Weerberig

Januarie 23, 2014 in Uncategorized

Maandag was ‘n somber dag: bewolk en koud.

Dinsdagoggend vroeg begin dit sneeu: fyn vlokkies wat warrel in die wind. Die Stars ‘n Stripes aan die vlagpaal voor die huis wapper in die teenoorgestelde rigting as gewoonlik. Ek kyk uit oor die straat met die oop erwe en die geverfde houthuise, sien hoe die sneeu teen die agtergrond van die pragtige gestroopte bome in die laagte dans, hoe die vlokke later groter word.

Die hele dag lank sneeu dit. Die klein beeldjie van ‘n meisie op die “deck” kry ‘n wit kappietjie; aan die verdroogde somerblomstruik bot sneeubloeisels. Die glaspaneel in die kombuisdeur het ‘n raampie sneeukristalle. Die grasperke waaroor eekhorinkies verlede week gehuppel het, word bedek – die landskap is een groot kerskaart, met regte kersbome, versier met ‘n valletjie sneeu op elke tak.

Daisy die hond baljaar in die sneeu, proes die sneeu van haar snoet af; Midnight die kat sit iesegrimmig op die vensterbank na buite en tuur. Die bure se kleinkind ry slee in hulle agterplaas teen die bult af, sommer so terwyl die sneeu val. Daisy gaan groet, maar dis net ‘n rukkie, dan is alles weer stil, behalwe vir die warrelende vlokkies.

Die sneeulorrie jaag teen die bult op, skraap sneeupluime uit die pad uit. Netnou gaan hy weer terugkom om die ander kant van die straat skoon te skraap. Op sy bak lê ‘n hoop vaal sout, wat hy vroeër kom strooi het sodat die sneeu makliker smelt. Nou en dan kruie ‘n motor verby: versigtig, versigtig, sodat dit nie op die ys gly wanneer die bestuurder moet rem nie. Op die groot snelweë waarsku groot borde permanent: “Bridge may be icy before road” en as mens sou wou, kan jy dramatiese video’s gaan soek van verkeersdramas.

Hier en daar spit iemand die sneeu uit ‘n oprit, of maak ‘n paadjie om die huis met ‘n sneeuploegie wat ‘n stroom sneeu eenkant toe uitspoeg. As mens te lank wag, ys die sneeu vas.

Woensdag skyn die son helder, maar die buite-temperatuur bly onder vriespunt. Binne is dit heerlik warm, danksy die sentrale verhitting, dubbele vensters en geïnsuleerde mure wat vanselfsprekend deel is van elke huis.

Vlagies wind warrel die sneeu in die lug in op; duisende klein blinkertjies in die sonlig. Oor die stralende wit oppervlak skiet hier en daar vonkies lig. Vir die eerste keer verstaan ek werklik die treffende vergelyking: “Witter as sneeu…”

Sneeu 7Sneeu 11100_1155Sneeu 8

13 antwoorde op Weerberig

  1. tina10 het gesê op Januarie 23, 2014

    Aha ek het al te lekker gelees… Geniet die laaste tydjie by die kinders!

  2. Godiva het gesê op Januarie 23, 2014

    Hallo Tannie Frannie,

    jy beskryf die sneeu so noukeurig. En daardie stilte wat oor alles daal terwyl dit sneeu is altyd vir my so mooi.

    Altyd half moeilik om mense te oortuig dat in lande waar dit sneeu die huise binne knus is al is dit hoe diep onder vriespunt buite. Ek dink as ek nou ‘n winter in SA moes deurbring sou ek vrek van die koue omdat die huise binne nie goed genoeg ge-isoleerd is nie. Daar is alles meer ingerig vir somerhitte.

    Lekker sneeumannetjie daardie, so met die tak armpies wat so wyd staan. Gaan jy ‘n sneeu engel maak terwyl die sneeu lekker vars is? 🙂

    Geniet elke oomblik.

  3. Dankie, ek maak so!
    Het met die vorige sneeuval drie sneeu-engele op ‘n ry gemaak, maar hierdie keer was ek so ‘n bietjie lui…

  4. Wonderlike ervaring nè!
    Begryp die ongerief van gladde paaie ens ens, bly vir my sprokiemooi

  5. Jy beskryf dit so mooi,dit voel of ek daar is!Pragtige foto’s.

  6. Bruggie het gesê op Januarie 23, 2014

    Pragtig. Ek huiwer om te mor , maar ek meen die sout verlaag die vriespunt, sodat gladde ys slegs teen laer temperatuur vorm. n Kar
    skaats op ys. Geen remme is skrikwekkend.

  7. Jy beskryf dit SO mooi!

  8. Wat ‘n besonderse ervaring.

  9. Ag lekker – net koud!

  10. Sjoe dis mooi beskryf! Geniet die laaste dae daar. Hier vrekkkkk ons van die hitte!

  11. maryna het gesê op Februarie 1, 2014

    Dit lyk bitter koud daar, maar hoe betowerend. Ek lees altyd heerlik hier by Tannie Frannie. Sneeu het ook so ‘n diepe simboliese betekenis, dankie vir hierdie mooi inskrywing.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.