“Janneman”
Junie 24, 2012 in Sonder kategorie
Woensdagaand pak ek die rit Staatsteater toe aan om na Janneman te gaan kyk.
Die verhoog is in drie verdeel, met ‘n vrou in elke raam: Hannah Borthwick as die jong meisie, Sandra Prinsloo as die ouma en Franci Swanepoel as haar dogter.
Die stuk is eintlik ‘n reeks monoloë, want die spelers praat nooit direk met mekaar nie. Terwyl die een karakter praat, sit die ander twee doodstil in die agtergrond, of verklee rustig in die klere wat by hulle volgende vertelling gaan pas (elkeen se kostuums hang in volgorde agter op haar stukkie verhoog.)
Dis ‘n baie slim stuk – verstommend hoe ‘n mens deur die vertellings meegesleur word en hoe jy jou verbeelding gebruik om die gebeure waarvan die drie vroue vertel, te sien. So iets sal natuurlik net werk met spelers wat meester van hulle vak is!
Franci Swanepoel, as die moeë ma wat die hartseer oor haar dwelmslaaf-wegloopman met salsa-klasse probeer verwerk, het aan my hartsnare gepluk.
Ek gesels later die week met iemand wat die stuk lank gelede gesien het. Sy vertel hoe Sandra Prinsloo se vertolking haar aan haar eie ma laat dink het, en hoe aangrypend dit vir haar was. Ons sit saam en dink aan die gebroke figuurtjie wat stadig, innig, ‘n handjievol grond op haar man se kis laat krummel…
Nou klink dit darem baie morbied – en dit is die stuk glad nie! Daar is baie ligter oomblikke, soveel so dat ek met my Victoriaanse opvoeding so by myself sit en dink: is dit darem regtig hoe ‘n vrou van daardie leeftyd sal optree? Toe ek agterkom die stuk is eintlik ‘n vertaling, was dit vir my makliker om te sluk, maar ek sou gedink het dis ‘n Amerikaanse of ‘n Britse stuk, terwyl Elaine Murphy ‘n Ierse dramaturg is.
Ek en my jeugmaat vier die aand eintlik as ‘n waterskeiding, want dit is die laaste week van sy loopbaan by die Staatsteater. Lank gelede het hy die moed gehad om sy droom te gaan nastreef op universiteit, waar die jongeres gou ontdek het dat “die ou oom” (ook maar net in sy twintigs, maar ons weet mos hoe relatief ouderdom is!) goed kan byhou en ‘n vriend duisend is: gevat, gasvry en onverbiddelik lojaal. In die goue jare van die Staatsteater het hy en sy personeel derduisende teatergangers verwelkom, alles glad laat verloop, probleme opgelos en onvermoeid gewerk om die uitvoerende kunste en die publiek by mekaar te laat uitkom. Nou lê daar ander avonture voor…
Onlangse kommentare