Boomklim
Februarie 17, 2013 in Uncategorized
Die hele naweek loop ek met hierdie verlange in my hart – na die boom van my kinderjare. Spesiaal deur ons ouers uitgekies om ‘n lekker klimboom vir my en my boetie te wees, het die Acacia elata vinnig en hoog gegroei, met takke wat op gemaklike klimafstande van naby die grond af om die stam uitspruit.
Ek het daardie boom geklim dat hy kreun – tot hoog, hoog bo waar die takkies so dun was dat ek eers my gewig versigtig moes toets voordat ek met mening daarop trap. Augustusmaand, as die wind sterk op die Wesrand gewaai het, het ek op ‘n spesifieke, buigsame tak gaan sit en saam met die boom in die wind heen en weer geswiep. Partykeer het ek en my kat ons saam in die boom bevind, ander kere was my boet in sy ‘boomhuis’. Die boom was een van die seldsame twispunte tussen my ouers, want elke dan en wan het my pa die top laat afkap sodat die boom nie te hoog groei en dalk op die huis omval nie. Dan was my ma baie hartseer…dalk het sy, soos PG du Plessis se karaktertjie, die boom hoor huil?
Die laaste keer wat ek daardie boom geklim het, was na my pa se dood, die aand toe ek my mammie gaan haal het om na Pretoria toe te trek. Maar dit was geen rustige, mymerende afskeid nie – dit was ‘n verwoede jaagtog agter ‘n senuweeagtige kat aan wat ook in die kar gelaai moes word en toe besluit het om in die boom op te vlug. Op die ou einde moes ek maar weer die volgende dag die hele ent pad aflê om vir Sooisie te gaan haal, wat toe ewe gedweë opgedaag het toe ek hom roep.
Ek wil so bitter graag weer boomklim – maar hoe en waar gaan ek dit regkry? Hier in die meenthuiskompleks is daar geen klimvriendelike bome nie – en ek wil ook nie die buurt traumatiseer met die ongewone gesig van ‘n (bejaarde) vrou in ‘n boom nie. En hoekom op aarde verlang ek so na ‘ons’ boom?
Wag – ek weet: dis omdat my dierbare boetie more verjaar en omdat ek nóg in sy ‘boomhuis’, nóg in sy regte huis by hom sal kan kuier – want hy is baie, baie ver weg in ‘n nuwe land…Veels geluk, my liewe Boet – ek wil so graag vir jou ‘n suurlemoentert bak, maar helaas – daardie dae is ook verby.
Onlangse kommentare