Die geel tas

Oktober 19, 2013 in Uncategorized

Vandag het ek ‘n kanariegeel tas by die hospice gaan afgee.

Die ouderdom het vir hom – soos vir my – bygekom, maar ek onthou sy gloriedae.

Dis met hom wat ek Spanje toe is, met hom en sy bypassende smuktassie, wat lankal verdwyn het. Daardie dae het mense nog nie die slim patent van wieletjies uitgedink nie, maar hy was regtig ‘n luukse tas. In die een helfte kon ek klere hang wat dan netjies ingevou is; die ander helfte was in twee verdeel wat met knippe en riffelrek met gespes die klere vasgehou het.

Spanje – die begin van my Europese toer – was wonderlik, maar die laaste dag, by die graf van Goya, het ek ‘n eienaardige droefheid ervaar. Toe ek in Londen aankom, het ‘n Suid-Afrikaanse ambassadelid my ingewag om te sê my pa is oorlede. Ek glo nou nog dat my pa se gees daar in Spanje vlugtig by my was… Ek en die geel tas is huis toe.

Baie jare later het twee kleuters kop, pens en pootjies in daardie einste tas geklim en heerlik vliegtig-vliegtuig gespeel. Hulle pa was op kursus en ons het oor ‘n naweek vir hom gaan kuier. Die kinders was verveeld en die tas was ‘n wonderlike oplossing.

Daarna was die tas maar mankoliekig en het dit die bêreplek van my aandrokke geword. Die romantiek van glansaande het in daardie tas geskuil, tussen valle organza, blinkers, satyn en Franse kant.

Die aandrokke is weggemaak en daar’s nie meer plek vir die tas nie. Dankietog dat herinneringe in mens se hart geberg kan word.

 

 

10 antwoorde op Die geel tas

  1. So mooi geskryf,dankie Tannie Frannie!Ek het ook ‘n paar sulke tasse wat wag om leeggemaak te word.In een is nog my kinders se babaklere.Ons het dit nou die dag uitgehaal en sowaar my niggietjie en dogter het van die goedjies geneem vir hul eie babas..goed wat al dertig jaar plus oud is.

  2. Ai, as die tas kon praat….. Wat sou hy nie alles vertel het nie!

  3. tina10 het gesê op Oktober 19, 2013

    Dink net nou kan iemand ander verder mooi herinnering met die tas maak.

  4. @frandr As ek die frandr sien wonder ek altyd of dit vir Fran Drescher staan, die vrou van The Nanny. Ja, so moet mens een of ander tyd, van baie dinge ontslae raak en ongelukkig is daar dan nie pleik vir sentiment nie en soos jy sê, bly net die herinneringe. Moes dit onlangs ook doen, die minder maak ding.

  5. Wat ‘nlekkerlees inskrywing!

    Ek kan onthou my ouma het so beige smuktassie gehad. En ‘n silwer teestel. En al sulke interessante goed. Sy en my oupa het vir lank in Engeland gewoon vir my oupa se werk toe my ma-hulle nog op skool was.

    Jare later het als in hulle huis ‘n storie gehad. Dit was so interessant. En vandag is daar niks oor. Net herinneringe.

  6. Bruggie het gesê op Oktober 20, 2013

    Pragtig, Fannie ! Destyds buiteswier, deesdae binne by jou. Klas vergaan nie.

  7. In my tas van herinneringe….

  8. Jy skryf so mooi. Hoe lyk dit met n boek oor jou lewenservaring? Mag dit goed met jou gaan in jou nuwe blyplek! Terloops, het jou beehive-foto opgespoor in daardie ou Trek op die Pro Arte-foto, met die mooi bril.

  9. katrina het gesê op Januarie 1, 2014

    Hoe lekker vang ek nou op! Jy skryf so mooi!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.