Die Drie Wyse Wywe uit die Weste

Januarie 25, 2013 in Uncategorized

 Op ‘n stralende woestynoggend in Jordanië stap ons ver deur die smal rotsskeur wat na die sprokiestad Petra lei. Die hoë, kleurvolle sandsteenwande omraam ‘n stukkie ongelooflike blou lug daarbo; teen ‘n rotswand klou ‘n wildevy verbete.

 

Ons stap deur die nekropolis waar die Nabatteërs graftombes uit die rotswande gebeitel het, verby die enigste behoue voorbeeld van ‘n vrystaande gebou (‘n tempel wat aardbewings kon deurstaan omdat daar ‘n houtlaag in die mure ingelê is wat die skokke geabsorbeer het), kom uiteindelik by die wêreldberoemde “Skatkamer” uit.

 Oor die Romeinse plaveisel rammel perdekarretjies; oor die sand trippel die allermooiste perde en die polisiemanne wat op hulle ry, lyk vir my soos Romeinse offisiere van ouds.

 

Daar staan donkietjies en wag vir toeriste om op hulle te ry, maar ek het vanoggend ‘n ander ambisie: die dag by die piramides was ek te broos om ‘n kameelrit aan te pak, maar vandag is ek vasbeslote om hierdie avontuur te beleef.

 

Diegene wat Pyramids deur Terry Pratchett gelees het, sal die kameel met die naam You Bastard onthou – die grootste wiskundige wat die wêreld nog ooit opgelewer het. Volgens Pratchett “…camels…have that disdainful expression and famous curled lip as a natural result of an ability to do quadratic equations”.

 

Ek en twee trawante ontdek ‘n jong Bedoeïen met drie kamele wat met primitiewe tuie aan mekaar verbind is – sy rooi-en-wit geruite kopdoek en die kohl wat sy oë teen die helder sonlig en stof moet beskerm, maak van hom ‘n verskynsel uit die Arabiese nagte. Hy laat die kamele die een na die ander kniel en ons klim op: ek in die middel, met ‘n waardige dame voor en nog een agter my. Die kameeldrywer maak klikgeluide met sy tong en laat die diere aanstap – hy loop agter! Ek wonder nog benoud wat maak ons as die diere skielik op loop gaan, maar begin dan ontspan en die rit geniet. Dis hoog, baie hoog daar bo op die kameel se rug, maar die pas is rustig en dit lyk nie juis asof die kamele besware teen ons het nie – dalk is hulle te besig met hulle wiskundige berekeninge.

 So ver as wat ons ry, soek ons na toerlede wat ons kan afneem. Ons wuif soos besetenes. Die leier van die kavalkade se kwinkslag maak ons lam van die lag: “Hier gaat ons – die Drie Wyse Wywe uit die Weste!”

(Dalk wys ek eendag ‘n foto van die Wywe, moet net een in die hande kry!)

 

 

15 antwoorde op Die Drie Wyse Wywe uit die Weste

  1. bruggie het gesê op Januarie 25, 2013

    @ tannie Frannie. Brawe Wyse Wyve va die Weste

  2. tina10 het gesê op Januarie 26, 2013

    Ai tog dit lyk na ‘n onvergeetlike ondervinding

  3. @frandr
    Wat ‘n aangename stukkie blogwerk! Ek het dit baie geniet. Ek waardeer jou skrywe oor die kameelrit want ek het so ses jaar gelede saam met Bedouine in die Egiptiese Sahara op ‘n dagtrip met kamele gegaan. Onvergeetlik!
    My seun het Petra so ‘n klompie jare gelede besoek en hy deel jou verwondering.

  4. WOW!
    ‘n vriendin van my werk op die oomblik in Jordanië (Fuheis) en sy was ook nou-die-dag daar by Petra. So bly jy kon dit beleef, veral die kameelrit. Dapper vrou!

  5. Haai Tannie Frannie,ek het jou lanklaas opgesoek!Oulike pos hierdie.’n Beter benaming vir julle op die kameel is dalkies drie wilde,wyse wywe uit die woeste weste!

  6. Diep, blywende indrukke.

  7. Ag jy is omtrent bevoorreg. Dankie vir die lekker lees.

  8. Dit lyk so lekker!Jou foto’s vertel ‘n storie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.