Vir my was Dawid nog altyd ‘n fassinerende karakter. Digter en musikant – en verwoede krygsman. Held en leier – en feilbaar. Skaapwagter en jongste seun – toe koning. ‘n Man “na God se hart” – wat iemand anders se ooilammertjie gesteel het. Geen wonder dat sy lewe ryke stof tot ‘n musiekdrama bied nie.
Ek en my amper-dogter gaan kyk Vrydagaand na “Dawid, die Musical” – Laatlam het viervoet vasgeskop en bly tuis. Dis nie die gewone opera-gehoor hierdie nie – ‘n groepie probeer selfs voor die vertoning en weer tydens pouse ‘n Mexican wave in die Staatsteater aan die gang kry.
Die stel is baie slim – verskillende blokke wat d.m.v. die draaiverhoog in slagveld, wegkruipgrot of paleis omgetower kan word. Die voorverhoog rys uit die dieptes op om ander plekke soos bv. Isai se huis of die Israeliete se gevegskamp voor te stel. Toneelwisseling is seepglad, die aksie sleur ons mee.
Die musiek is pragtig, met ‘n Oosterse geur. Die groot koor sing en beweeg goed, die meisies dra sagte, vloeiende rokke; die mans, kort tunieke en leersandale. Koning Saul se afguns en vervolgingswaan kry meesterlik deur Johan Scholtz gestalte; Goliat (Garth Collins) verskyn teen die hoogte: ‘n bulderende, skrikwekkende figuur. Manhaftig stap die jong Dawid (Dewald Louw) nader, swaai die slingervel – en dramaties tuimel Goliat na benede. Agter een van die blokke word sy kop afgekap (dit was net te vinnig vir so ‘n grusame aksie) en dan oorhandig Dawid triomfantelik die trofee aan Saul.
Retief Burger verskyn as die volwasse Dawid en sy deurleefde vertolking bring ‘n aangrypende spiritualiteit na die verhoog. ‘n Mens hoor bekende frases: “Met my God loop ek ‘n bende storm…” en veel later: “Skep vir my ‘n rein hart, o Heer.”
Die tweede bedryf begin met die Ark se koms na Jerusalem – vir my die hoogtepunt van die opvoering. Hoe sou mens Dawid se dans voor die Ark uit voorstel? Dit sou baie maklik in ‘n klugspel kon ontaard… Maar nee, die swiepende dansbewegings – swaai, draai, verstil vir ‘n oomblik, dan weer verder – word volmaak, met volkome oorgawe uitgevoer. Dawid se vervoering en vreugde word so mooi uitgebeeld dat sy vrou se betigting soos ‘n emmer koue water in die gesig voel.
Dan kom die hartseer verhaal van Batseba (Melissa Bam)… Die mooie meisiekind steel Dawid se hart – Dawid steel Uria se lewe. Dawid en Batseba se kindjie sterf en in ‘n roerende toneel huil die moeder hartverskeurend terwyl die koning haar probeer troos. Agter ons sit ‘n klein dogtertjie, wie se angstige vrae (“Hoekom huil die tannie? Hoor hoe huil sy… Hoekom huil sy, mamma?”) amper soos die kommentaar van ‘n Griekse koor ‘n kontrapunt met die tragedie op die verhoog vorm.
Gelukkig laat die skrywers ons nie daar nie. Die stuk eindig met ‘n vreugdevolle toneel: Batseba hou die klein Salomo vas, uit wie se bloedlyn die Messias sal kom.
Onlangse kommentare