Jy blaai in die argief vir 2012 September.

‘n Stukkie meubel

September 29, 2012 in Sonder kategorie

Ek vee met my hand oor die satyngladde houtblad met die effense hobbel in die middel. Vandag kom haal Laatlam my oupagrootjie se handewerk: die Transvaalse poging om ‘n eenvoudige Kaapse jonkheerskas te vergestalt. Niemand is seker wat die hout is waarvan die oorgrote deel van die kas gemaak is nie; die beste raaiskoot is peerhout. Grootoupa het sy bes gedoen om die afwisseling van geel- en stinkhout te herskep, maar die uiteinde is ‘n interessante laslappie-effek van ligbruin deurraampies en blonde hout – die een vertikale plankie in die middel van die een deur ligbruin en die ander deur se plankie sommer blond.

 

Die laste van die twee laaitjies bokant die deure waar die voorkant en die sykante heg, is rond – nie haaks soos jonger voeë nie – met ‘n ronde houtproppie in elke ronding, behalwe die heel onderstes. Grootoupa was ‘n skrynwerker en sy werk was puik, maar die heel sjarmantste van hierdie kas vir my is die twee laaiknoppe, wat glad nie dieselfde grootte is nie, so ‘n onweerlegbare bewys dat hierdie kas handgemaak is en vir eie gebruik bedoel was.

 

Vir jare het die kas in my tannie se garage gestaan, bedek deur vele lae liggroen en blink bruin enemmelverf. Ek moes mooipraat om die kas te kry, want, seg my tannie, ‘ek kannie vir haar so ‘n ou ding gee nie – hy’s lendelam!’

 

Uiteindelik het ‘n kundige en flukse vriend die kas uit sy lae verf bevry. Iewers het ek ‘n ‘voor-en-agterna’-kiekie van een houtdeur en een geverfde deur, wat ek sal moet soek om aan Laatlam oor te dra. Ek is baie bly dat hulle die kas wil hê, want dis deel van ons familiegeskiedenis.

 

Hoekom voel ek dan so hartseer?

Mabalingwe

September 25, 2012 in Sonder kategorie

‘n Plas buffels lê onder ‘n boom reg langs die pad, met hulle prehistoriese horings wat na alle kante toe bokant die ronde skowwe uitsteek. Een ou sien ek reg van voor: die groot ronde smoel, die nou, beduiwelde ogies, die bek wat heen en weer maal soos wat hy herkou.

 

Ons kom op ‘n klompie jong kameelperde af, lig van kleur, miniatuurweergawetjies wat heerlik aan lenteblaartjies peusel, met een dapper ondernemende wat knarsend droë peule verorber.

 

In die dam lê die seekoeie soos klippe en verras ons so nou en dan met hulle oulike oortjies en potsierlike bekke.

 

Rooi hartbeeste galop vinnig weg en ‘n jakkalsie draf al met die pad langs voor ons uit.

 

‘n Harempie koedoes staan doodstil, hulle lieflike ore soos skulpe teen die lig.

 

Drie kwêvoëls sit in die top van ‘n boom asof hulle daar gerangskik is.

 

Die son gaan bloedrooi onder agter ‘n droë boompie wat hom presies in die helfte verdeel.

 

Ons drink verskriklik baie wyn en eet die heerlikste kos.

 

Ek slaap vaster en langer as nog ooit hierdie hele jaar. Eers die laaste oggend word ek vroeg wakker en sien hoe die sagte sonlig die lae glooiings ligroos verf.

 

As die fikse, frenetiese stappers die pad vat, piekel ek so ‘n entjie saam, gee dan bes en slenter rustig terug huis toe – gaan sit halfpad op ‘n klip en gee nie eens om dat ek so joeslis is nie.

 

Vanaand verlang ek na die tuin van Eden…

 

 

Net ingeval julle my hier los…

September 18, 2012 in Sonder kategorie

‘n Vinnige opmerkinkie sodat ek nie dalk met die Groot Trek agtergelaat word nie: Gaan kyk na Die Wonderwerker – dit maak mens trots om Afrikaans te wees!

Snap, crackle, pop

September 2, 2012 in Sonder kategorie

Net wanneer ek dink dat ek darem nou ‘n mate van sofistikasie bereik het, word ek wreed na die werklikheid teruggeruk.

 

Ek bly in ‘n lieflike gastehuis, ‘n ou herehuis, vol antieke meubels, vars blomme en sorgsaamheid. In die ontbytkamer begroet die gasheer my asof ek ‘n koninklike is. Hy’s ‘n mooie Suid-Afrikaanse Engelsman, dalk ‘n afstammeling van die Settlaars?

 

Ek gaan skep vir my Rice Krispies in, skink melk daarby, sit die lepel reg om te begin eet. Met die gaan sit, tref ek daai lepel dat jy net sien graankos waai – oor die tafel, op my mou, op die vloer…

 

Die kameraadskaplike drukkie wat die arme vroutjie wat die gemors moes kom opruim, my gegee het, het effens gehelp. Maar ek dink nie ek sal ooit weer daardie gepofte ryskorreltjies sien sonder om innerlik ineen te krimp nie…     

UP Aula: ‘n Nuwe fase

September 1, 2012 in Sonder kategorie

Ons stap oor die kampus, my jeugwoonstelmaat en ek, verby die Ou Lettere wat vreemd kaal lyk sonder sy klimopkombersie. Ons onthou hoe die studente telkens die fontein vol seeppoeier gestrooi het om de ene skuimbolle te spoeg toe dit pas gebou was. Dan betree ons die ‘nuwe’ Aula se eietydse foyer en klink ‘n glasie sjampanje. Studentemaats word in die herinnering geroep en ek moet tot my skok hoor dat een van my destydse groot liefdes reeds oorlede is. Nee…dit kan mos nie wees nie? Ek het dan juis gehoop/gevrees dat ons mekaar miskien vanaand sou raakloop…

 

Ek sien weer die sjarmante jong man, ruik die geur van sy pyptabak. Beleef die dag toe hy in koue Kaapse reënweer my hand gevat en saam met syne in sy jassak gehou het. Onthou Springbokpark in die liggroen lenteskemering. Verwyt my opnuut dat ek die klein glaskatjie wat hy my gegee het, in ‘n vlaag van wroegende verlatenheid flenters gegooi het.

 

Ons gaan sit in die volgepakte ouditorium om die gala-aand ter viering van die opgeknapte Aula mee te maak. Hmm – roesbruin sitplekke, nie so mooi soos die oorspronklike rooi fluweel nie. Ek is lankal vies vir my alma mater – vandat my dogter, op my aandrang, Afrikaanse derdejaarsaantekeninge gevra en die dosent net sy skouers opgehaal het. Vanaand sal Tuks moet uithaal voor om my te beïndruk!

 

Dit is dan ook wat gebeur. Die verhoog is ‘n wonderwerk van tegnologie en seepgladde verwisselings. Twee yslike videoskerms gee mens ‘n wonderbaarlike beeld van instrumente en musici; klankversterking bring 21ste eeu en simfonieorkes by mekaar.

 

Die kombinasie van Afrikaanse toneeldiva Sandra Prinsloo en (gedempte) pryssanger Kabelo Tlailane (‘n ingenieurstudent) werk verstommend goed. Hulle proloog baan die weg vir ‘n onderhoudende verwelkoming deur die rektor, prof. Cheryl de la Rey. Daarna dreun Bach en Handel deur die saal, gevolg deur ‘n oorweldigende verskeidenheid instrumente en mense, klanke en beweging.

 

‘n Ongelooflike mengelmoes kunstenaars, elkeen meester van sy eie styl, beweeg oor die verhoog en sleur ons mee. Daar’s ‘n ballerina, Spaanse dansers, Afrika-tromme en -dansers, jazz-, opera- en luisterliedjiesangers – daar’s tot twee akrobate! Orrel, kitaar, klavier, saksofoon, elektriese viool kry elkeen ‘n kans om te skitter. Tuks Camerata sing spirituals soos dit gesing behoort te word en die wit koorlede beweeg met dieselfde oorgawe as hule swart medestudente. Die UP Ovuwa kulturele ensemble dans die verhoog warm, die sanggroep Medu sing Weeping met innige gevoel.

 

Toe Tuks Camerata en Ovuwa saam I will rise van Chris Tomlin sing, biggel my trane en ek weet: dis nie net omdat die sterk jong stemme so lieflik klink en die lied so mooi is nie. Dis ook oor ‘n hart wat nie meer klop nie…

 

Na die vertoning loop ‘n jong meisie met ‘n tradisionele kopband by my verby en ek bedank haar vir die mooi vertoning. Sy lyk effens uit die veld geslaan, maar verduidelik dan mooi vir my dat sy en haar vriendin nie deel van Ovuwa is nie, maar dat hulle die kopbande dra “for solidarity and to support them”. Ek dink aan die ernstige tromspeler wat met soveel toewyding gespeel het, die jong meisie wat so met haar hele hart gesing het en ek besef dat ons vanaand hier ‘n beeld gesien het van wat Suid-Afrika kán wees: ‘n ryke tapisserie van kultuur en tale, met ‘n plekkie vir almal. Mooi so, UP!