Bôbbie

Mei 25, 2012 in Sonder kategorie

Een van die baie voordele van vriendskap is dat dit jou soms dinge laat doen wat jy normaalweg nie eens sou oorweeg nie. So beland ek laas Vrydag by ‘n konsert van Bobby van Jaarsveld, omdat my vriend, chanteur par excellence, die voorprogram doen.

 

So mooi soos die luisterliedjies van die sewentiger-/tagtigerjare vir my was, so onmooi vind ek die huidige Afrikaanse popmusiek: die sentimentaliteit, die enkelvoudigheid, daardie ellendige tromspelers wat net een eentonige ritme hou dwarsdeur die hele “song”. Tog, nadat ons ons pêl na behore toegejuig het, bly ons sit om Bôbbie te beleef.

 

Watter aangename verrassing! Die jongman is werklik musikaal en daar is harmonie tussen hom en sy vier begaafde orkeslede, tussen hom en die gehoor. Iewers in die middel van die stewige program sit hy sagte akkoorde en speel op sy kitaar terwyl hy as wedergebore Christen onbeskaamd “vir almal in hierdie saal” bid, sommer so sonder ophef, onopgesmuk en opreg.

 

Soos hy sy treffers sing, stroom kinders vorentoe om in die spasie tussen die verhoog en die eerste ry sitplekke aan sy voete te gaan sit. Die kolligte laat hulle hare blink, party staan met hulle voorarmpies op die verhoog en trommel die ritmes op die planke uit. Dis vir my wonderlik om te besef dat hier ‘n uitstekende rolmodel is – gesond, opbouend, heilsaam.

 

Bobby, jy mag maar liedjies skryf en sing – en ek sal jou nie weer Bôbbie noem nie.

10 antwoorde op Bôbbie

  1. Losbek het gesê op Mei 25, 2012

    Ons kan doen met goeie rolmodelle

  2. Vetjan het gesê op Mei 25, 2012

    altyd goeie besigheid

  3. Ientjie het gesê op Mei 25, 2012

    Pragtig. Tien uit tien vir hom

  4. loudavisi het gesê op Mei 26, 2012

    Mens verander van opinie as jy ‘n kunstenaar live sien optree. Radio en CD laat laat my gmph sê!

  5. Ja, Bobby is ‘n oulike seun.
    🙂

  6. Nou ja toe, dalk sal ek dit ook waag om na hom te gaan luister. Ek deel jou sentiment oor vandag se Afrikaanse sangers in die algemeen. Dis verfrissend om te hoor daar is darem een of meer wat anders is.

  7. endlich het gesê op Mei 28, 2012

    Nou wat gaan jy dan jy dan nou vir Bobbie noem? hy is dan bobbie
    ja die “sokkie nou, pomp my gou” afrikaanse musiek is iets wat ek willens en wetens NIE sal ondersteun nie. Dis ‘n disgrace – ek stem net jou saam.
    Die met ware talent moet ondersteun word!

  8. frandr het gesê op Mei 28, 2012

    Nog steeds op sy naam, maar sonder die oordrewe en sarkastiese uitspraak ;0)

  9. endlich het gesê op Mei 29, 2012

    🙂
    nou mooi volrond en met respek

  10. Madhatter het gesê op Junie 12, 2012

    Ek dink altyd as mens hulle eers op die verhoog sien voel jy anders oor hulle. Hy het so groot geword. Ek het hom jare gelede saam met Theuns op die verhoog beleef. Toe was hy so skaam en onseker dat hy nooit ophou glimlag het nie. Nou is hy selfversekerd en weet gewis waarheen hy oppad is.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.