Oopplan
Augustus 31, 2013 in Uncategorized
‘The open plan is hell’, was die woorde van ’n eks-kollega tydens sy ‘exit interview’.
Gelukkig is ek dit gespaar – die ergste waaraan ek gewoond moes raak, was ’n kantoor met vier of vyf werkstasies. Die mantra: ‘Jy is ’n ma, jy kan hoor-en-sien-vergaan hanteer!’ het my daardeur gekry. Twee maande voor aftrede, sit ek nou in ’n lieflike hoekkantoor – twee werkstasies, maar die ander een staan leeg. Ek kyk uit oor ‘n parkie, waar die werkloses in die sonnetjie lê en slaap en die hadidas gister se kitskosrommel vir oorskiet deursoek. As ’n wysneus my ewe verbaas vra: ‘Is jy NOG hier?’ antwoord ek: ‘Ja, ek kyk uit oor die park – die volgende stap is die park!’
In my persoonlike lewe was ek nie so gelukkig nie; ek het in die oopplan van ’n alleenloperlewe beland. Saans eet ek Kentucky – geroosterde broodjies – Roman’s – jogurt – vier aande op ’n ry dieselfde spyskaart as ek die dag sover kom om behoorlik kos te maak. Ek deel my bed met ’n warmwatersak en twee katte. Wat hoogtepunte behoort te wees – ’n troue, die doop van ’n kleinkind, ’n kuier by kinders wat ver weg woon – het altyd, onvermydelik, ’n ondertoon van skrynende eensaamheid.
Rondom my sien ek die ouer paartjies: geïrriteerd of gelukkig; ongeërg of liefdevol; vasgekeer of geborge. Ek wil hulle so graag vermaan: ‘As jy getroud is, moet jy getrou bly aan jou man of vrou. Veg vir die geluk van jou lewensmaat.’ Want ons het heeltemal die verkeerde idee van ‘sonde’: ons moet dit nie vermy uit piëteit nie, maar omdat dit ons van ons Godgegewe geluk, blydskap en vreugde stroop.
Die oopplan is hel.
Carol R @ Losbek het gesê op Augustus 31, 2013
Drukkie!
Tannie Frannie het gesê op Augustus 31, 2013
Dankie, liewe Carol @Losbek
Lewies Mymer het gesê op Augustus 31, 2013
Hierdie woorde stem my tot diep nadenke en dankbaarheid. Geen oop plan vir my nie!
Tannie Frannie het gesê op Augustus 31, 2013
Dis soos dit hoort, Lewies @pasella
Henry @kompethenry het gesê op Augustus 31, 2013
Sterkte!
Tannie Frannie het gesê op Augustus 31, 2013
@kompethenry Iemand het gesê: ‘I’m one failed relationship away from 59 cats’ – is dit nie kostelik nie?
Henry @kompethenry het gesê op September 1, 2013
*grin*
Ja nice!
Bruggie het gesê op Augustus 31, 2013
Ek leer jou beter ken
Tannie Frannie het gesê op Augustus 31, 2013
@benvanbruggen Hei Bruggie, die Kaap het vir ons erge koue gestuur vandag!
tina10 het gesê op Augustus 31, 2013
NEEEEEeeeee hoe kan jy dit sê? As Oopplan God se plan is kan dit tog nie hel wees nie?
Ek glo dat eensaamheid ‘n keuse is. Vra my – ek praat van ondervinding. Moet ‘n mens nie die beste van dit wat jou kant toe kom maak nie?
Tannie Frannie het gesê op Augustus 31, 2013
@tina10 Jy’s heeltemal reg, Tina, en ek besweer die eensaamheid met mag en mening. Intellektueel besef ek ook dis beter so, maar in my hart rebelleer ek – want ‘Twee is beter as een…’
tina10 het gesê op Augustus 31, 2013
Ek weet darem nie… as dit so was sou Hy tog vir almal ‘n ander helfte gegee het? Moet mens dus glo dat mens net as ‘twee’ volkome en gelukkig kan wees? Wat dan van God se plan…?
Moenie dink ek weet nie van die rebelleer nie want ek het ter selfde tyd die gesprek met myself.
So paar jaar gelede was ek in die diepste moeilikheid oor hierdie selfde siening toe ek pas op Litnet gekom het. Intussen het ek meer en meer besef dat ek reg is. Elke mens het sy eie lewe om te leef en mens het nie ‘n maat ‘nodig’ om sinvol te leef nie nie. Die mens se opdrag is liefde vir God en die mense en dis ‘n enkel opdrag … Ander mens/e kan nie jou/my lewe bevestig of die waarde daarvan verander nie – jy is die een wat die werk moet doen ongeag van die ander rondom jou!
Tannie Frannie het gesê op Augustus 31, 2013
@tina10 Dis wyse woorde
vega het gesê op September 2, 2013
@frandr en @tina10. As jy sou kon kies, wat sou jy kies?
Tannie Frannie het gesê op September 2, 2013
@avega Sonder huiwering: om deel te wees van ‘n egpaar. Ek dink regtig dit is God se plan – dis ons mense se dwarsheid wat sy perfekte plan laat ontspoor!
monicahaddad het gesê op September 1, 2013
Ek sê altyd, ” Life is what happens while we make other plans”
Tannie Frannie het gesê op September 1, 2013
@monicahaddad Voorwaar!
vega het gesê op September 2, 2013
Baie goed geskryf. Laat mens dink.
tina10 het gesê op September 2, 2013
@avega en @frandr Ek sou ook graag ‘n deel van ‘n paar wou wees, maar dit sou baie ongelowig/ontevrede/ondankbaar wees as dit nie in God se plan is nie. Ek sou baie graag ook kinders en kleinkinders wou gehad het. Maak dit van my dan nou ‘n swakker/slegter/onvolkomer vrou? Ek moet baie versigtig wees want die woorde was die oorsaak van die geveg van alle gevegte op hierdie einste blogs!
Frannie jy moet jou gesprekslengte vergroot?
Tannie Frannie het gesê op September 7, 2013
@tina10 Nee – dit maak juis van jou ‘n beter, sterker vrou, wat vir sovele kinders so baie beteken het!
Errm – hoe vergroot ek my gesprekslengte?
tina10 het gesê op September 2, 2013
Jy sê: Ek dink regtig dit is God se plan – dis ons mense se dwarsheid wat sy perfekte plan laat ontspoor!
Het my dwarsheid dus Sy planne ontspoor? Sjoe …
Tannie Frannie het gesê op September 7, 2013
@Tina10 Liewe Tina, ek stel uit om jou te antwoord, want dis moeilik in die virtuele gespreksruimte van die blogs – ons moes eintlik regtig kon gesels het. Nooit sou ek ‘n beskuldigende vinger na enigiemand wou wys nie en allermins na jou!
perdebytjie het gesê op September 4, 2013
Sterkte Tannie Frannie!Jy klink egter vir my na ‘n oopkop wat jou nie gaan laat onderkry nie!
Tannie Frannie het gesê op September 7, 2013
@perdebytjie Dankie – jy gee my moed vir myself! 🙂
maryna het gesê op September 8, 2013
Ai dit is darem maar wyse woorde. Wees getrou, veg vir jou huweliksmaat se geluk. Ons moet die sonde nie uit piëteit vermy nie, maar omdat dit ons stroop. Van ons Godgegewe geluk, blydskap en vreugde stroop. Ja, dit is ‘n groot waarheid die.
Daar is mense wat hierdie pynlike stroping ook binne ‘n huwelik beleef Tannie Frannie. Ook die hel van eensaamheid. Ek dink dit is verkiesliker om dan maar alleen te wees want waar die vertoue eers geskend is, daar waar leuens en bedrog en verwaarlosing saad geskiet het, sal daar nooit weer volkome geborgenheid, geluk en vreugde wees nie.
Ek vergelyk dit graag met ‘n tuin. As daar onkruid in die grond is, sal dit enige mooi blom verdring en wurg. En jy kan maar elke dag die onkruid uittrek en jou rose vetroetel, jou hande bietjie laat bloei soos jy snoei en aan jou tuin werk, more is die onkruid maar weer daar en jou hande en hart verniel. Nie omdat jy dit geplant het nie, maar omdat die grond self bevuil is daarmee. Daar is niks wat ‘n mens regtig daaraan kon doen om dit te verhoed het nie, al probeer jy jouself wysmaak dat jy anders kon optree, meer kon verdra en verduur. Goeie, onkruidvrye grond is die enigste waarborg vir ‘n mooi tuin, die grond waarin jy jou liefdestuin bewerk moet skoon wees.
“Die lewe gaan sy kringloop op die swart
bank van die ewigheid. God druk die hart
versigtig daarop vas en slyp dit met
die donker, skerp klein helsteen van die smart.”
(SJ Pretorius, Werktuigkundige)
Woef-Woef het gesê op Oktober 19, 2013
Baie diep woorde Tannie Frannie – om sonde nie uit peïteit te vermy nie, maar omdat dit ons stroop. Gaan dit probeer memoriseer! ‘n Mens weet nie altyd wat om te kies nie. By nabetragting kan mens dink dit was die verkeerde keuse. Maryna sê ook ‘n diep waarheid:’n Mens kan die pynlike sroping ook binne die huwelik beleef. Eensaamheid kan kom van alleen wees, of van alleen voel in ‘n verwyderde saamwees. Ek begryp egter jou nabetragting – eensaamheid is eensaamheid en dit is nooit lekker nie, veral nie tussen mense nie.