Sabbat in Jerusalem

Januarie 2, 2013 in Uncategorized

Na aandete op ‘n Vrydagaand kies ‘n groepie van ons koers na die ou Jerusalem en gaan die stadsmure wat die Kruisvaarders gebou het deur die Damaskushek binne. Dadelik is ons in ‘n nou stegie met oop winkeltjies aan weerskante – ‘n Aladdinsgrot van versoekinge: serpe, tapyte, katoengewade, hope skoene, stringe lapkameeltjies met ‘n klokkie aan die ent, yskasmagnete, kosbare juwelierswerk, stapels speelgoedkamele, halva, groente, kaneelgebak, boeke, beeldjies, koperware… Die plek popel van die mense en met ons tipiese toeriste-slenterstappie veroorsaak ons taamlike oponthoude in die malende menigte. Gaandeweg raak die drift van die mense duidelik – hulle is doelgerig iewers heen op pad.

Veral die ortodokse Jode is opvallend haastig en skuur by ons verby in hulle deftige jasse; die lokke teen hulle slape wapper van die spoed waarteen hulle beweeg. Die strengste ordes dra ekstravagante pelshoede – groot wawiele wat hulle as uitverkorenes kenmerk – ander weer dra kleiner swart vilthoede. Een pa jaag met sy seuntjie in ‘n stootwaentjie deur die stegie en veroorsaak amper vir een van die jongmeisies in ons geselskap ‘death by pram’, soos sy ewe gevat opmerk.

Eensklaps spoeg die stegie ons op die plein voor die Klaagmuur uit! Dis ‘n asemrowende verrassingsoomblik: die perspektief van die eeue-oue westelike tempelmuur, die enigste oorblyfsel van die tempel wat in 68 n.C. vernietig is, die allerheilige plek waar hulle priesters inseën; polisie- en weermagrekrute insweer; Jode vanoor die hele wêreld kom bid en gesinsgeleenthede soos barmistvas vier. Vanaand heers daar ‘n vrolike atmosfeer – die eerste twee kerse van Hanukkah, Fees van Lig, is pas aangesteek: die ekstra kers wat moet dien as liggewer (omdat die ander kerse nie as gebruiksvoorwerpe bedoel is nie) en die eerste een van die agt Hanukkah-kerse wat oor die volgende dae aangesteek sal word, gepaardgaande met spesiale gebede van lofprysing en dankbaarheid.

In die kleiner gedeelte wat vir die vrouens gereserveer is, voer ‘n kring singende jongmeisies ‘n uitbundig vrolike dansie uit. Enkelinge met gebedeboeke in die hand prewel die woorde – beweeg dan met eerbied agteruit tot op ‘n gegewe punt, vanwaar hulle omdraai om weer die alledaagse lewe te hervat. Die straatligte kleur die toneel romanties in – maar glim hier en daar op die geweerloop van ‘n Israeli-soldaat op wag.

Sabbat in Jerusalem! As ek nou daaraan dink, kan ek met oortuiging die oproep van Psalm 122 gehoorsaam:

Bid dat Jerusalem vrede mag hê,

dat hulle wat hom lief het,

rustig mag woon.

5 antwoorde op Sabbat in Jerusalem

  1. tina10 het gesê op Januarie 2, 2013

    Ai tog dit laat mens net weer besef dat verdraagsaamheid dalk die oplossing is vir baie probleme

  2. interessante ervaring

  3. maryna het gesê op Januarie 3, 2013

    Bly die ultra-ortodokse Jode het julle nie in die gesigte probeer spoeg soos die gewoonte daar is nie.

  4. vega het gesê op Januarie 3, 2013

    Wat ‘n ondervinding!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.