New York, New York

Februarie 18, 2014 in Uncategorized

In plaas van Maandagoggend rustig die pad te vat, trek ons Sondagnag halfdrie weg New York toe, om die dreigende sneeu te probeer voorspring. Ten spyte daarvan, ry ons nog steeds die laaste ent pad in warrelende sneeu – my skoonseun skakel die motor se ligte vol aan en sê: “Look! It’s Star Wars!” Ja waarlik, die triljoene warrelende vlokkies maak lang ligstrepe, kompleet soos die laserstrale van wetenskapsfiksie.

Net na ses die oggend parkeer ons die motor in ‘n beknopte kelder en gaan soek lafenis by die kafeetjie langs ons hotel. Die Turkse eienaar en sy vrou laat ons genadiglik binne, al is hulle nog nie heeltemal gereed vir klante nie. Warm tee was nog nooit so lekker nie… Ons kan nog nie inboek nie en besluit om die subway na Central Park te haal.

G’n museum is dié tyd oop nie, dus loop ons die park binne, beland by die Reservoir en bou ‘n sneeumannetjie op ‘n muurtjie, stap dan dieper die park in.

100_1267

Knoetsige ou boomstamme maak donker patrone onder hulle vragte sneeu.

100_1270

Dis bitterlik koud, maar ons is goed gepantser. Die sneeu maak kolle op my bril, maar dit gaan niks help om dit te probeer afvee nie. Ons word wonderlik beloon vir ons dappere ontbering:

100_1271

Stylvolle “uptown” NewYorkers is besig om hulle honde in die sneeu te laat baljaar. Terwyl hulle base mekaar op die naam groet en gesels, hardloop en speel die honde, heeltemal uit hulle velle uit van opwinding. ‘n Goue en ‘n swart Labrador rol om en om in die sneeu, kry mekaar (sagkens) aan die keel beet, spring dan weer weg en hol soos maniakke. ‘n Pug draf stywerig, haar pootjies in kousies gehul, ‘n elegante jassie oor die rug. Nelly, ‘n “Samoyed”, maak beleefd met ons kennis en haar eienaar vertel dat sy floreer in temperature onder vriespunt. Sy is die mooiste hond, omtrent so groot soos ‘n bokser, met ‘n spits snoet, punt-ore, donker oë en digte wit wolpels. ‘n Kenmerk van dié Siberiese honde is hulle swart lippies, wat dit laat lyk asof hulle glimlag – Google noem dit die “Sammy smile”. Nou en dan kry ‘n hond ‘n gier en hardloop sommer ‘n koers in, tot konsternasie van sy baas of nooi. My dogter gee later ‘n raak beskrywing: “Ons het ‘n hele gemeenskap ontdek!”

So ontdek ek, na ver stap in die koue, ligamente waarvan ek nog nooit voorheen geweet het nie. In my hart dartel ek langs Broadway, maar in werklikheid kan ek daardie aand skaars myself tot by die Majestic Theatre voortgesleep kry om die vervoering van Phantom of the Opera te gaan beleef.

100_1287

Laatnag koop ons vars-gesnyde vrugte by Walgreens. Die sappige tropiese geure was nog nooit so lekker soos in die stad wat nooit slaap nie.

 

5 antwoorde op New York, New York

  1. tina10 het gesê op Februarie 18, 2014

    Oo ek is skoon hartseer … so ervaring kom nie baie gereeld nie. Veilige terugreis!

  2. Wat ‘n wonderlik lekker vakansie.
    Voordat ek my kop eendag finaal neerlê, hoop ek sal regtig dat ek weer die sprokieswêreld wat deur sneeu geskep word, kan ervaar

  3. vega het gesê op Februarie 18, 2014

    Sjoe, NY in die winter, wat ‘n ondervinding!

  4. Wat ‘n heerlike ervaring! New York is omtrent die enigste stad in Amerika wat ek graag sou wou sien (as iemand my kaartjie vir my betaal, want ek spaar eerder vir Europa, die OU wêreld) Ek het lekker gelees. Lekker daggie vir jou!

  5. Awesome, soos die Amerikaners alles beskryf! Ek beny jou hierdie wonderlike reis.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.