Jy blaai in die argief vir 2012 November.

Blog-uitdaging – die ete

November 24, 2012 in Uncategorized

Tien uit tien vir Adage! Wens ek het tyd gehad om met prentjies te werk (en ek kies daai werkwoord doelbewus!!) maar dis groot paniek oor die spertyd wat Maandag oor my gaan breek…

Ek het lus vir briljante geselskap, baie wyn, kwinkslae en musiek, dus nooi ek: Nataniel, Rian van Heerden, Andre Huguenet, Johnny Clegg (wat asb. moet sing vir sy sopper) en les bes, Koning Dawid (hy moet asb. sy harp bring).

Die volgende bloggers is baie welkom: Katrina, Jana, Jeanne, Modderkoekie en Tina.

Ai, watter aand sou dit nou wees!

Pretoria, jakarandastad…

November 12, 2012 in Uncategorized

Volgende jaar Oktobermaand sal ek my reeds ‘n halfeeu lank in die jakarandas met hulle kenmerkende heuninggeur verlustig het. Seker die mooiste beskrywing is Audrey Blignault s’n: ‘n glasligte blomwolk…

 

 

Ja, die kindergesiggies…

November 6, 2012 in Uncategorized

Die gemeente waarvan ek deel is het die afgelope naweek hulle sestigste verjaarsdag gevier.

Ons het ‘n hoogs begaafde jong orrelis, wat ook die kuns ken om ander musikante te betrek en vir ons die wonderlikste musiek te maak – altyd ‘soli deo gloria’. Sondagmiddag het twee laerskoolkore, twee trompette, twee trombone, klavier, viool, tjello, fluit en tromme, nog ‘n briljante orrelis en dirigent Richard Cock prysliedere in die kerk kom uitvoer.

Die kerk is volgepak en voor staan die kinders, ry op ry, met hulle vars gesiggies en blink hare. Die een koor dra rooi tunieke met wit vertikale strepies en ‘n swart mandarynkragie, die ander koor se koordrag bestaan uit ‘n kombinasie van houtskool/swart en amber; in die meisies se hare flits hier en daar amber blinkertjies. Ek sit daar met ongelooflike heimwee in my hart – waar is die dae toe my eie meisiekind in kore gesing en my soveel vreugde besorg het? Die dirigent laat die gehoor egter so hard werk met al die samesangbeurte dat daar min tyd vir hartseer is.

Dis asof my siel tussen die lieflike note baljaar en groter en wyer oopsprei van vreugde. Die orrel dreun, die trompette sketter, die viool en die tjello sing. Die kinders is verstommend goed gedissiplineerd en sing soos engeltjies, met meelewing en musikaliteit.

Wanneer orrel, viool en doedelsak Highland Cathedral uitvoer, sweef ek in my verbeelding na ‘n ou, ou kerk op die Skotse hoogland.

Die musiek eggo steeds in my hart en ek sien nog die liewe kindergesiggies…