Toneel by die Atterbury

Mei 13, 2012 in Sonder kategorie

 

“The glory of life is to live in graceful celebration…”, sê Lou Tice wat die program Investment in Excellence ontwikkel het. Hoe grasieus dit was – veral toe ek oor die veld gestrompel het of teen pawiljoene op en af gesukkel het – weet ek nie, maar ek vier nou al ‘n hele paar Saterdagaande die Afrikaanse toneel – en vriendskap.

 

Gisteraand was dit in die pragtige Atterburyteater, waar ek en ‘n vriendin na Voor ek vergeet gaan kyk het, ‘n kragtoer deur Amanda Strydom en Hannes van Wyk. Die stuk is einde Januarie in ‘n Litnet-artikel bespreek; dit het by die Stellenbosse Woordfees gedebuteer, by die KKNK gespeel en is nou op pad na Innibos toe.

 

Hendrien Botha is ‘n gewone ma, iemand wat self drome gehad het en ook drome vir haar seun gedroom het. Na haar man se dood, toe sy haar huis – haar veilige hawe – ook nog moes prysgee, was haar hart so seer “dit het gevoel of dit gaan bars”. Mens kry haar so lief en so jammer en jy weet: die afdraand van die ouderdom wat haar nou in die gesig staar, wag vir ons almal. Die skrywer, Karen Marx, beeld die ou vrou meesterlik uit: haar diep liefde vir haar seun, die flitsies vroulike ydelheid, die droomverlore hunkering na romantiek, die onophoudelike verlange na haar man en die nugtere terugdink aan elkedag se klein irritasies. Amanda Strydom verwys self na die teks as “pragtig en deernisvol”, woorde wat mens ook kan gebruik om haar vertolking mee te beskryf.

 

Enigiemand wat al as volwassene na ‘n bejaarde ouer moes omsien, sal besef dat Hannes van Wyk daardie liefderike ongeduld en glimlaggende frustrasie perfek vasvang. Sy energieke beweging en lewenslus vorm net die regte teenstelling met sy ma se mank stappie en die huiwerigheid waarmee sy haar “goedjies” vir die trek na ‘n klein kamertjie toe sorteer, wegmaak en inpak.

 

Saam sorg hierdie twee akteurs en hulle regisseur, Gert van Niekerk, vir ‘n hartverskeurende ervaring: ons lag, ons snak na ons asem en ons huil. Na die welverdiende staande ovasie, is die geselskap gedemp – hier en daar pink iemand nog skelmpies ‘n traan weg.

 

Op pad huis toe lyk die donkies surrealisties in blou lig, glad nie dieselfde vriendelike standbeelde van ‘n sonnige middag as die kleuters in die watertjies kom plas nie.

22 antwoorde op Toneel by die Atterbury

  1. loudavisi het gesê op Mei 13, 2012

    Ek het nou hoendervleis, so mooi het jy dit beskryf!

  2. pasella het gesê op Mei 13, 2012

    Ek en Vroukie is die afgelope tyd diep betrokke by iemand wat die afdraand van die pad bewandel, hand aan hand met Alzheimers. Hartverskeurend hoe mens se lewe afgeskil word, op meer as een manier, eers is dit dit materiële, die trek na die klein kamertjie, dan die geestelike, die agteruitgang van die breinfunksies.

  3. frandr het gesê op Mei 13, 2012

    Dankie Lou. Sterkte vir Maandag!

  4. frandr het gesê op Mei 13, 2012

    Dis baie dapper van julle om betrokke te bly – nie almal het die geesteskrag daarvoor nie!

  5. TS het gesê op Mei 13, 2012

    Ai selfs ek het ‘n knop in die keel… dankie vir die deel

  6. avega het gesê op Mei 13, 2012

    Amanda is seker ideaal in die rol, sy het soveel empatie omdat sy self deur swaarkrytye gegaan het.

  7. Ientjie het gesê op Mei 13, 2012

    Alles so waar en presies soos dit(met my ook)gebeur. Het ook sommer weer ver teruggedink aan, liefde, kind grootmaak, sterfte van eggenoot, verloor van amper alles en nou begin afhanklikheid van kind! Kringloop van die lewe. Dankie vir die deel van die gebeure in die toneelstuk. Klink pragtig

  8. Modigliani het gesê op Mei 14, 2012

    Jy laat my sleg voel, jy gaan in ‘n maand meer teater toe as ek in ‘n jaar 😉

  9. HeavyHenry het gesê op Mei 14, 2012

    Nice – klink na lekker stuk!

  10. Twaksak het gesê op Mei 14, 2012

    As jy so aanhou vertel gaan jy my ook aansteek!

  11. Carol460 het gesê op Mei 14, 2012

    Sjoe, dit klink vreeslik hartseer, maar ek hoor dis ‘n baie goeie stuk !

  12. frandr het gesê op Mei 14, 2012

    Dis regtig hartseer, maar glad nie morbied nie – daarin lê die prag en waarde van die stuk!

  13. frandr het gesê op Mei 14, 2012

    Ai, Twaksak – ek hoop so. Toneel kan nie floreer sonder toeskouers nie…

  14. frandr het gesê op Mei 14, 2012

    Ja, dit was ‘n heerlike toneelervaring

  15. frandr het gesê op Mei 14, 2012

    Met hierdie orgie haal ek nou in vir daardie jare waarin jý op die oomblik vertoef – soveel verpligtinge en baie min eie tyd. Moenie sleg voel nie!

  16. frandr het gesê op Mei 14, 2012

    Goeie toneel is mos juis ‘n spieël vir die lewe…

  17. frandr het gesê op Mei 14, 2012

    Haar vertolking het verstommende, aangrypende diepte.

  18. frandr het gesê op Mei 14, 2012

    Dankie vir die lees, Tina

  19. Loergaatjie het gesê op Mei 15, 2012

    Ek sou my nou weer in ‘n koma ingehuil het !

  20. sirpsa het gesê op Mei 16, 2012

    Talenvolle mens, die Amanda.

  21. Madhatter het gesê op Mei 17, 2012

    Ag jy maak my sommer hartseer. Ek voel die trane net hier agter my oge.
    Dankie vir die deel.

  22. shlwanjan het gesê op Mei 21, 2012

    Dit klink uitstekend!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.