Die engel op my pad

Oktober 10, 2013 in Uncategorized

Die trekkers daag toe – volgens my – te vroeg op, met die gevolg dat daar heelwat los goed oorbly wat ek maar die volgende dag self moet gaan trek. Die motortjie dink hoeka hy is ‘n bakkie as sy nooi die sitplekke afslaan en hom begin volpak.

Wanneer die meubels uit mens se woonplek is, skrik jy vir die kolle en die stowwe, dus vee en skrop ek vervaard, die hele dag lank. Laatnag – halftwee, om presies te wees – is selfs die garage leeg. Ek pak die twee katte in hulle mandjies en die laaste goeters in die kar; die vrag op die passasiersitplek is dakhoogte.

Toe ek om ‘n draai in die kompleks ry, skuif daardie vrag na my kant toe. Iewers tussen die rommel is ‘n teepot waarvoor ek baie lief is – ek probeer dus die vrag weer terugskuif en kyk nie waar ek ry nie. Die volgende oomblik ry ek die spoedteken op die hoek om dat jy net wrede kraakgeluide hoor. In trurat kry ek die motortjie uit die bedding uit en gaan bieg by die sekuriteitswag oor wat ek aangevang het.

Nou moet ek by die nuwe blyplek uitkom met my kosbare vrag katte en die teepot en al die ander rommel…

Voor Grove Winkelsentrum, in ‘n verlate Lynnwoodweg, begin los plastiekstukke van die flenterse stamper teen die motor se wiele skuur. Ek besef ek kan nie so aanhou ry nie en hou maar stil, klim met my hart in my keel uit die kar uit. Die volgende oomblik maak ‘n ADT-voertuig ‘n u-draai en kom hou voor die motortjie se stukkende neus stil.

‘n Lang, skraal jongman klim uit en bied sy hulp aan. Hy vertel dat hy dikwels mense help terwyl hy so in die nag patrolleer. Een, twee, drie het hy die los plastiek afgepluk en weggesny. Ek onthou sy sagte, moeë oë en hoe die nagwind sy hare verwaai het. Hy reël dat iemand die volgende oggend na die motortjie kom haal en met die versekering skakel en sê ek kan nou veilig verder ry.

Dankie, Emile – my ridder – nee, veel meer: die engel op my pad daardie nag…

Kommentare gesluit