Gedagtes by ‘n verjaarsdag

April 25, 2013 in Uncategorized

My Middelkind verjaar vandag. Ek gaan soek die klein boekie waarin sy ouma en ek sy kleintyd-gesegdes opgeteken het en volg die kronkelpaadjies van herinnering.

Hy was my ‘hoekom’-kind:

Hoekom is ‘n kat se snorre van plastiek?

 Ons het gou besef dat hy met ‘n helder verstand geseën is:

As kleuter met ‘n boek onder die arm) Vandag wil ek leer lees!

(Graad 1) My juffrou sê ek moenie antwoord nie, die ander kinders moet leer.

(Graad 6) Ek lees Current in Space van Isaac Asimov, dan gee hulle vir my Strawberry Jam Pony.

Hy was slim met woorde:

Neewat, ek gaan sommer kaalvoet. Ek hou nie daarvan om skoenvoet te gaan nie.

Met ‘n digterlike siening:

(Oor ‘n gloeilampie) In die glasomhulsel van die lig lyk dit vir my soos ‘n mensie met ‘n manteltjie om.

‘n Lewendige verbeelding:

Die verkeerskonstabel het plastiek oor sy arms om die skeure in sy moue toe te hou. Sy mou het aan ‘n bumper vasgehaak.

‘n Gesonde selfbeeld:

(Ma vra hoe weet hy) Ek voorspel die wêreld.

‘n Formidabele humeur, wat gelukkig selde tot uitbarsting gekom het:

Wat ek nou in my kop sien, is kwáád.

Ek wil die ou wat huiswerk uitgedink het, in sy bek foeter.

Ek’t vir daai ou sy Moses gegee, wat hy kom soek het.

‘n Mensekenner:

(Hy soebat vir ‘n storie) Kan ek net by Ouma hoor? Ouma het eintlik nooit ‘n nee vir ‘n antwoord nie.

(Van sy sussie) Sy soek altyd ‘n wegkruipplekkie as sy hartseer is…Sy word hartseer van woorde.

Wat sukkel om die mense van Venus te verstaan:

(Nadat hy Rekenaarstudie aan sy sussie moes verduidelik) Ek sal nooit weet hoe werk julle vroumense se koppe nie. Ek het nou net gesien wat sy aan die wonderlike logiese struktuur van Pascal doen.

Vandag staan hy sy plek vierkantig vol as werker, man en pa. Maar in sy ma se hart is daar ‘n hoekie afgesper vir die klein seuntjie…

 

 

19 antwoorde op Gedagtes by ‘n verjaarsdag

  1. bruggie het gesê op April 25, 2013

    Klink na n goeie produk gelewer.

  2. tina10 het gesê op April 25, 2013

    Baie geluk! Ai mens se liefde vir spesiale kinders het geen grense nie.

  3. Lekker as kinders nie dof is nie!

  4. Ag baie geluk aan die ma. dis lekker om hulle so in hul volwasse hoedanigheid te beskou en dan die beeld van hul kleinwees in jou gedagtes op te roep.

  5. Ai,wonderlike herinneringe!Baie geluk,mag hy nog lank gespaar bly.

  6. vega het gesê op April 25, 2013

    Geluk. Ek geniet die oorspronklike sêgoed van sulke slim kinders en ons skoolsisteem is nie vir hulle die beste plek nie.

  7. Wanneer jy die Duitsers hier gelukwens, sê baie van hulle dat hulle niks daarmee te doen het nie, jy moet die ouers gelukwens. Baie geluk dus, aan die ma van ´n besondere man.

  8. ek-myself het gesê op April 26, 2013

    Sjoe! Goed jy het al die dingetjies neergepen!!!! Geluk met sy verjaarsdag mag hy nog lank vir julle gespaar word!

Los ’n antwoord vir perdebytjie. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.