustig en dit lyk nie juis asof die kamele besware teen ons het nie – dalk is hulle te besig met hulle wiskundige berekeninge.

 So ver as wat ons ry, soek ons na toerlede wat ons kan afneem. Ons wuif soos besetenes. Die leier van die kavalkade se kwinkslag maak ons lam van die lag: “Hier gaat ons – die Drie Wyse Wywe uit die Weste!”

(Dalk wys ek eendag ‘n foto van die Wywe, moet net een in die hande kry!)