UP Aula: ‘n Nuwe fase

September 1, 2012 in Sonder kategorie

Ons stap oor die kampus, my jeugwoonstelmaat en ek, verby die Ou Lettere wat vreemd kaal lyk sonder sy klimopkombersie. Ons onthou hoe die studente telkens die fontein vol seeppoeier gestrooi het om de ene skuimbolle te spoeg toe dit pas gebou was. Dan betree ons die ‘nuwe’ Aula se eietydse foyer en klink ‘n glasie sjampanje. Studentemaats word in die herinnering geroep en ek moet tot my skok hoor dat een van my destydse groot liefdes reeds oorlede is. Nee…dit kan mos nie wees nie? Ek het dan juis gehoop/gevrees dat ons mekaar miskien vanaand sou raakloop…

 

Ek sien weer die sjarmante jong man, ruik die geur van sy pyptabak. Beleef die dag toe hy in koue Kaapse reënweer my hand gevat en saam met syne in sy jassak gehou het. Onthou Springbokpark in die liggroen lenteskemering. Verwyt my opnuut dat ek die klein glaskatjie wat hy my gegee het, in ‘n vlaag van wroegende verlatenheid flenters gegooi het.

 

Ons gaan sit in die volgepakte ouditorium om die gala-aand ter viering van die opgeknapte Aula mee te maak. Hmm – roesbruin sitplekke, nie so mooi soos die oorspronklike rooi fluweel nie. Ek is lankal vies vir my alma mater – vandat my dogter, op my aandrang, Afrikaanse derdejaarsaantekeninge gevra en die dosent net sy skouers opgehaal het. Vanaand sal Tuks moet uithaal voor om my te beïndruk!

 

Dit is dan ook wat gebeur. Die verhoog is ‘n wonderwerk van tegnologie en seepgladde verwisselings. Twee yslike videoskerms gee mens ‘n wonderbaarlike beeld van instrumente en musici; klankversterking bring 21ste eeu en simfonieorkes by mekaar.

 

Die kombinasie van Afrikaanse toneeldiva Sandra Prinsloo en (gedempte) pryssanger Kabelo Tlailane (‘n ingenieurstudent) werk verstommend goed. Hulle proloog baan die weg vir ‘n onderhoudende verwelkoming deur die rektor, prof. Cheryl de la Rey. Daarna dreun Bach en Handel deur die saal, gevolg deur ‘n oorweldigende verskeidenheid instrumente en mense, klanke en beweging.

 

‘n Ongelooflike mengelmoes kunstenaars, elkeen meester van sy eie styl, beweeg oor die verhoog en sleur ons mee. Daar’s ‘n ballerina, Spaanse dansers, Afrika-tromme en -dansers, jazz-, opera- en luisterliedjiesangers – daar’s tot twee akrobate! Orrel, kitaar, klavier, saksofoon, elektriese viool kry elkeen ‘n kans om te skitter. Tuks Camerata sing spirituals soos dit gesing behoort te word en die wit koorlede beweeg met dieselfde oorgawe as hule swart medestudente. Die UP Ovuwa kulturele ensemble dans die verhoog warm, die sanggroep Medu sing Weeping met innige gevoel.

 

Toe Tuks Camerata en Ovuwa saam I will rise van Chris Tomlin sing, biggel my trane en ek weet: dis nie net omdat die sterk jong stemme so lieflik klink en die lied so mooi is nie. Dis ook oor ‘n hart wat nie meer klop nie…

 

Na die vertoning loop ‘n jong meisie met ‘n tradisionele kopband by my verby en ek bedank haar vir die mooi vertoning. Sy lyk effens uit die veld geslaan, maar verduidelik dan mooi vir my dat sy en haar vriendin nie deel van Ovuwa is nie, maar dat hulle die kopbande dra “for solidarity and to support them”. Ek dink aan die ernstige tromspeler wat met soveel toewyding gespeel het, die jong meisie wat so met haar hele hart gesing het en ek besef dat ons vanaand hier ‘n beeld gesien het van wat Suid-Afrika kán wees: ‘n ryke tapisserie van kultuur en tale, met ‘n plekkie vir almal. Mooi so, UP!  

28 antwoorde op UP Aula: ‘n Nuwe fase

  1. Dawerende applous vir hierdie pragtige skrywe!

  2. Mooi geskryf, Frannie. (Was jy n joernalis ?)

  3. sirpsa het gesê op September 1, 2012

    Ons was ook daar en ek was net so beïndruk.

    Ek het ‘n paar selfoonfoto’s geneem en wik en weeg nog of ek dit gaan plaas.

  4. frandr het gesê op September 1, 2012

    Dankie vir die kompliment, Bruggie! Nee – ek’s te sleg met spertye ;0)

  5. frandr het gesê op September 1, 2012

    Dankie, Lou – ek maak ‘n kniebuiginkie en glimlag skaam…

  6. frandr het gesê op September 1, 2012

    Ek hoop jy maak so – sou dit graag wou sien. Ek het nogal gewonder hoeveel van ons bloggers was daar.

  7. Jy is waardig….

  8. frandr het gesê op September 1, 2012

    Ha – ek beplan ‘n pos wat daardie indruk beslis sal weerspreek!

  9. Ientjie het gesê op September 1, 2012

    Weereens pragtig gestel en beskryf. Dankie vir die geleentheid om saam daar te kon wees.

  10. TS het gesê op September 2, 2012

    Pragtige getuienis… jy mag maar!

  11. louisna het gesê op September 2, 2012

    Jy boor pragtige memories raak.

    Tydens Tukkies se 100ste verjaarsdag het ek ‘n lang bedankingsbrief aan die dekaan geskryf. Hier is ‘n kort uittreksel:

    PROF ELIZE BOTHA

    Ek was bevoorreg om deur Prof Elize Botha in die Afrikaanse letterkunde onderrig te kon word. Wat ‘n formidabele vrou! Haar interpretasie van PG du Plessis se Hertzogprys-bekroonde “Siener in die Suburbs“ was een van verskeie kragtoere wat my na al die jare steeds helder bybly. Die temas van die liefde wat sy so sielvol en meesterlik oorgedra het weerklink dekades later steeds in my gedagtes. Suid-Afrika het ’n sielvolle intellektuele reus verloor. Prof Elize ons salueer jou.

  12. louisna het gesê op September 2, 2012

    Jammer ek plak hier, maar ek is meegevoer.
    My universiteitsdae was louter pret en die tydperk 1973 tot 1976 seker die heel gelukkigste in my ganse lewe.

    Ek onthou die kommervrye dae op die rusbank langs Coert Steynberg se bronsbeeld van die lenige rooibok op die Tukkie kampus. Ek het ma se toebroodjies uit my tupperware kosblik geëet en die talle mooi meisies intens bewonder en begeer. Pas uit die army waar daar net manne en die sammajoor se bejaarde oorgewig dogter met haar rasperstem was, kon ek nie glo dat soveel skoonheid een mens se oë op een slag beskore kon wees nie.

    Die verruklike sagte wiegende kurwes van die vlees, keurig verpak in veelkleurige rokke en skeppings van noupassende langbroeke en gladde modieuse bloese het my tot-nog-toe eng gees en parate vlees dag en nag geteister. Langs die lenige rooibok het die vroulike liggaam nuwe betekenis gekry, en die geringste aanduiding van fyn ondergoedjies, of dit nou deurskyn en of die patroon bloot afgedruk word, het rigting en struktuur gegee, en veral begrip gevorm vir die fynste en begeerlikste kant van menslike emosie.

    Daardie vroeë gewaarwordings word iewers in ‘n spesiale plek in die brein afgeëts en bly hang soos ‘n hardeskyf wat nie geformat kan word nie.

  13. Neander het gesê op September 2, 2012

    Natuurlik het die gehoor die vierings waardeer, maar dis baie elitisties. Dit gaan nooit by die gepeupel uitkom nie.
    Ek was die vorige dag ook daar by Sci Enza en toe het die ANC opruiende pamflette versprei.

  14. Ai Fran, my hart loop toe so saam met jou deur die herinneringe. En ek snik amper oor die glaskat. Tien uit tien. Ek sukkel om my boodskappe oop te kry, maar ek gaan nou weer probeer.

  15. ek en Doring het in die 70’s altyd na die kleedrepetisies gaan kyk – al wat ons as jonggetroudes kon bekostig.

    dankie vir die link wat jy deurgestuur het!

  16. Het jy ooit plekaanwyser gespeel in die Aula destyds? Dit was moeilik om vir die opera en ballet op die lys te kom tensy mens kontakte met iemand in Pro Arte gehad het, maar ek het tog amper alle opvoerings kon sien, my Wiskunde-aandklasse geignoreer (en gedop) en oa Lucia de Lammermoor en Carmen-ballet oor en oor ervaar! ek blaai nou die dag deur n 50jaar gedenkuitgawe van Trek en sien weer die bekende gesigte van oa Hennie van Melkbos ea…

  17. Springbokpark! skryf nog asb?

  18. Jy skryf so lekker en ek lees so lekker hier. Ek het summier ingeteken dat ek ‘n e-pos gaan ontvang wanneer jy weer skryf sodat ek jou nie weer mis nie.

  19. frandr het gesê op September 4, 2012

    Ek was een van die iemande in Pro Arte en het gereeld plek aangewys en dan pouses moes tee skink, vir my ‘n moeilike opdrag, maar ek was dapper ter wille van die vertonings ;0) Ek gaan nie vir jou se waar in daai Trek ek verskyn nie, want ek lyk on?/gelukkig nie meer so nie

  20. frandr het gesê op September 4, 2012

    Dankie, MH – ek voel geëerd!

  21. frandr het gesê op September 4, 2012

    Kleedrepetisies is hoogs opwindend en die mense wat daarna gaan kyk, is ware kunsteliefhebbers. Die Brooklynteater gee mens soggens op Saterdae ‘n 20-minuutlange voorsmakie van watter vertoning hulle ook al die week daarna gaan hou, teen net R10!

  22. frandr het gesê op September 4, 2012

    Ek waardeer jou meelewing…

  23. frandr het gesê op September 4, 2012

    Ek troos my maar daaraan dat die universiteit mos veronderstel is om elitisties te wees…?

  24. frandr het gesê op September 4, 2012

    Jy’s te eniger tyd welkom om op my stoep te plak, Ouboet! Helaas, ons het as eerstejaar-barbare nie die besonderse prof Elize waardeer nie, maar heerlik gegiggel as ‘n belhamel die lesingsaalligte aan- en afskakel – bid jou dit aan! Vandag skaam ek my morsdood.Dankie vir jou liriese herinnerings.

  25. louisna het gesê op September 5, 2012

    Nog enetjie:

    PROF RENA PRETORIUS
    Die stylvolle en grasieuse Prof Rena Pretorius het die mooiste gedigte in Afrikaans vir ons toeganklik gemaak. Nog ’n formidabele vrou het my beïndruk. Tydens een van haar lesings het ek heel toevallig eenkeer langs joolkoningin Gaynor Downie, eggenote van Johan Rupert, gesit. My oopmond-bewondering vir een van die heel mooiste meisies wat ek ooit op kampus gesien het, het Prof Pretorius genoop om my vriendelik dog ernstig te vra om tog eerder op te let.

  26. louisna het gesê op September 5, 2012

    Frannie, daar is iets spesiaals vir jou op die stoep

  27. frandr het gesê op September 6, 2012

    Ag ek hoor sommer haar versoek – ‘vriendelik dog ernstig’. ‘n Ware dame, sy het nog handskoentjies gedra toe sy by UP begin klasgee het. Agter daardie professionele voorkoms en optrede skuil ‘n warme belangstelling en medemenslikheid.

  28. louisna het gesê op September 6, 2012

    Sy was/is ‘n great girl

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.