Weerberig (2)

Februarie 24, 2014 in Uncategorized

Die warm lug van Afrika is maklik om in te asem – sag en vogtig. Die son skyn warm op my arms, ek kan eintlik voel hoe die Vitamine D versprei.

Toe ons terugkom van New York af, was die sneeu so dik dat dit weke lank die landskap bedek het. Die sneeubloeisels in die bome het in yskristalle verander; een helder sonskynmiddag was daar orals ligprismas in die kaal boomtakke.

220

Ys-stalagtiete drup orals.

216

Waar ons die sneeu omgedolwe het om Sneeuman nr. 4 te bou, lyk dit soos die punte van ‘n hoogs suksesvolle meringue net voordat dit oond toe gaan.

Daisy-hond staan tot by haar elmboë in die sneeu en as sy ‘n bal terugbring sodat my dogter dit weer kan gooi, moet sy deur die sneeu huppel soos wat ‘n dolfyn deur golwe spring om enigsins te kan vorder. Sy speel te heerlik: jaag agter die bal aan, verloor dit kammakastig, bespring dit dan en begin die energieke terugtog.

My eie terugtog word met drie uur vertraag: twee uur in Washington en een uur in Dakar. Die doeanebeampte se Afrikaans op OR Tambo: “Welkom terug!” is lafenis vir my siel.

In die pos wag daar ‘n simpatiekaartjie van die dierehospitaal af en ek is opnuut hartseer oor my ou Skoonlief…my liefste kat, wat my dogter destyds vir my gegee het.

In ‘n laai kry ek ‘n ou foto’tjie van my dogter. Die kamera het haar mooi glimlag vasgevang, die toegeneentheid in haar oë.

Eenuur in die nag sit ek hier: vlugvoos, helder wakker en sonder my viervoetige troostertjie. Die wit kat is nêrens te siene nie – volgens Laatlam het sy basies vir my gesê: “Ef jou,” toe ek haar met groot bohaai wou groet.

Tog is die warm Afrikalug soet in my longe.

 

 

St Paul’s Chapel in New York

Februarie 19, 2014 in Uncategorized

100_1295

Oorkant die straat van waar die Twin Towers gestaan het, is daar ‘n kerk, ‘n ruim dog eenvoudige reghoekige gebou wat reeds in 1766 ingewy is, met antieke glasvensters – nie gekleurde glas nie, net met ‘n effense liggroenigheid hier en daar in die klein panele. Voor is daar ‘n reling, waar New Yorkers haastig kom kniel, vinnig bid, weer verdwyn. Eenkant staan ‘n hoë, witgeverfde preekstoel met goue afwerking en ’n trappie en in die middel, op die kaal plankvloer, is rye stoele in ‘n reghoekvorm gerangskik. Agter teen die muur staan twee geverfde houtkerkbanke, maar die verf van die rugleunings is erg beskadig. Skrape en kolle getuig van die onrustige slaap van uitgeputte reddingswerkers wat net so in hulle  klere en stewels op ‘n kerkbank gaan lê het in die eerste dae na 11 September 2001.

In 1776 het die kerk die groot brand in New York oorleef danksy ‘n brigade wat die kerk met emmers water beskerm het; in 2001 word dit “the little chapel that stood”. Buite in die kerkhof het die geweld ‘n boom ontwortel, wat skuins oor die geskiedkundige grafstene geval en hulle beskerm het. St Paul’s word die hart van ‘n merkwaardige bediening, waar altesaam meer as 14 000 vrywilligers dag en nag tot in Meimaand 2002 ondersteuning bied aan die honderde reddingswerkers, met kos, mediese sorg, berading, gebede en ‘n plek om te rus: “Medical personnel, massage therapists, chiropractors, podiatrists, and even musicians, transformed the chapel into a sanctuary of hope and healing.”

‘n Aangrypende uitstalling in die kerk, “Unwavering Spirit: Hope and Healing at Ground Zero”, vertel van die bediening aan brandweermanne, konstruksiewerkers en polisie. Blyke van meelewing het vanoor die hele wêreld ingestroom. ‘n Kind het byvoorbeeld ‘n teddiebeer gestuur, ten spyte van die teenstand van haar grootmense. Dit was die begin van ‘n vloedgolf, sodat die vrywilligers later op elke nuut-opgemaakte kampbedjie ‘n sagte speelding kon neersit; troos wat die uitgemergelde werkers onbeskaamd verwelkom het.

Elke dag om 12:30 is daar ‘n diens: “Prayers for Peace”. Die klok word in vier stelle van vyf slae gelui, die New Yorkse Brandweer se huldeblyk aan ‘n gevalle kameraad. Die predikant lees ‘n Bybelvers en gaan dan voor in verskeie gebede. Hier is die slotgebed:

Final Thanksgiving Prayer

O God, who created all peoples in your image,

we thank you for the wonderful diversity of races and cultures in this world.

Enrich our lives by ever-widening circles of fellowship,

and show us your presence in those who differ most from us,

until our knowledge of your love is made perfect in our love for all your children;

and give us the heart of Jesus. Amen.

New York, New York

Februarie 18, 2014 in Uncategorized

In plaas van Maandagoggend rustig die pad te vat, trek ons Sondagnag halfdrie weg New York toe, om die dreigende sneeu te probeer voorspring. Ten spyte daarvan, ry ons nog steeds die laaste ent pad in warrelende sneeu – my skoonseun skakel die motor se ligte vol aan en sê: “Look! It’s Star Wars!” Ja waarlik, die triljoene warrelende vlokkies maak lang ligstrepe, kompleet soos die laserstrale van wetenskapsfiksie.

Net na ses die oggend parkeer ons die motor in ‘n beknopte kelder en gaan soek lafenis by die kafeetjie langs ons hotel. Die Turkse eienaar en sy vrou laat ons genadiglik binne, al is hulle nog nie heeltemal gereed vir klante nie. Warm tee was nog nooit so lekker nie… Ons kan nog nie inboek nie en besluit om die subway na Central Park te haal.

G’n museum is dié tyd oop nie, dus loop ons die park binne, beland by die Reservoir en bou ‘n sneeumannetjie op ‘n muurtjie, stap dan dieper die park in.

100_1267

Knoetsige ou boomstamme maak donker patrone onder hulle vragte sneeu.

100_1270

Dis bitterlik koud, maar ons is goed gepantser. Die sneeu maak kolle op my bril, maar dit gaan niks help om dit te probeer afvee nie. Ons word wonderlik beloon vir ons dappere ontbering:

100_1271

Stylvolle “uptown” NewYorkers is besig om hulle honde in die sneeu te laat baljaar. Terwyl hulle base mekaar op die naam groet en gesels, hardloop en speel die honde, heeltemal uit hulle velle uit van opwinding. ‘n Goue en ‘n swart Labrador rol om en om in die sneeu, kry mekaar (sagkens) aan die keel beet, spring dan weer weg en hol soos maniakke. ‘n Pug draf stywerig, haar pootjies in kousies gehul, ‘n elegante jassie oor die rug. Nelly, ‘n “Samoyed”, maak beleefd met ons kennis en haar eienaar vertel dat sy floreer in temperature onder vriespunt. Sy is die mooiste hond, omtrent so groot soos ‘n bokser, met ‘n spits snoet, punt-ore, donker oë en digte wit wolpels. ‘n Kenmerk van dié Siberiese honde is hulle swart lippies, wat dit laat lyk asof hulle glimlag – Google noem dit die “Sammy smile”. Nou en dan kry ‘n hond ‘n gier en hardloop sommer ‘n koers in, tot konsternasie van sy baas of nooi. My dogter gee later ‘n raak beskrywing: “Ons het ‘n hele gemeenskap ontdek!”

So ontdek ek, na ver stap in die koue, ligamente waarvan ek nog nooit voorheen geweet het nie. In my hart dartel ek langs Broadway, maar in werklikheid kan ek daardie aand skaars myself tot by die Majestic Theatre voortgesleep kry om die vervoering van Phantom of the Opera te gaan beleef.

100_1287

Laatnag koop ons vars-gesnyde vrugte by Walgreens. Die sappige tropiese geure was nog nooit so lekker soos in die stad wat nooit slaap nie.

 

Weerberig

Januarie 23, 2014 in Uncategorized

Maandag was ‘n somber dag: bewolk en koud.

Dinsdagoggend vroeg begin dit sneeu: fyn vlokkies wat warrel in die wind. Die Stars ‘n Stripes aan die vlagpaal voor die huis wapper in die teenoorgestelde rigting as gewoonlik. Ek kyk uit oor die straat met die oop erwe en die geverfde houthuise, sien hoe die sneeu teen die agtergrond van die pragtige gestroopte bome in die laagte dans, hoe die vlokke later groter word.

Die hele dag lank sneeu dit. Die klein beeldjie van ‘n meisie op die “deck” kry ‘n wit kappietjie; aan die verdroogde somerblomstruik bot sneeubloeisels. Die glaspaneel in die kombuisdeur het ‘n raampie sneeukristalle. Die grasperke waaroor eekhorinkies verlede week gehuppel het, word bedek – die landskap is een groot kerskaart, met regte kersbome, versier met ‘n valletjie sneeu op elke tak.

Daisy die hond baljaar in die sneeu, proes die sneeu van haar snoet af; Midnight die kat sit iesegrimmig op die vensterbank na buite en tuur. Die bure se kleinkind ry slee in hulle agterplaas teen die bult af, sommer so terwyl die sneeu val. Daisy gaan groet, maar dis net ‘n rukkie, dan is alles weer stil, behalwe vir die warrelende vlokkies.

Die sneeulorrie jaag teen die bult op, skraap sneeupluime uit die pad uit. Netnou gaan hy weer terugkom om die ander kant van die straat skoon te skraap. Op sy bak lê ‘n hoop vaal sout, wat hy vroeër kom strooi het sodat die sneeu makliker smelt. Nou en dan kruie ‘n motor verby: versigtig, versigtig, sodat dit nie op die ys gly wanneer die bestuurder moet rem nie. Op die groot snelweë waarsku groot borde permanent: “Bridge may be icy before road” en as mens sou wou, kan jy dramatiese video’s gaan soek van verkeersdramas.

Hier en daar spit iemand die sneeu uit ‘n oprit, of maak ‘n paadjie om die huis met ‘n sneeuploegie wat ‘n stroom sneeu eenkant toe uitspoeg. As mens te lank wag, ys die sneeu vas.

Woensdag skyn die son helder, maar die buite-temperatuur bly onder vriespunt. Binne is dit heerlik warm, danksy die sentrale verhitting, dubbele vensters en geïnsuleerde mure wat vanselfsprekend deel is van elke huis.

Vlagies wind warrel die sneeu in die lug in op; duisende klein blinkertjies in die sonlig. Oor die stralende wit oppervlak skiet hier en daar vonkies lig. Vir die eerste keer verstaan ek werklik die treffende vergelyking: “Witter as sneeu…”

Sneeu 7Sneeu 11100_1155Sneeu 8

Berou?

Januarie 16, 2014 in Uncategorized

Ons woon verlede Sondag weer die kerk by waar my kind ‘n geestelike tuiste gevind het. ‘n Jong vrou wat in die gemeente grootgeword het, vertel van haar sendingwerk in Suid-Afrika. Die grootste deel van haar vertelling word aan Nelson Mandela gewy: hoe hy 27 jaar in die gevangenis moes slyt – “for no other reason than his race” – en hoe sy vergewensgesindheid “a bloody civil war” voorkom het. Tussendeur is daar argelose verwysings na die gruwele van apartheid. Na ses jaar se arbeid in Kayelitsha, Kaapstad, wemel hierdie vrou se opvatting van ons onlangse geskiedenis van veralgemenings en halwe waarhede. Aan die einde van haar aanbieding is daar darem foto’s van die kleuterskole wat sy bedryf en die opleiding wat sy gee.

By die deur groet ek haar, vertel dat ek van Suid-Afrika is, sê vir haar dat ek dink sy is dapper om sulke goeie werk te doen. (Om nou in ‘n argument betrokke te raak, gaan geen doel dien nie. Ek is in elk geval nie daarvoor toegerus nie; vanweë my volstruismentaliteit het ek nie genoeg kennis nie. Omdat ek nie lus het om daaroor te lees nie, kan ek nie die indruk van 27 jaar se klippe kap op Robbeneiland weerlê met fyner besonderhede oor die omstandighede waarin Mandela later aangehou is nie.) Sy hou my hand vas, roep met warmte uit: “But you were there – you lived it!” Ek beaam dit en hoef gelukkig nie te vertel hóé ek dit geleef het en nog steeds leef nie, want die ry beweeg verder.

Mense van my era loop swaar gebuk onder “mea culpa”. Skrynende verhale van hartseer en lyding glip verby ‘n mens se skanse en dit help niks om te sê: “Maar ek het nie geweet nie.” My eie kerk moes toegee dat apartheid geen Bybelse regverdiging het nie (ten spyte van Noag se drie seuns en die houthakkers-en-waterdraers-argument). Die geskiedenis word herskryf en maatreëls wat met die beste bedoelings ingestel is, word gedemoniseer.

‘n Mens sou kon redeneer totdat jy blou is, maar die tydsgees is teen jou. Die name van dié wat aan regeringskant in die bos-oorlog gesneuwel het, is nie op die muur in Freedom Park aangebring nie en toe ek daaroor vra, haal die gids net haar skouers op. Die Waarheids- en Versoeningskommissie het op die vergrype van slegs een kant gekonsentreer.

Hoe nou gemaak, met die gevoelens van ontnugtering, verydeling, tevergeefsheid? Hoe gemaak met my dierbare moedertaal wat as “die taal van die onderdrukker” gebrandmerk is en steeds van haar openbare funksies moet inboet? Hoe gemaak met die room van ons land se jongmense wat elders ‘n toekoms gaan bou?

Soos Vrybuiter, is ek “by die naelstring aan (hier-)die land verbind”; soos Exionperfexi, sou ek graag ‘n nuwe lied van jong Suid-Afrika wou sing. Ek glo die oplossing is om te vergeet van skuld en berou, vergrype en verwyte; om ons land met al sy mense te geniet en te waardeer. Dit verg altyd veel meer om op te bou as om af te breek.

 

Nuwejaarswense

Desember 31, 2013 in Uncategorized

Toe Laatlam die dag oor my skouer van julle blogs gelees het en so ewe opgemerk het: ‘Hulle klink nes Ma,’ het hy ‘n waar woord gespreek.

Hier by Litnet het ek geesgenote ontdek – en ook ander wat my denke opskerp. Dankie vir julle virtuele vriendskap.

Mag 2014 vir julle almal veel voorspoed en vreugde bring.

Krismiskatte en Daisy die hond

Desember 26, 2013 in Uncategorized

‘n Ekstra bonus van my kuier in Pennsylvania is om die kleinkatte en kleinhond te leer ken.

Hier is Diesel, ‘n yslike, glorieryke gemmerkat, maar uiters sku en bang vir alles. Aldrie die diere is met tussenposes by ‘n ‘animal shelter’ gaan haal en my dogter sê Diesel ‘het baie bagasie’. Hy is op sy gelukkigste as my skoonseun hom karnuffel en het darem nou al een aand by my voete op die bank gelê. Kersoggend het hy my toegelaat om hom onder sy ken te krap, dit was ‘n groot geskenk! Vriende se driejarige dogtertjie het hom spontaan ‘the Hiding Cat” genoem – ‘n raak beskrywing.

Krismiskat Diesel

Midnight is net ‘n flentertjie lewe, maar ‘n bloeddorstige jagter. Sy het al binne een week ‘n mol, ‘n muis en ‘n eekhoring vir haar nooi kom present gee.

krismiskat Midnight

Daisy – ag, Daisy is die essensie van alles wat mooi is van ‘n hond.

Daisy met Santa

 

Die kristalglasvaas – en reënboë

Desember 17, 2013 in Uncategorized

Die tasse wat ek vir my VSA-kuier gepak het se inhoud was waarskynlik taamlik eksentriek: hardebandboeke – Terry Pratchetts en Harry Potter – ‘n slapbandboekie uit Efese en ‘n gidsie tot Pompeii, fyn koffiekoppietjies, ‘n skilderytjie van viooltjies en nog een van ‘n Kaapse landskap. Kosbaarhede wat my dogter by haar ma geberg het terwyl sy die wêreld verken en goed uit haar kleintyd wat vir haar mooi was. Die handbagasie het twee yslike sjinese vase en ‘n glasbak bevat en in die een tas, veilig in borrelplastiek toegedraai, was die kristalglasvaas wat nou met inca-lelies op my kind se eetkamertafel pryk. Ek is so bly sy wou die vaas hê.

Dit was ‘n trougeskenk aan my ouers toe hulle in 1938 by die Voortrekkermonument getroud is. Die gesnede glas het vele fasette en skerp kante, tot onder die voetstuk is ‘n sierlike patroon uitgesny. Die vorm is ideaal vir iemand wat lief is vir blomme maar nie genoeg van rangskik af weet nie: die ovaalvorm buig effens in en waaier dan uit boontoe, sodat elke blom tot haar reg kom en die steeltjies baie water het om te drink. Dis ‘n mooi, swaar vaas wat saam met my geswerf en oorleef het, maar dis nog meer: vir my is dit ‘n simbool van my mammie se moed en deursettingsvermoë. Toe ek drie jaar oud was, het my ouers huis gebou en hulle besittings in ‘n stoorplek laat bewaar. Daardie stoorplek het tot op die grond afgebrand, maar my mammie het in die as gaan grawe, ‘n paar boeke met geskroeide kante opgediep en ook die vaas – pikswart gebrand, maar heel.

Nou staan dit in my kind se eetkamer met die pers mure. Smiddags vang dit die son se strale, wanneer die son oor die wit sneeu daarbuite skyn. Dan strooi die meesterlik-gesnyde glas reënbogies teen die muur. Die betowering van reënboë assosieer ek met my liewe meisiekind, reeds sedert die dag toe sy haar laaste matriekvraestel geskryf het en ons saam ‘n reënboog bewonder het – soos die belofte van ‘n lieflike toekoms vir haar. Daarna het ek telkens ‘n reënboog gesien wanneer sy op pad huis toe was, sekerlik maar net omdat dit gewoonlik somer was, maar tog…

Wanneer ek teruggaan Suid-Afrika toe, sal die vaas nog sy veelkleurige sonkolle teen die mure strooi, om haar te herinner aan haar ouma en haar ma en haar te vertel dat ek so innig dankbaar is oor die lewe wat sy en haar liewe man hier bou.

Die innerlike kind ruk hand-uit

Desember 12, 2013 in Uncategorized

Die dag toe ek ‘n sneeu-engel maak, met die eerste sneeu van my lewe…

100_1084 100_1085 100_1086 100_1087

Skemertyd

November 30, 2013 in Uncategorized

Gister was my laaste dag op kantoor. Ek is verskriklik bederf: met pêrels, ‘n yslike mandjie blomme en ‘n ete in ‘n lieflike restaurant. Ek het meer drukkies gekry as in die afgelope sewe jaar en mooi woorde is gespreek.

Ek kyk vir oulaas by die venster oor die parkie uit. Tussen donker wolke gooi die son sy goue strale in ‘n skouspelagtige patroon.

Dis die aand van my lewe.

Ek was nog altyd lief vir die skemer.