Domastrant
April 14, 2013 in Uncategorized
Ek moes regtig van beter geweet het. Afgesien daarvan dat ek alewig verdwaal, het ek nie eens geweet hoe ek moes ry nie!
Verlede week in Bloemfontein gaan soek ek na die Vrouemonument. As tiener, ‘n leeftyd gelede, het ek deur die Anglo-Boereoorlogmuseum gedwaal en gehuil oor die rou menslikheid van die briewe en memento’s. Omdat ek dit nog eenmaal wil beleef, klim ek in die gehuurde motortjie en gaan soek na Pres. Brandstraat – dalk sal ek daar iewers ‘n aanduiding na die monument te siene kry?
My soektog eindig toe ek stroomop in ‘n eenrigtingstraat indraai – dis spitstyd. ‘n Parkeerwag met ‘n helderpers hemp hardloop doodsveragtend in die straat in en stop die aankomende verkeer sodat ek die volmaakste en blitsigste drie-puntdraai van my lewe kan uitvoer.
Ek kan nie dankie sê nie want ek weet nie waar sit die motortjie se gevaarliggies nie en daar’s geen tyd om te waai nie. Druipstert ry ek terug gastehuis toe.
Van toe af tot nou toe stuur ek goeie wense in die rigting van die barmhartige samaritaan met die pers hemp. Bloemfonteiners is regtige vriendelike mense.
berwick het gesê op April 14, 2013
Hulle is. Probeer weer vir die museum en monument.
Tannie Frannie het gesê op April 16, 2013
As ek ooit eendag daar uitkom, sal ek kom vertel.
rosiemetdorings het gesê op April 14, 2013
dit klink so asof dit met my ook sal kan oor kom
Tannie Frannie het gesê op April 16, 2013
😀
tina10 het gesê op April 15, 2013
hehehehe… skuus ek lag, maar hoekom vra jy nie darem die basiese aanwysings nie?
Tannie Frannie het gesê op April 16, 2013
Want die gastehuis se mense het self nie geweet waar dit is nie…hulle sou dit vir my google-loer maar was so besig dat ek nie weer wou vra nie en ek het self nie Internet gehad nie. Jy mag verseker lag vir my stjupitgeid.
exionperfexi het gesê op April 15, 2013
ja wat Mangaung , ook agv sy gasvrye mense, is nie so ‘n goor plek om in te kuier of in te bly nie 🙂
Tannie Frannie het gesê op April 16, 2013
Weet nie of dit dieselfde plek is as mens dit so noem nie, ek het hoeka ‘n vreeslike probleem met ‘Tshwane’…
exionperfexi het gesê op April 16, 2013
@frandr : ” a rose by any name will smell as sweet ” , daarom sal die plek vir my maar altyd die Rosestad bly.
perdebytjie het gesê op April 17, 2013
Jy was baie dapper om so agter jou neus aan te ry.Bloemfontein het baie vriendelike mense.