Berou?

Januarie 16, 2014 in Uncategorized

Ons woon verlede Sondag weer die kerk by waar my kind ‘n geestelike tuiste gevind het. ‘n Jong vrou wat in die gemeente grootgeword het, vertel van haar sendingwerk in Suid-Afrika. Die grootste deel van haar vertelling word aan Nelson Mandela gewy: hoe hy 27 jaar in die gevangenis moes slyt – “for no other reason than his race” – en hoe sy vergewensgesindheid “a bloody civil war” voorkom het. Tussendeur is daar argelose verwysings na die gruwele van apartheid. Na ses jaar se arbeid in Kayelitsha, Kaapstad, wemel hierdie vrou se opvatting van ons onlangse geskiedenis van veralgemenings en halwe waarhede. Aan die einde van haar aanbieding is daar darem foto’s van die kleuterskole wat sy bedryf en die opleiding wat sy gee.

By die deur groet ek haar, vertel dat ek van Suid-Afrika is, sê vir haar dat ek dink sy is dapper om sulke goeie werk te doen. (Om nou in ‘n argument betrokke te raak, gaan geen doel dien nie. Ek is in elk geval nie daarvoor toegerus nie; vanweë my volstruismentaliteit het ek nie genoeg kennis nie. Omdat ek nie lus het om daaroor te lees nie, kan ek nie die indruk van 27 jaar se klippe kap op Robbeneiland weerlê met fyner besonderhede oor die omstandighede waarin Mandela later aangehou is nie.) Sy hou my hand vas, roep met warmte uit: “But you were there – you lived it!” Ek beaam dit en hoef gelukkig nie te vertel hóé ek dit geleef het en nog steeds leef nie, want die ry beweeg verder.

Mense van my era loop swaar gebuk onder “mea culpa”. Skrynende verhale van hartseer en lyding glip verby ‘n mens se skanse en dit help niks om te sê: “Maar ek het nie geweet nie.” My eie kerk moes toegee dat apartheid geen Bybelse regverdiging het nie (ten spyte van Noag se drie seuns en die houthakkers-en-waterdraers-argument). Die geskiedenis word herskryf en maatreëls wat met die beste bedoelings ingestel is, word gedemoniseer.

‘n Mens sou kon redeneer totdat jy blou is, maar die tydsgees is teen jou. Die name van dié wat aan regeringskant in die bos-oorlog gesneuwel het, is nie op die muur in Freedom Park aangebring nie en toe ek daaroor vra, haal die gids net haar skouers op. Die Waarheids- en Versoeningskommissie het op die vergrype van slegs een kant gekonsentreer.

Hoe nou gemaak, met die gevoelens van ontnugtering, verydeling, tevergeefsheid? Hoe gemaak met my dierbare moedertaal wat as “die taal van die onderdrukker” gebrandmerk is en steeds van haar openbare funksies moet inboet? Hoe gemaak met die room van ons land se jongmense wat elders ‘n toekoms gaan bou?

Soos Vrybuiter, is ek “by die naelstring aan (hier-)die land verbind”; soos Exionperfexi, sou ek graag ‘n nuwe lied van jong Suid-Afrika wou sing. Ek glo die oplossing is om te vergeet van skuld en berou, vergrype en verwyte; om ons land met al sy mense te geniet en te waardeer. Dit verg altyd veel meer om op te bou as om af te breek.

 

9 antwoorde op Berou?

  1. Bruggie het gesê op Januarie 16, 2014

    Jy sê alles in jou laaste paragraaf.

  2. vega het gesê op Januarie 17, 2014

    Dis vir seker ‘n baie komplekse situasie. Ek vind ook dat dit eenvoudig net te moeilik is om die hele storie van al die kante af, te vertel.

  3. ek en jy is baie op dieselfde golflengte
    Wat vir my hartseer is, is die feit dat sy godsdiens en politiek so aan mekaar koppel

  4. Godiva het gesê op Januarie 17, 2014

    Sommer net n virtueele drukkie vir jou tannie fran.
    S.A en haar mense het nog n lang pad om te loop na volle genesing.

  5. Amerikaners is seker die mees oningeligte wesens op dese aardbol, waarskynlik agv ‘n oordosis sensasionele nuusberigte wat aan hulle gevoer word 24/7 deur sulkes soos CNN – en weer ‘n klinkklare bewys dat elkeen se moraliteit gevoed en in stand gehou word deur elkeen se eie aangeleerde bevooroordeeldheid 🙂

  6. Twaksak het gesê op Januarie 18, 2014

    Ek dink mens moet in die hede leef. En die oorwinnaar skryf altyd die geskiedenis – as jy kyk na hersiene weergawes het ons dit ook gedoen…

  7. Mens het net jou eie gewete – as jy nie gewwet het nei, het jy nie geweet nie – en niks kan dit verander nie – dissie nodig om kamma-skuld op mensself te neem nie.

    Mense vergeet dat ons nie, soos die Amerikaners en die Australianers, die plaaslike bevolking uitgemoor het nie.

  8. Ek voel ook dat almal van ons moet nou aanbeweeg. Ons is almal hier gebore en lief vir die land. Vergeet van die verlede en hê deernis met mekaar.

  9. Twaksak is reg met sy stellings, ek wil nie verder uitbrei nie want dit is als twintig jaar terug in die geskiedenis en voel dat almal wat in die land woon moet begin aanbeweeg, n mens kans slegs die toekoms verander nie die verlede nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.