Jy blaai in die argief vir 2012 Desember.

2013 – ‘n jubeljaar

Desember 31, 2012 in Uncategorized

Die ou Israeliete het elke 50ste jaar tot ‘n jubeljaar uitgeroep. Dan moes die grond rus, vervreemde besittings weer aan die eienaar teruggegee word en skulde kwytgeskeld word, en lyfeienes is vrygestel. My woordeboek verduidelik verder dat dit by uitbreiding ‘n tydperk van rus en verademing is, vry van kommer. Watter mooie woord – verademing! Mag ons almal in 2013 diep asemhaal en dankbaar leef.

‘n Geseënde Kersfees

Desember 27, 2012 in Uncategorized

Vanoggend het my seun en sy gesin begin terugry Kaapstad toe, nadat ons vyf salige, besige dae saam kon deurbring. My huisie is verskriklik stil.

Watter voorreg om ‘n kersboompie te hê wat deur my kleindogter se slim vingertjies versier is! Hoe lekker om ‘n splinternuwe skets op my yskasdeur te hê, geteken deur my dromer van ‘n kleinseun: onmiskenbaar ouma, bril op die neus, met ‘n breë glimlag, haar twee kosbare kleinkinders aan weerskante van haar en bokant hulle ‘n son wat helder skyn en vrolike wolkies…

‘n Droom het waar geword: my kleinkinders aan die speel by die donkietjie wat in die vlakwatertjies lê by die Lynnbridge-winkelsentrum.

Nagmaal in Jerusalem

Desember 17, 2012 in Uncategorized

 Vroegoggend ry ons na die Tuingraf. Jerusalem ruis daar buite, maar in die tuin heers vredigheid. Dis ‘n klein stukkie grond met hoë, yl bome waardeur die winterson op nederige blommetjies in netjiese beddings skyn. Anderkant die een grens van die tuin is daar ‘n eienaardige heuwel wat baie soos ‘n skedel lyk.

Ons gids wys ons ‘n groot foto van die heuwel, wat die effek beklemtoon: twee hol oogkaste en ‘n dwarsspleet vir die mond. Is dit Golgota – die “Plek van die Skedel”? Daar kan nie met sekerheid gesê word nie, want elders in die stad troon ‘n massiewe katedraal waar rye pelgrims onder die wakende oog van ‘n iesegrimmige bewaker in ‘n tou aanskuifel om die begraafplek van Jesus Christus te besigtig. Die mensemassa, die oorweldigende, benouende mure en die eggo’s ontneem daardie plek van die innigheid wat ons vanoggend hier in die tuin ervaar.

Dis die naaste wat ons nog aan ons eie sobere geloofstradisie gekom het. Die gids is ‘n Kanadees – ek vermoed hy het reeds afgetree – wat drie maande lank vrywilligersdiens kom doen het. Hy praat sag en sy blou oë vonkel met naasteliefde en wysheid. Hy vertel ons van die gebruike van destyds en ook oor sy eie ervaring as kind, toe hy sy pa gevra het hoe hy by die hemel sou kon uitkom. Sy pa het hom op sy skoot getel en vir hom Johannes 3:16 gelees, maar met een verskil – hy het die algemene verwysings met sy seuntjie se naam vervang:

God het Gordie so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat Gordie wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Ons gaan kyk na die graf self, ‘n goeie voorbeeld van hoe so ‘n graf destyds uit die rotswand uitgekap is, met ‘n voorste kamertjie en dan die binneste deel, waar daar aan die een kant ‘n plek vir die liggaam is. Die steen wat as deur gedien het, is verlore, maar daar is ‘n breë gleuf waarin dit gerol het en veel later op die berg Nebo sien ons ‘n rotswiel wat ewe goed in daardie gleuf sou gepas het.

Nagmaal in Jerusalem! Ontvang uit die hand van ons eie predikant, wat vir elkeen van sy skape ‘n stukkie brosbrood gee met die woorde: “Die liggaam van Christus – vir jou.” Daarna drink ons druiwesap – soet soos die verlossing self.