Hierdie Vrydag…

November 10, 2013 in Uncategorized

Vrydagoggend vroeg het my liewe skoondogter die uitbundige hond gevoer. Daarna het sy Laatlam oorreed om wakker te word en intussen haar tassies in die kar gaan sit. Ek sien foto’s uit die hospitaal en hou my hart vas daar op kantoor, terwyl ek wag vir werk wat ek eers moet nagaan voordat ek self ook kan ry om my nuwe kleindogtertjie te gaan verwelkom.

Die eerste foto’s kom deur – Laatlam wat die klein bondeltjie vashou; rustig lê sy en droom in haar pappa se arms. Hoe moet ‘n ouma se hart dit hou? Hierdie hart wil bars van vreugde en verwondering!

Die middag hou ek die liefkindjie vas. Sy slapies rustig, maar toe sy later wakker word, verrimpel daardie koppie van die kroontjie af en verkondig sy luidkeels haar ongenoeë. So klein, maar reeds volwaardig deel van die lewe – die vreugde en die pyn.

 

In memoriam: Skoonlief

Oktober 21, 2013 in Uncategorized

Wanneer mens ‘n troeteldiertjie het, stel jy jouself bloot aan die prys wat jy later sál betaal vir jare se vreugde en geselskap. Vanaand – en vorentoe – is dit my beurt om die prys te betaal in droefheid en gemis.

Die wilde wit kat lê meewarig langs my, skuur nou en dan teen my hande, probeer haar bes om my te troos.

Op my spieëlkas staan ‘n pragtige glaspot vol blomme en ‘n kaartjie van my kosbare skoondogter, wat so begin: ‘Ons is verskriklik hartseer saam met ma oor ou Skoonliefie…’

http://blogs.litnet.co.za/frandr/2011/08/26/my-familiar/

Die geel tas

Oktober 19, 2013 in Uncategorized

Vandag het ek ‘n kanariegeel tas by die hospice gaan afgee.

Die ouderdom het vir hom – soos vir my – bygekom, maar ek onthou sy gloriedae.

Dis met hom wat ek Spanje toe is, met hom en sy bypassende smuktassie, wat lankal verdwyn het. Daardie dae het mense nog nie die slim patent van wieletjies uitgedink nie, maar hy was regtig ‘n luukse tas. In die een helfte kon ek klere hang wat dan netjies ingevou is; die ander helfte was in twee verdeel wat met knippe en riffelrek met gespes die klere vasgehou het.

Spanje – die begin van my Europese toer – was wonderlik, maar die laaste dag, by die graf van Goya, het ek ‘n eienaardige droefheid ervaar. Toe ek in Londen aankom, het ‘n Suid-Afrikaanse ambassadelid my ingewag om te sê my pa is oorlede. Ek glo nou nog dat my pa se gees daar in Spanje vlugtig by my was… Ek en die geel tas is huis toe.

Baie jare later het twee kleuters kop, pens en pootjies in daardie einste tas geklim en heerlik vliegtig-vliegtuig gespeel. Hulle pa was op kursus en ons het oor ‘n naweek vir hom gaan kuier. Die kinders was verveeld en die tas was ‘n wonderlike oplossing.

Daarna was die tas maar mankoliekig en het dit die bêreplek van my aandrokke geword. Die romantiek van glansaande het in daardie tas geskuil, tussen valle organza, blinkers, satyn en Franse kant.

Die aandrokke is weggemaak en daar’s nie meer plek vir die tas nie. Dankietog dat herinneringe in mens se hart geberg kan word.

 

 

Die engel op my pad

Oktober 10, 2013 in Uncategorized

Die trekkers daag toe – volgens my – te vroeg op, met die gevolg dat daar heelwat los goed oorbly wat ek maar die volgende dag self moet gaan trek. Die motortjie dink hoeka hy is ‘n bakkie as sy nooi die sitplekke afslaan en hom begin volpak.

Wanneer die meubels uit mens se woonplek is, skrik jy vir die kolle en die stowwe, dus vee en skrop ek vervaard, die hele dag lank. Laatnag – halftwee, om presies te wees – is selfs die garage leeg. Ek pak die twee katte in hulle mandjies en die laaste goeters in die kar; die vrag op die passasiersitplek is dakhoogte.

Toe ek om ‘n draai in die kompleks ry, skuif daardie vrag na my kant toe. Iewers tussen die rommel is ‘n teepot waarvoor ek baie lief is – ek probeer dus die vrag weer terugskuif en kyk nie waar ek ry nie. Die volgende oomblik ry ek die spoedteken op die hoek om dat jy net wrede kraakgeluide hoor. In trurat kry ek die motortjie uit die bedding uit en gaan bieg by die sekuriteitswag oor wat ek aangevang het.

Nou moet ek by die nuwe blyplek uitkom met my kosbare vrag katte en die teepot en al die ander rommel…

Voor Grove Winkelsentrum, in ‘n verlate Lynnwoodweg, begin los plastiekstukke van die flenterse stamper teen die motor se wiele skuur. Ek besef ek kan nie so aanhou ry nie en hou maar stil, klim met my hart in my keel uit die kar uit. Die volgende oomblik maak ‘n ADT-voertuig ‘n u-draai en kom hou voor die motortjie se stukkende neus stil.

‘n Lang, skraal jongman klim uit en bied sy hulp aan. Hy vertel dat hy dikwels mense help terwyl hy so in die nag patrolleer. Een, twee, drie het hy die los plastiek afgepluk en weggesny. Ek onthou sy sagte, moeë oë en hoe die nagwind sy hare verwaai het. Hy reël dat iemand die volgende oggend na die motortjie kom haal en met die versekering skakel en sê ek kan nou veilig verder ry.

Dankie, Emile – my ridder – nee, veel meer: die engel op my pad daardie nag…

Hier kom ‘n ding

September 24, 2013 in Uncategorized

Op hierdie erfenisdag maak ek gereed om die antieke meubels wat ek by my tannies geërf het, te verkwansel. Ek gooi kaartjies en briefies weg wat ek dekades lank al saam met my sleep. En ek besef maar net weer: mense is belangriker as goed en mot en roes verniel.

Ek wil so graag kuier hier op die blogs, maar ek trek oor minder as ‘n week en ek moet pak, pak, pak!

Ek gaan naamlik nou onder Laatlam se dak intrek. Hy het my reeds gewaarsku dat ek asseblief moet onthou sȳ reëls geld daar…

Dis hoekom ek sê: Hier kom ‘n ding… Ten minste, hoop ek, ‘n paar amusante inskrywings. Want hy en sy dierbare vroutjie lê my na aan die hart en maak daardie hart altyd bly.

Oopplan

Augustus 31, 2013 in Uncategorized

‘The open plan is hell’, was die woorde van ’n eks-kollega tydens sy ‘exit interview’.

Gelukkig is ek dit gespaar – die ergste waaraan ek gewoond moes raak, was ’n kantoor met vier of vyf werkstasies. Die mantra: ‘Jy is ’n ma, jy kan hoor-en-sien-vergaan hanteer!’ het my daardeur gekry. Twee maande voor aftrede, sit ek nou in ’n lieflike hoekkantoor – twee werkstasies, maar die ander een staan leeg. Ek kyk uit oor ‘n parkie, waar die werkloses in die sonnetjie lê en slaap en die hadidas gister se kitskosrommel vir oorskiet deursoek. As ’n wysneus my ewe verbaas vra: ‘Is jy NOG hier?’ antwoord ek: ‘Ja, ek kyk uit oor die park – die volgende stap is die park!’

In my persoonlike lewe was ek nie so gelukkig nie; ek het in die oopplan van ’n alleenloperlewe beland. Saans eet ek Kentucky – geroosterde broodjies – Roman’s – jogurt – vier aande op ’n ry dieselfde spyskaart as ek die dag sover kom om behoorlik kos te maak. Ek deel my bed met ’n warmwatersak en twee katte. Wat hoogtepunte behoort te wees – ’n troue, die doop van ’n kleinkind, ’n kuier by kinders wat ver weg woon – het altyd, onvermydelik, ’n ondertoon van skrynende eensaamheid.

Rondom my sien ek die ouer paartjies: geïrriteerd of gelukkig; ongeërg of liefdevol; vasgekeer of geborge. Ek wil hulle so graag vermaan: ‘As jy getroud is, moet jy getrou bly aan jou man of vrou. Veg vir die geluk van jou lewensmaat.’ Want ons het heeltemal die verkeerde idee van ‘sonde’: ons moet dit nie vermy uit piëteit nie, maar omdat dit ons van ons Godgegewe geluk, blydskap en vreugde stroop.

Die oopplan is hel.

Nog katfoto’s

Augustus 16, 2013 in Uncategorized

Met die lekkerte van almal se katfoto’s het ek weer eens besef: ek is mal oor katte!

Hier is my ‘familiar’ Skoonlief in al haar glorie

As sy dink haar ounooi gaan weg, wil sy net saam

Les bes, hier is die wilde wit kat

Kampvegter vir katte – vir Henry en Tina

Augustus 10, 2013 in Uncategorized

Katte het my al veel vreugde besorg. So ‘n jaar terug was ‘n wilde wit kat wat op die dakke van ons kompleks gewoon het, die aanleiding tot my ontmoeting met iemand wat ek grensloos bewonder en in wie se geselskap ek my verlustig.

‘n Buurvrou wat ook vir katte omgee, het vir M ingeroep om die kat vir ons te kom vang. Ons wis die kat se naam is Snowy – haar vorige baas het haar ten einde raad net hier laat agterbly, nadat hy haar glad nie gevang kon kry toe hy trek nie. Sommer gou-gou het M haar in ‘n spesiale vanghok ingelok, sodat ek die vuil wit kat met die soetskeel olyfgroen oë drie dae lank in my huisie kon aanhou om haar te laat verstaan dat dít nou ook háár nuwe huis is.

Die wilde wit kat (Snowy > Spokie > Terr’blanche > Terr > Pangar) sit hier by my voete en spin – heeltemal verhuislik. Sy en my ‘familiar’, Skoonlief, verduur mekaar, met ‘n onder-onsie so nou en dan as Pangar haar te veel aanmatig. Smiddae kom begroet sy my by die kar, staan op haar agterpote en druk haar koppie onder my hand in om te vertel hoe bly sy is om my te sien.

Vandag was ek bevoorreg om ‘n kruistog saam met M te beleef. Op my skoondogter se versoek, het M drie gemmerkatjies kom vang op die bouperseel van ‘n nuwe kerk, sodat ons ’n intelery kan keer en nóg katjies sonder heenkome kan voorkom. M se gereedskap is eenvoudig en effektief: ‘n spesiaal-gemaakte vanghok, ‘n lepel en ‘n blikkie vis. Die hok het ‘n deur wat boontoe oopmaak, met ’n slim meganisme wat dit laat toeklap as die kat se volle gewig op die vloer daarbinne druk. M pak ‘n spoortjie vis tot by die vol kosbakkie agterin die hok; ‘n hawelose, honger kat word met hierdie tegniek – en baie geduld – keer op keer vasgetrek.

Dis vir haar swaar om te sien hoe ontsteld die katte raak as hulle gevang is: “Hulle spring so op en af. Maar as die hok met ‘n kombersie toegegooi is, raak hulle kalmer. Dan laai ek hulle in die kar en sit Classic FM aan en ek vra heeltyd askiesie, askiesie en belowe alles sal reg wees. As jy uiteindelik so ‘n kat vrygelaat het en jy sien hoe word hy vetter en makker – dis ‘n wonderlike gevoel van hier het jy ‘n dier gehelp…Jy stap maar die tweede myl met die kat…”

M ken veeartse wat die katte vir haar teen kosprys steriliseer. Dan knip hulle die puntjie van die een oor af, sodat mense kan weet die kat is ‘reggemaak’. Dieselfde dag nog word die kat in sy habitat teruggesit – en dan word hierdie kat M se verantwoordelikheid. Die skraal, gedrewe vrou met die mooi blou oë en die sagte hart gun haarself geen rus nie. Dinsdae en Vrydae voer sy kolonies katte – in Sunnyside, Arcadia, die middestad, Centurion, by Weskoppies… Sy ken al die ander engele wat bereid is om hierdie werk te doen en sy snuffel mense uit wat klein katjies sosialiseer totdat daar ‘n huis vir hulle gevind word. (Op drie maande word klein katjies nie meer maklik mak gemaak nie, jy moet hulle so op twee maande by iemand geplaas kry, anders bly hulle wild.)  Sy prys die sekuriteitswagte wat na die katte in hulle omgewing omsien; sy pleit met woonstelopsigters om haar tog toe te laat om die plankmaer katte kos te gee. In haar motorhuis gaar sy winskopies in katkos op, sy kook rys en meng dit met “pet’s mince” en een of twee blikkies katkos. Sy sê mens moet ook sorg vir verskeidenheid – “tot ‘n veldkat raak lekkerbekkig!”

Ons kon vandag net een katjie gevang kry – daar is drie – die allerliefste, mooiste wyfie-gemmerkatjie. Sy is laat vanmiddag teruggeneem na waar sy bly, met ‘n sagte bedjie en ‘n hele houer katkos. Ek weet M sal sorg dat die ander twee ook gesteriliseer word, want sy is ‘n verbete kampvegter vir hierdie diere. Sy is dalk ‘n onwaarskynlike engel, hierdie vrou met die vanghok en die blikkie vis, maar ‘n engel is sy gewis.

 

What’s in a name?

Julie 8, 2013 in Uncategorized

Laatlam gooi die naweek ‘n kritiese oog oor die inhoud van my yskas.

‘Eeuww,’ roep hy uit, ‘is dit daai aaklige agurkietert?’

Nouja – agurkie, aspersie – albei begin met ’n a…

Hmm, miskien moet ek ’n agurkietert probeer aanmekaarslaan…

Sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees

Junie 21, 2013 in Uncategorized

 My week van dankbaarheid:

  • Die perlemoenglans op ‘n hadida se flank
  • Posduiwe op hulle uitgelate vlug oor die voorstad
  • Die genadige motoris wat my toelaat om van baan te verwissel
  • My wilde wit kat, wat my van ver af raaksien en oor die teer aangehardloop kom om uitbundig teen my hand te skuur
  • ‘n Sms van my skoondogter, wat sê sy’s lief vir my
  • ‘n Jong paartjie se warm naand-sê by die kerk
  • Die reguit, opsommende blik van ‘n peuter en die manier waarop hy ‘n ertjie met duimpie en voorvingertije oppik om dit te verorber