By die “Graf van Koning Dawid”

Januarie 4, 2013 in Uncategorized

Ons land by Ben Gurion-lughawe naby Tel Aviv en klim op die toerbus op pad na Jerusalem. Hoe asemrowend mooi is die hoë berge en diep valleie, bedek deur die wit geboue van die Heilige Stad!

 

Langs die Hativat Yerushalayim teen die Sionsberg lê ‘n ou kerk, gebou om die “Graftombe van Koning Dawid”. Die flukse Israeli’s is besig met restourasie – sae skreeu oorverdowend en fyn boustof hang in die lug. Die sarkofaag is imposant, effens hoër as menshoogte, in ‘n klein kamertjie wat in twee dele afgekamp is – mans aan die een kant; vrouens aan die ander.

Die mense kom tussen my en my toergenote – op die een of ander manier word ek in ‘n hoekie reg langs die graftombe vasgekeer, te midde van ‘n groep deftige Moslemvroue. Een jonge veral is hoogs emosioneel; sy sink op haar knieë teen die kant van die sarkofaag neer; skraap die boustof op die vloer bymekaar met haar hande en gooi dit oor haarself uit; prewel gebede en druk ‘n briefie agter die tombe in ‘n gleuf in waar daar reeds tientalle soortgelyke versoeke, bedes, wense, krete opgehoop lê. Die tantes by haar kyk bekommerd toe, maar laat haar begaan. Hulle bly staan, maar sluit in gebed by haar aan; hulle hande na weerskante uitgehou, palms na bo, in ‘n gebaar wat die ontvangs van seën simboliseer en ook vir my, wildvreemdeling in Jerusalem, bekend is. Die gelade oomblik is nie hartseer nie – net intens – is dit dalk ‘n bruid wat seën oor haar huwelik kom afbid? Ek sal nooit weet nie. ‘n Toerlid kom soek ernstig na my – afgedwaalde skaap – ek glip verby die vrouens, wissel ‘n kykie van oersusterlike gemeenskaplikheid met die een tante en haas my na my eie mense.

Gidse verduidelik deurgaans baie versigtig dat die meeste van die heilige plekke op grond van oorlewering bepaal is; dis so lank gelede dat mens nie juis met sekerheid kan sê dis hier, net hier op hierdie plek, dat dit of dat gebeur het nie. En dan weet mens mos ook uit die talle opgrawings dat 21ste-eeuse voetspore heelwat hoër lê as spore uit die antieke tyd. Ek is dus nie verbaas of teleurgesteld toe ‘n veraf grot teen die Sionsberg twee dae later aan ons uitgewys word as die moontlike graf van Dawid nie.

Dis vir my genoeg om ‘n prentjiemooi koperbeeld van ‘n harp in ‘n bedding persblou en geel gesiggies te sien staan; om in ‘n moderne winkelsentrum ‘n reeks beelde te beleef wat die essensie van musiek in klei en metaal vasvang; om ‘n lewensgrootte voorstelling van Koning Dawid met sy harp te bewonder; om ‘n verrassende drietal harpe teen ‘n muur in ons hotel te ontdek en te besef – ek is in die Stad van Dawid!

 

 

8 antwoorde op By die “Graf van Koning Dawid”

  1. hoewel ek nie besonderse begeerte het om Israel te besoek nie, kan ek nogal glo dat dit ‘n belewenis moet wees om daar te kan rondloop

  2. Wat ‘n wonderlike ervaring!
    Dankie vir die deel hiervan.
    xx

  3. tina10 het gesê op Januarie 5, 2013

    Aha Dawid…
    Dankie ek lees te lekker

  4. Bruggie het gesê op Januarie 5, 2013

    My agting vir jou groei

  5. Uit ‘n historiese oogpunt reis ek lekker saam met jou, Tannie Frannie 🙂
    Dankie vir die deel.

  6. PIXIE het gesê op Januarie 5, 2013

    Geniet elke oomblik van hierdie ontdekkingsreis, tannie Frannie!

  7. Wat ‘n wonderlike ervaring het jy nie gehad nie. Ek is skoon jaloers!

  8. Interessant.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.