Toneel in die veld

Mei 7, 2012 in Sonder kategorie

Op die laaste aand van die speelvak van die derde stuk, “Babbel”, in Nicola Hanekom se triptiek, pak ek die uittog na ‘n Lugmagsportveld in Lyttelton aan, waar die teatergangers ‘n pawiljoentjie langs ‘n radiomas volpak. Wanneer ons daar aankom, is twee van die karakters reeds op die verlaag, waar die rooi grond snuifgetrap is van die week se energieke spel. Tinarie van Wyk Loots se starende oë en bewende hande waar sy aanvanklik op haar kampbedjie lê terwyl die gehoor langsamerhand oor die veld aangestryk kom, die pawiljoen klim en regskik, is meesterlike toneelspel! En sy hou dit enduit vol, selfs toe die ligte net so ‘n aks te lank vat om afgeskakel te word heel aan die einde van die stuk.

 

Van meet af is die atmosfeer somber en onheilspellend. Dis die nadraai van ‘n rewolusie, ses jaar van nou af, waartydens daar onder andere “bomme op Benoni” geval het. Onverstaanbare seine stroom onophoudelik deur die toring; in die veld hardloop skimfigure rond. Die mense is verward en getraumatiseer, die aakligheid van oorlog word grafies by die gehoor tuisgebring.

 

Soos wat ek nou al te wagte is, word ons ook met simboliek gebombardeer, maar ek hou (redelik) goed by. Ek verstaan bv. die verlepte roos in die blombeddinkie en die elektroniese toerusting in die prêmpie. Vanaand se stuk is egter te ernstig vir die skrywer om weer ‘n sydelingse klap in die rigting van populêre Afrikaanse musiek te mik, soos wat sy tot my groot vermaak in die ander twee stukke gedoen het.

 

Die gehoor gryp dankbaar die effense comic relief van die voormalige leier se pratende kop aan. Eintlik is ons heel verdwaas, die applous is nie naastenby erkentlik genoeg vir hierdie dapper toneelbende nie! Soos Brendon Daniels, die pratende kop, later opmerk: “Nicola hou daarvan om haar spelers uit te daag.” Een en almal van hulle het die uitdagings aanvaar en kom met vlieënde vaandels anderkant uit.

 

Pronk het gepraat van die prentjies wat sy na “Betesda” met haar saamgeneem het. Dis ‘n baie goeie manier om die na-effekte van hierdie stukke te beskryf. Daar is ‘n Babel se prentjies in my kop en ek voel waarlik bevoorreg om sulke Afrikaanse toneel te kon beleef het.

18 antwoorde op Toneel in die veld

  1. Madhatter het gesê op Mei 7, 2012

    Mis ek nou als. Lees vandag van al die toekennings. Damn!

  2. Ientjie het gesê op Mei 7, 2012

    Lekker saam gekuier by die tonele. Dankie vir die deel het dit geniet

  3. loudavisi het gesê op Mei 8, 2012

    Ek wens ek kon dit beleef!

  4. TS het gesê op Mei 8, 2012

    klink uitstekend

  5. endlich het gesê op Mei 8, 2012

    klink aangrypend – een van daardie ervarings waarvan die volle betekenis stuk stuk in die onderbewussyn bymekaargesit word tot die beeld ‘n paar dae later helder na vore kom

  6. Joanna Graham het gesê op Mei 8, 2012

    Ja, jy’s inderdaad gelukkig om so naby aan soveel geleenthede te wees. Ai. Geniet dit maar.

  7. HeavyHenry het gesê op Mei 9, 2012

    Lekker!

  8. frandr het gesê op Mei 9, 2012

    :0)

  9. frandr het gesê op Mei 9, 2012

    Daar’s puik foto’s van aldrie stukke op http://www.tshwanebeeld.com, ofskoon hulle die kat aan die stert beet het en beweer dat die bruid in “Lot” Bronwyn van Graan is, dis eintlik Tinarie van Wyk Loots – maar die foto’s is wonderlik. Gaan na die Fotogalery, kategorie Vermaak.

  10. frandr het gesê op Mei 9, 2012

    Daar’s kort video’s met beeldmateriaal uit Lot en Bethesda op YouTube en ook ‘n onderhoud deur Rudi Stroebel met die skrywer-regisseur Nicola Hanekom, gaan kyk gerus.

  11. frandr het gesê op Mei 9, 2012

    Ek’s bly!

  12. frandr het gesê op Mei 9, 2012

    Uitstekend – en uitmergelend…

  13. frandr het gesê op Mei 9, 2012

    As mens ver van jou kleinkinders af is moet jy darem kompensasies ook hê!

  14. frandr het gesê op Mei 9, 2012

    Dis mooi beskryf – my onderbewussyn is maar traag, gelukkig het Pronk handjie bygesit om my Bethesda te laat verstaan.

  15. loudavisi het gesê op Mei 9, 2012

    Ek het gaan kyk.
    Dis absoluut amazing!
    Dankie Frann…ek is nou effe groen..

  16. frandr het gesê op Mei 9, 2012

    Hierdie stukke is so goed dat ek seker is jy gaan iewers die kans kry om hulle self te beleef.

  17. palamino het gesê op Mei 10, 2012

    Ek is so jammer ek kon nie Babbel bybring nie! Dankie vir hierdie

  18. frandr het gesê op Mei 10, 2012

    Dit sal wel weer opgevoer word omdat dit so goed is. Hoop jy kry anderdag die kans – ook om Lot te sien, dis my gunsteling.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.