Die dae het ’n stadige siklus, bepaal deur my kleindogtertjie se slaappatrone.
Soggens as die wilde verkeer daarbuite ruis, sit ons rustig met alles wat ons nodig het, byderhand. Soms gaan stap ons ’n entjie; soms sit ons buite op die bankie om sonlig te skep. Ons kyk op in die reuse-doringboom langsaan en luister na die kransduiwe se “koe-koerdoek”. As ons die wilde wit kat raaksien, roep ek: “Kat!” – wie weet, dalk is dit nog die kleinding se eerste woordjie.
Dag vir dag sien ek hoe vorder sy: nou is die voorarmpies al sterk genoeg vir die kruipposisie en sy seil ook flink agteruit. Vandag het sy tweemaal van haar ruggie op haar magie omgerol. As sy vir my, haar mamma, haar pappa en haar ander ouma en oupa sien, glimlag die pienk bekkie wyd en vrolik – ander mense is nie so bevoorreg nie.
Haar ogies het die kleur van ’n Kaapse riviermonding: daar waar die amber rivierwater en die blou see bymekaarkom. Daardie ogies is so vars en onskuldig, so sonder pretensie, en om hulle te sien omdop van die vaak is tegelykertyd snaaks en vertederend. Ek bederf ons albei deur haar vas te hou terwyl sy slaap (gelukkig doen haar mamma dieselfde!) en die droompies te volg wat oor haar gesiggie flikker.
Die skrywer Kate Atkinson verwys na “the equal measures of joy and terror” in ’n ma se hart – hoe goed vang sy tog mens se emosies in woorde vas. As daardie babalyfie styfskop en miniatuurtraantjies uit haar ogies pers, is hierdie oumahart reddeloos.
’n Vriendin van ’n vriendin volg ’n kursus in “gedagtigheid” (hulle vertaling van “mindfulness”). Een van die aanbevelings is: “Hug a mammal.” Hoe geseënd is ek dat ek elke dag hierdie klein soogdiertjie mag vashou…
Onlangse kommentare