Jy blaai in die argief vir 2013 Januarie.

Die Drie Wyse Wywe uit die Weste

Januarie 25, 2013 in Uncategorized

 Op ‘n stralende woestynoggend in Jordanië stap ons ver deur die smal rotsskeur wat na die sprokiestad Petra lei. Die hoë, kleurvolle sandsteenwande omraam ‘n stukkie ongelooflike blou lug daarbo; teen ‘n rotswand klou ‘n wildevy verbete.

 

Ons stap deur die nekropolis waar die Nabatteërs graftombes uit die rotswande gebeitel het, verby die enigste behoue voorbeeld van ‘n vrystaande gebou (‘n tempel wat aardbewings kon deurstaan omdat daar ‘n houtlaag in die mure ingelê is wat die skokke geabsorbeer het), kom uiteindelik by die wêreldberoemde “Skatkamer” uit.

 Oor die Romeinse plaveisel rammel perdekarretjies; oor die sand trippel die allermooiste perde en die polisiemanne wat op hulle ry, lyk vir my soos Romeinse offisiere van ouds.

 

Daar staan donkietjies en wag vir toeriste om op hulle te ry, maar ek het vanoggend ‘n ander ambisie: die dag by die piramides was ek te broos om ‘n kameelrit aan te pak, maar vandag is ek vasbeslote om hierdie avontuur te beleef.

 

Diegene wat Pyramids deur Terry Pratchett gelees het, sal die kameel met die naam You Bastard onthou – die grootste wiskundige wat die wêreld nog ooit opgelewer het. Volgens Pratchett “…camels…have that disdainful expression and famous curled lip as a natural result of an ability to do quadratic equations”.

 

Ek en twee trawante ontdek ‘n jong Bedoeïen met drie kamele wat met primitiewe tuie aan mekaar verbind is – sy rooi-en-wit geruite kopdoek en die kohl wat sy oë teen die helder sonlig en stof moet beskerm, maak van hom ‘n verskynsel uit die Arabiese nagte. Hy laat die kamele die een na die ander kniel en ons klim op: ek in die middel, met ‘n waardige dame voor en nog een agter my. Die kameeldrywer maak klikgeluide met sy tong en laat die diere aanstap – hy loop agter! Ek wonder nog benoud wat maak ons as die diere skielik op loop gaan, maar begin dan ontspan en die rit geniet. Dis hoog, baie hoog daar bo op die kameel se rug, maar die pas is rustig en dit lyk nie juis asof die kamele besware teen ons het nie – dalk is hulle te besig met hulle wiskundige berekeninge.

 So ver as wat ons ry, soek ons na toerlede wat ons kan afneem. Ons wuif soos besetenes. Die leier van die kavalkade se kwinkslag maak ons lam van die lag: “Hier gaat ons – die Drie Wyse Wywe uit die Weste!”

(Dalk wys ek eendag ‘n foto van die Wywe, moet net een in die hande kry!)

 

 

‘n Wensie vir alle opvoeders

Januarie 6, 2013 in Uncategorized

Dis vir my interessant dat ‘n hele paar onderwysers asook bikers hier blog – twee spesies wat myns insiens albei adrenalienslawe is.

Met my hele hart wens ek elke opvoeder die allerbeste, mooiste skooljaar toe. Mag julle krag kry vir julle bomenslik veeleisende, belangrike werk en veel seën daarop ervaar.

 

 

By die “Graf van Koning Dawid”

Januarie 4, 2013 in Uncategorized

Ons land by Ben Gurion-lughawe naby Tel Aviv en klim op die toerbus op pad na Jerusalem. Hoe asemrowend mooi is die hoë berge en diep valleie, bedek deur die wit geboue van die Heilige Stad!

 

Langs die Hativat Yerushalayim teen die Sionsberg lê ‘n ou kerk, gebou om die “Graftombe van Koning Dawid”. Die flukse Israeli’s is besig met restourasie – sae skreeu oorverdowend en fyn boustof hang in die lug. Die sarkofaag is imposant, effens hoër as menshoogte, in ‘n klein kamertjie wat in twee dele afgekamp is – mans aan die een kant; vrouens aan die ander.

Die mense kom tussen my en my toergenote – op die een of ander manier word ek in ‘n hoekie reg langs die graftombe vasgekeer, te midde van ‘n groep deftige Moslemvroue. Een jonge veral is hoogs emosioneel; sy sink op haar knieë teen die kant van die sarkofaag neer; skraap die boustof op die vloer bymekaar met haar hande en gooi dit oor haarself uit; prewel gebede en druk ‘n briefie agter die tombe in ‘n gleuf in waar daar reeds tientalle soortgelyke versoeke, bedes, wense, krete opgehoop lê. Die tantes by haar kyk bekommerd toe, maar laat haar begaan. Hulle bly staan, maar sluit in gebed by haar aan; hulle hande na weerskante uitgehou, palms na bo, in ‘n gebaar wat die ontvangs van seën simboliseer en ook vir my, wildvreemdeling in Jerusalem, bekend is. Die gelade oomblik is nie hartseer nie – net intens – is dit dalk ‘n bruid wat seën oor haar huwelik kom afbid? Ek sal nooit weet nie. ‘n Toerlid kom soek ernstig na my – afgedwaalde skaap – ek glip verby die vrouens, wissel ‘n kykie van oersusterlike gemeenskaplikheid met die een tante en haas my na my eie mense.

Gidse verduidelik deurgaans baie versigtig dat die meeste van die heilige plekke op grond van oorlewering bepaal is; dis so lank gelede dat mens nie juis met sekerheid kan sê dis hier, net hier op hierdie plek, dat dit of dat gebeur het nie. En dan weet mens mos ook uit die talle opgrawings dat 21ste-eeuse voetspore heelwat hoër lê as spore uit die antieke tyd. Ek is dus nie verbaas of teleurgesteld toe ‘n veraf grot teen die Sionsberg twee dae later aan ons uitgewys word as die moontlike graf van Dawid nie.

Dis vir my genoeg om ‘n prentjiemooi koperbeeld van ‘n harp in ‘n bedding persblou en geel gesiggies te sien staan; om in ‘n moderne winkelsentrum ‘n reeks beelde te beleef wat die essensie van musiek in klei en metaal vasvang; om ‘n lewensgrootte voorstelling van Koning Dawid met sy harp te bewonder; om ‘n verrassende drietal harpe teen ‘n muur in ons hotel te ontdek en te besef – ek is in die Stad van Dawid!

 

 

Sabbat in Jerusalem

Januarie 2, 2013 in Uncategorized

Na aandete op ‘n Vrydagaand kies ‘n groepie van ons koers na die ou Jerusalem en gaan die stadsmure wat die Kruisvaarders gebou het deur die Damaskushek binne. Dadelik is ons in ‘n nou stegie met oop winkeltjies aan weerskante – ‘n Aladdinsgrot van versoekinge: serpe, tapyte, katoengewade, hope skoene, stringe lapkameeltjies met ‘n klokkie aan die ent, yskasmagnete, kosbare juwelierswerk, stapels speelgoedkamele, halva, groente, kaneelgebak, boeke, beeldjies, koperware… Die plek popel van die mense en met ons tipiese toeriste-slenterstappie veroorsaak ons taamlike oponthoude in die malende menigte. Gaandeweg raak die drift van die mense duidelik – hulle is doelgerig iewers heen op pad.

Veral die ortodokse Jode is opvallend haastig en skuur by ons verby in hulle deftige jasse; die lokke teen hulle slape wapper van die spoed waarteen hulle beweeg. Die strengste ordes dra ekstravagante pelshoede – groot wawiele wat hulle as uitverkorenes kenmerk – ander weer dra kleiner swart vilthoede. Een pa jaag met sy seuntjie in ‘n stootwaentjie deur die stegie en veroorsaak amper vir een van die jongmeisies in ons geselskap ‘death by pram’, soos sy ewe gevat opmerk.

Eensklaps spoeg die stegie ons op die plein voor die Klaagmuur uit! Dis ‘n asemrowende verrassingsoomblik: die perspektief van die eeue-oue westelike tempelmuur, die enigste oorblyfsel van die tempel wat in 68 n.C. vernietig is, die allerheilige plek waar hulle priesters inseën; polisie- en weermagrekrute insweer; Jode vanoor die hele wêreld kom bid en gesinsgeleenthede soos barmistvas vier. Vanaand heers daar ‘n vrolike atmosfeer – die eerste twee kerse van Hanukkah, Fees van Lig, is pas aangesteek: die ekstra kers wat moet dien as liggewer (omdat die ander kerse nie as gebruiksvoorwerpe bedoel is nie) en die eerste een van die agt Hanukkah-kerse wat oor die volgende dae aangesteek sal word, gepaardgaande met spesiale gebede van lofprysing en dankbaarheid.

In die kleiner gedeelte wat vir die vrouens gereserveer is, voer ‘n kring singende jongmeisies ‘n uitbundig vrolike dansie uit. Enkelinge met gebedeboeke in die hand prewel die woorde – beweeg dan met eerbied agteruit tot op ‘n gegewe punt, vanwaar hulle omdraai om weer die alledaagse lewe te hervat. Die straatligte kleur die toneel romanties in – maar glim hier en daar op die geweerloop van ‘n Israeli-soldaat op wag.

Sabbat in Jerusalem! As ek nou daaraan dink, kan ek met oortuiging die oproep van Psalm 122 gehoorsaam:

Bid dat Jerusalem vrede mag hê,

dat hulle wat hom lief het,

rustig mag woon.

Kaïro = kontras

Januarie 1, 2013 in Uncategorized

In die weke voordat ons via Egipte na Israel vertrek, is almal se dierbares bekommerd oor die onrus in Egipte. Die toerlede self het vrede, ons vertrou die agente wat ons verseker dat daar geen gevaar is nie – en in elk geval is ons nou onstuitbaar, soos kamele wat op die water van ‘n oase afpeil.

Almal is moeg gewerk en gedaan geskarrel om betyds alles klaar te kry sodat ons met skoon gewetes die lug kan invaar. Vir mense wie se weerstand laag is, is Kaïro eenvoudig ‘n oorweldigende kultuurskok! Die verkeer is legendaries berug en ek verstaan nou hoekom: vergeleke met Egiptiese motoriste is die taxibestuurders in Suid-Afrika oorversigtig. Hier en daar was daar ‘n poging om bane af te merk, maar watwou – dit was nou onnodige moeite. Iedereen woelt hier om verandering – ook van baan, hetsy daar een is ofte nie. Die motors is oud, ongewas en vol duike. Na ‘n paar minute in die verkeer besef mens nuwe, skoon en heel motors gaan nie lank so bly nie.

Die eerste kontras: die donkietjies wat op ‘n stywe draffie langs die paaie beweeg, meestal met ‘n jong seun op die rug. Daar staan ook perde langs die strate; dit lyk asof motors en pakdiere gemaklik saam die rasende strate aandurf. Ons is net ‘n paar uur in Kaïro, toe sê ons predikant – wat met deernis na alle skepsels kyk – hy wil beslis nie ‘n perd of ‘n donkie in Kaïro wees nie, ‘n stelling wat ons van harte beaam; trouens, mens sou straathond en -kat en selfs kameel ook nog daarby wou voeg.

Ons gids is ‘n dosent in Egiptiese argeologie aan die universiteit, ‘n hoogs intelligente jong man met breë kennis, passie vir sy land en opregte menseliefde. Ek sien hoe hy met smouse, gidse, amptenare, wagte en winkeliers omgaan, altyd met respek: hier ‘n kloppie op die skouer, daar ‘n klapsoen op die wang. Hy het ‘n tatoeëermerk aan die onderkant van sy linkerpols: ‘n blou kruisie waarvan altwee die balke ewe lank is, sodat dit in ‘n vierkant sou kon inpas – die kenteken van die Koptiese Christene. Dis nie lank nie, of hy spreek ons predikant as “Fazzer Joannis” aan en die dag toe ons afskeid neem, versoek hy dringend: “Pray for Ezhypt.” Vir die eerste keer word die moeilikheid in Egipte vir my ‘n werklikheid en begin ek iets daarvan verstaan.

Op pad na die piramides ry ons deur breë strate met ‘n middelmannetjie waar daar tuingemaak is. In hierdie buurt woon die rykes, die paleis van die president is ook hier. Net ‘n entjie verder word die strate al nouer en vuiler en sien mens die skerp kontras tussen ryk en arm in hierdie stad. In die arm deel lê rommel orals op die dakke rond en sien jy vullishope sommer so op straat. Kleinerige vragmotortjies, ‘n rapsie groter as ons Suid-Afrikaanse bakkies, ry doelgerig, topswaar met afval volgepak.

Die volgende dag besoek ons die Mokattam vullisdorp, die bestemming van die vragmotortjies. Kaïro se munisipaliteit verwyder geen vullis nie, dis die taak van hierdie mense wat in 1969 na die heuwels van Mokattam aan die buitewyke van die stad verskuif is. Die onderste verdiepings van die vervalle geboue aan weerskante van die nou straatjies dien as bergplek vir al die rommel wat herwin moet word en orals werk die mense vlytig. In skerp kontras met hulle nederige, veeleisende werk, is hulle besonder vriendelik en glimlag vir die toeriste wat hulle sit en vergaap. Ma’s dra hulle babas oor die skouer, kinders stap huis toe van die skool af. Hoe taai moet mens wees om in hierdie omstandighede te oorleef!

Ons ry met twee klein bussies, want ons toerbus sal nie deur hierdie straatjies kan kom nie. Effens breër strate is vol water gepomp om die mense te ontmoedig om aan die vreedsame betoging te gaan deelneem, wat daardie middag voor die Egiptiese museum gehou gaan word. Vier vingers diep stroom die water oor die straat, reg langs die woestyn.

Daar is twee groot kerke, deels grot, deels oorhangkrans, deels uitgekap uit die rots. In April 1974 begin ‘n predikant sy bediening onder die mense hier, nadat hy eers aan die opdrag probeer ontsnap het, soos Jona van ouds. Nege mense het die eerste byeenkoms bygewoon en 11 kinders het Sondagskool toe gekom. Die grootste kerk het vandag plek vir 15 000 mense! In die kleiner Kerk van St. Markus bid ons predikant en sing ons “klein kuddetjie” om die beurt “Kyrie eleison”. Teen die muur lees ek: “Our Father – teach us to give You all our hearts, and live for You all our lives.” Na die innige afsondering vaar ons weer die wilde strate in…

Laatmiddag kom ons tot ruste in die ontvangsaal van ‘n parfuumvervaardiger. Pragtige jong meisies tik die een na die ander welriekende olie op ons polse en arms, totdat ons reuksintuie heeltemal oorlaai is. My gunsteling is die mirre – hoe kosbaar moes dit nie in die antieke tyd gewees het nie, ‘n gepaste geskenk vir ‘n Koningskind. Ek kyk na die meisies met hulle mooi Moslemse kopdoeke wat so behendig gevou is en wonder oor die noodlot wat een jong vrou in hierdie weelderige omgewing laat werk en ‘n ander in Mokattam plaas.

Op ons tweede en laaste aand in Egipte vaar ons op die Nyl en geniet ‘n Egiptiese banket. Daar is ‘n vrolike tafel met Egiptenare, net vrouens, wat die een of ander geleentheid vier. (Eenkant sit twee mans –lyfwagte? Daar is beslis ‘n verbintenis tussen die twee tafels.) Toe die buikdanseres haar wulpse lyf begin skud, juig die vrouens. Enetjie – dalk die gasvrou, of die gevierde? – spring op en begin net daar langs hulle tafel ‘n perfekte buikdans uitvoer. Weer wonder ek: oor een vrou wat om den brode moet dans en ‘n ander, bevoorreg om in die kultuur opgelei te word sonder om ooit vir geld te hoef te dans.

Wat sê mens oor die piramides by Giza? Die dag toe ons hulle gaan besigtig het, was bewolk, dus was die silhoeëtte nie so dramaties as wanneer sonlig dit sou afteken nie. Dit was in elk geval ons eerste dag op toer, wat beteken het dat ons direk van die lughawe af die besigtigingstoer aangedurf het. Ek het beswaarlik die vliegtuig gehaal, met die gevolg dat ek salig in die bus sit en slaap terwyl my toermaats teen die piramides opklim. Nou wonder ek of dit suur druiwe is wat maak dat ek die rye skatte in die Egiptiese museum hartseer gevind het en dit alles graag sou wou terugplaas in die donkerte van elkeen se grafkamer – waar dit hoort?

Ryk/arm, oorvloed/gebrek, vrede/stryd, vergange glorie en hedendaagse basiese bestaan, die breë Nyl en die barre woestyn…Kaïro is gelyk aan kontras!