Die dag van die vier elemente

Maart 8, 2014 in Uncategorized

(Hierdie inskrywing is spesiaal vir @klarisabet, wat op my kommentaar op TLR @lines se lieflike inskrywing “Elemente van die liefde” gereageer het deur te vra ek moet vertel van die dag toe ek al vier elemente met die skerp sintuie van die jeug kon beleef.)

In die sewentigerjare van die vorige eeu was ek jonk en laf en ek het my beskermengele baie besig gehou.

Die Timbavati-reservaat naby Hoedspruit was destyds die afsonderlike besit van verskeie grondeienaars en ons was bevoorreg om by die seun van een so ‘n eienaar te kon gaan kuier. Daar was net jongmense en ons het die rondawelkamp behoorlik op horings geneem.

Vreesloos stap ons met die mopaniebospaadjies langs, nadat leeus die vorige nag tussen die rondawels deur geloop het.

Ek duik met klere en al in die water in waar die stroom opgedam is maar vinnig oor die sementsluis vloei, en kort voor lank plas ons almal heerlik rond.

Laatmiddag hou ons ‘n modeparade en poseer verspot teen ‘n rooigrondwal.

T. sleep sy musiekstelsel met die yslike luidsprekers oor die wit sand na die boma toe, waar wildsvleis op die kole sis. Die folk-musiek laat ons ver en diep verlang… Dis skemertyd en ‘n sagte windjie streel die dag se hitte weg. Die lug is pienk en daar gaan netnou ‘n volmaan opkom.

Ek leun teen die warm stene van die ringmuur en hou die flikkerende vlamme dop terwyl die verwondering van die dag in my hart oopvou: grond, lug, water en vuur – vandag kon ek die vier elemente van die aarde intens geniet.

7 antwoorde op Die dag van die vier elemente

  1. tina10 het gesê op Maart 9, 2014

    Ag hoe lekker!

  2. perdebytjie het gesê op Maart 9, 2014

    Ai,mooi geskryf!

  3. ‘n beter plek as Timbavati kon jy nie gekies het vir hierdie elemente nie. Die plek met die Wit Leeus…..

  4. maryna het gesê op Maart 28, 2014

    Tannie Frannie het my nou skoon droomverlore geskryf. Pragtig woorde.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.