Aaaaargh!!

April 1, 2014 in Uncategorized

Gister moes ek in die middestad van Pretoria in ’n goewermentstou gaan sit – een van daai waar mens gedweë van die een stoel na die ander beweeg en in die proses jou bobeenspiere en jou bloeddruk iets aandoen.

Dan kom jy by die toonbank uit en verneem dat ’n verklaring van die bank dat dit wel jy is en dat jy wel ’n rekening by hulle instansie het, nie genoeg is nie – nee: die lot wil ’n bankstaat ook hê. Oja, en ’n gesertifiseerde afskrif van jou ID – die oorspronklike dokument is nie goed genoeg nie. Gevolglik pak ek die strate van Pretoria aan en gaan staan in nog ’n paar toue – darem korter as daardie monster waarvoor ek oorspronklik moed bymekaar moes skraap.

Van die strate is omgedolwe, met rye geel plastiekhekke wat moet keer dat motors nie daar infoeter nie. Vullis lê op die sypaadjie, met somervlieë wat klewerig gons. Die hele dekselse plek is so vuil dat ek nie eens ’n bottel water wil koop om dehidrasie te keer nie. ’n Haarkapper se slagspreuk (“Where style and beauty meet”) breek my hart… Kerkstraat word lank nie meer Kerkstraat genoem nie en vir die eerste keer voel ek dis goed so!

Terug in die oorspronklike tou vat dit nog drie ure voor ek by die selftevrede boelie agter die toonbank uitkom. Dié maak my so kwaad dat ek hom nie eens groet toe ek loop nie – dit sal my gladnie verbaas as hy my pampiere laat wegraak nie. Wanneer dit by organisasie kom, skiet ek ver tekort, maar selfs ek sien die onlogika van die hele opset raak en dit frustreer my mateloos.

Dink julle toustaan (oftewel tousit) het ’n nasionale sport geword?

9 antwoorde op Aaaaargh!!

  1. Twaksak het gesê op April 2, 2014

    Toustaan of tou-sit?
    Nogals nasionaal, maar NIE sport nie!

  2. tina10 het gesê op April 2, 2014

    Ja mens kan sowaar aanneem dat jy gaan wag in hierdie land

  3. Dirkie het gesê op April 2, 2014

    Annah Moabi het besluit bogger die kinder toelaag waarop sy geregtig is.. na 2 dae se sit in toue en bankstaat aandrae.. maar sy het haar hou ingekry ..die laaste strooi was toe die dametjie vir haar vertel jou id is oud. Dit na al die pogings om die regte dokumentasie aan te dra- Vlieg sy daardie mens in en vertel haar oor haar swak maniere en geen respekte en vertel haar sy’s lui en mens kou nie twienggum as jy praat met ouer mense nie… en op die koop toe het sy haar gaan verkla in die kantore. My skoonseun moes eenkeer in Verkeerskantore iets kry ..hernuwing van lisensie of so iets.. daardie spykerhakdames was een te veel vir hom, hy’t vriendelik aanbeveel sy moet miskien gemakliker skoene dra as sy agter toonbank wer …oeg 7 jaar se drame!!
    Al gewonder as mens nou so jou sit-sit wag ,,as mens nou uit volle bors begin sing “Uit diepte gans verlore ..” dalk ken jy dit .

  4. perdebytjie het gesê op April 2, 2014

    Hierdie burokrasie is die grootste euwel en dit grens aan totale onbeholpenheid.Ek maak altyd seker dat ek nooit in so ‘n tou gaan staan sonder alle moontlike dokumente nie,selfs tanderekords (grappie)gaan saam!

  5. lora2me het gesê op April 2, 2014

    Daar is sekerlik ‘n Wet (nie Murphy’s nie) wat sê hoe onwaarskynlik dit is dat jy NIE iewers in ‘n tou by ‘n staatsinstansie wat vaalgeel of afgroen geverf is, gaan staan nie en hoe meer goue tande en juwele die persoon agter die toonbank het, hoe langer gaan jy staan. Iemand kan geld maak as hulle ‘n groot A4-DNA-sakkie vir grootmense maak wat altyd byderhand moet wees, selfs as jy net JOU geld uit JOU eie rekening wil trek of JOU stadsraadsrekening regtig WIL gaan betaal. Om ‘n betalende burger te wees en die regte ding te doen, is nie vir sissies nie.

  6. tantekoba het gesê op April 2, 2014

    Ons het Pretoria einde 1978 verlaat – en die stad van toe is nie die plek van vandag nie.
    Nie heeltemal van toepassing op jou toustaan strorie nie, maar oor Pta oor die algeneem. Hierdie is die kommentaar wat ou skoolmaat van my aan ‘n amerikaanse vriendin van haar op FB gelaat het:
    Barbara in 1990 the country released Nelson Mandela and handed over the country to its new black empowered cabinet. In these past 24 years we have watched our once beautiful 1st world country turn into as slum as David says in one of the comments. 24 years it took to just turn our country into a 3rd world unsafe country where atrocious murders are committed our roads have become unsafe…. muggings at traffic lights… and of course the saddest….. our once beautiful Jacaranda city has turned into a dusty African commune over run with Nigerian drug lords and homeless Zimbabweans. Only certain areas are safely accessible. The streets where we once used to walk in… even as children ….. well they are not safe anymore.
    as jy die opmerking te polities vind kan jy dit maar “delete”

  7. vuurklip het gesê op April 2, 2014

    Hier in Wynberg se Dept. van Binnelandse Sake is daar ‘n natuurwet in werking:
    Die tou moet altyd 43 mense lank wees. Sodra dit minder word, werk (sic!) hulle nóg stadiger.

  8. vega het gesê op April 2, 2014

    Kindle, mens, Kindle. 3 ure gaan sommer gou verby as jy boeklees. En ek neem snacks saam en deel sommer met amal.

  9. Die boelie agter die toonbank misbruik sy mag. Dis om van naar te word!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.