Weerberig (2)
Februarie 24, 2014 in Uncategorized
Die warm lug van Afrika is maklik om in te asem – sag en vogtig. Die son skyn warm op my arms, ek kan eintlik voel hoe die Vitamine D versprei.
Toe ons terugkom van New York af, was die sneeu so dik dat dit weke lank die landskap bedek het. Die sneeubloeisels in die bome het in yskristalle verander; een helder sonskynmiddag was daar orals ligprismas in die kaal boomtakke.
Ys-stalagtiete drup orals.
Waar ons die sneeu omgedolwe het om Sneeuman nr. 4 te bou, lyk dit soos die punte van ‘n hoogs suksesvolle meringue net voordat dit oond toe gaan.
Daisy-hond staan tot by haar elmboë in die sneeu en as sy ‘n bal terugbring sodat my dogter dit weer kan gooi, moet sy deur die sneeu huppel soos wat ‘n dolfyn deur golwe spring om enigsins te kan vorder. Sy speel te heerlik: jaag agter die bal aan, verloor dit kammakastig, bespring dit dan en begin die energieke terugtog.
My eie terugtog word met drie uur vertraag: twee uur in Washington en een uur in Dakar. Die doeanebeampte se Afrikaans op OR Tambo: “Welkom terug!” is lafenis vir my siel.
In die pos wag daar ‘n simpatiekaartjie van die dierehospitaal af en ek is opnuut hartseer oor my ou Skoonlief…my liefste kat, wat my dogter destyds vir my gegee het.
In ‘n laai kry ek ‘n ou foto’tjie van my dogter. Die kamera het haar mooi glimlag vasgevang, die toegeneentheid in haar oë.
Eenuur in die nag sit ek hier: vlugvoos, helder wakker en sonder my viervoetige troostertjie. Die wit kat is nêrens te siene nie – volgens Laatlam het sy basies vir my gesê: “Ef jou,” toe ek haar met groot bohaai wou groet.
Tog is die warm Afrikalug soet in my longe.
Onlangse kommentare