‘n Stukkie meubel
September 29, 2012 in Sonder kategorie
Ek vee met my hand oor die satyngladde houtblad met die effense hobbel in die middel. Vandag kom haal Laatlam my oupagrootjie se handewerk: die Transvaalse poging om ‘n eenvoudige Kaapse jonkheerskas te vergestalt. Niemand is seker wat die hout is waarvan die oorgrote deel van die kas gemaak is nie; die beste raaiskoot is peerhout. Grootoupa het sy bes gedoen om die afwisseling van geel- en stinkhout te herskep, maar die uiteinde is ‘n interessante laslappie-effek van ligbruin deurraampies en blonde hout – die een vertikale plankie in die middel van die een deur ligbruin en die ander deur se plankie sommer blond.
Die laste van die twee laaitjies bokant die deure waar die voorkant en die sykante heg, is rond – nie haaks soos jonger voeë nie – met ‘n ronde houtproppie in elke ronding, behalwe die heel onderstes. Grootoupa was ‘n skrynwerker en sy werk was puik, maar die heel sjarmantste van hierdie kas vir my is die twee laaiknoppe, wat glad nie dieselfde grootte is nie, so ‘n onweerlegbare bewys dat hierdie kas handgemaak is en vir eie gebruik bedoel was.
Vir jare het die kas in my tannie se garage gestaan, bedek deur vele lae liggroen en blink bruin enemmelverf. Ek moes mooipraat om die kas te kry, want, seg my tannie, ‘ek kannie vir haar so ‘n ou ding gee nie – hy’s lendelam!’
Uiteindelik het ‘n kundige en flukse vriend die kas uit sy lae verf bevry. Iewers het ek ‘n ‘voor-en-agterna’-kiekie van een houtdeur en een geverfde deur, wat ek sal moet soek om aan Laatlam oor te dra. Ek is baie bly dat hulle die kas wil hê, want dis deel van ons familiegeskiedenis.
Hoekom voel ek dan so hartseer?
HeavyHenry het gesê op September 29, 2012
Nice!
katrina het gesê op September 29, 2012
Die nie net die kas nie, maar al die herinneringe wat daarmee gepaard gaan. Sulke goed word mos deel van ‘n mens se lewe…
Twaksak het gesê op September 29, 2012
Ai, daar was ‘n tannie wat daar sulke witgeverfde stoele op die sonstoep gehad het… Ek het geweet wat onder die verf lê want my pa het twee sulkes minus verf gehad. Nee, ek het nooit gevra nie en nou’s dit te laat.
TS het gesê op September 29, 2012
Mooi hartsgoed maak mens mos so half hartseer.
*drukkie*
Perdebytjie het gesê op September 29, 2012
Ja dit gaan oor die sentiment en die geskiedenis agter so ‘n meubelstuk.
loudavisi het gesê op September 29, 2012
Ek loooove dit om ou geverfde meubels weer mooi en heel te maak. Net jammer die ou hande pyn so van die afskuur. Laat gaan met die wete dat dit in goeie hande is.
louisna het gesê op September 30, 2012
Wys ons hoe lyk die erfstuk
rosiemetdorings het gesê op September 30, 2012
Ek besit ‘n kas wat my ouma blykbaar op ‘n veiling aangeskaf het. Kan sien die kas is handgemaak, en daarom heg ek steeds ook baie waarde aan hom al is dit nie deur my eie voorsaat nie
Carol460 het gesê op September 30, 2012
Sjoe, gelukkige Laatlam om so ‘n kosbaarheid te kry ! Wys vir ons die foto sodra jy dit opspoor ! XXX
MarynaM het gesê op Oktober 1, 2012
Tannie Frann se woorde tref my weer diep vanaand. Dankie vir al die mooi skrywes oor die maande en ook die ondersteuning van my beskeie skilder-poging. Ek sal dit nooit vergeet nie, baie dankie.
endlich het gesê op Oktober 3, 2012
Dis lekker as mens se kinders waardering vir hartsgoed het