Verras, verstom, verward

April 28, 2012 in Sonder kategorie

In die dae van die streeks-kunsterade kon ‘n mens ‘n glansprogram koop wat die gebeure op die verhoog opgesom het en verduidelik het wat eintlik aangaan. Vanaand het ek so ‘n program baie nodig gehad om die tweede drama “Betesda” in Nicola Hanekom se triptiek te kon verstaan. Ek het net hier en daar grondgevat en voel nou soos die dom outjie in die klas.

 

Ek het wel besef dat menslike ellende hier verteenwoordig word: die blinde, die dowe, die lamme en die malle. ‘n Besondere moderne toevoeging was die vette. Maar hoekom het die engel wat die water moes roer op ‘n stadium in onverstaanbare taal (“engeltaal”) by die voorste ry van die gehoor kom pleit? Ek dog dan sy’s begrawe?

 

Daar was ‘n aangrypende klaaglied oor die toestand van die aarde. Daar was ‘n lewensredder wat niemand gered het of wou red nie – ‘n nare karakter, hierdie valse skaapwagter, en waarskynlik die rede hoekom mense al tydens die stuk uitgeloop het.

 

Die gebeure het in en om die Hillcrest-swembad afgespeel – ‘n yslike stuk ruimte wat baie goed gebruik is. Die regisseur is meester van onverwagte en treffende effekte. Die spelers kan nie net toneelspeel en sing nie; onder hulle is daar ‘n rolskaatser, kitaarspeler en klopdanser. Oja, en hulle kan almal swem – baie goed.

 

Daardie mense het vanaand dapper aanhou swem toe die rêrige weerlig begin flits en sodoende my senuwees, wat reeds rou was vanweë die stuk, totaal verinneweer.

 

“Babbel” speel volgende week by 68 Lugsportgrond in Lyttelton. Volgens die skrywer-regisseur is dit weer meer van ‘n “regte” toneelstuk, dus sal ek dit hopelik beter verstaan as vanaand se happening. Maar wat – volledige begrip is nie ‘n voorvereiste vir genot nie, of hoe?

 

 

26 antwoorde op Verras, verstom, verward

  1. Jy’s n moedige ondersteuner, Frannie.

  2. Ientjie het gesê op April 29, 2012

    Dis darem nog iets wat niemand van jou kan wegvat nie. Die bywoon van n opvoering sal jou altyd bybly

  3. TS het gesê op April 29, 2012

    Ek mis ook alles…
    Ek koop nooit meer programme nie want dit kos baie geld en jy kyk nooit weer daarna nie

  4. Breek sommer my spoed,as ek nie verstaan wat aangaan nie.Dan is my brose ego sommer in sy maai in!

  5. Tenminste laat dit jou aanhou dink 😉

  6. loudavisi het gesê op April 29, 2012

    Klink na ‘n taaierige toffie!
    Wat sê die ander toeskouers?
    Soms is dit goed om aan ‘n lyntjie gehou te word, maar dan moet die einde darem klop..

  7. frandr het gesê op April 29, 2012

    Ek het so op my eentjie gekyk en kon dus nie menings wissel nie. Die gehoor het hartlik gereageer en waarderend hande geklap. O en so van dom gepraat, Lou – onthou tog asseblief dat jy ‘n slim vrou is, hoor :0)

  8. frandr het gesê op April 29, 2012

    Dis een van die bekorings van hierdie stukke – die beelde en idees draai lank daarna nog in ‘n mens se kop rond.

  9. frandr het gesê op April 29, 2012

    En hoe, ‘Bytjie!

  10. frandr het gesê op April 29, 2012

    Jy’s reg, ek het hope ou programme wat ek die een of ander tyd sal moet uitgooi…

  11. frandr het gesê op April 29, 2012

    Die maan was so mooi en dit was ‘n lieflike stil herfsaand. Dis nou tot die weerlig begin het!

  12. frandr het gesê op April 29, 2012

    -Laggie- Dankie vir die kompliment!

  13. loudavisi het gesê op April 29, 2012

    Haha!
    Ok, nou moet ons nog net vir Mnr Johan oortuig…
    Ek is te oud om te worry ..
    😀

  14. HeavyHenry het gesê op April 30, 2012

    Sou jy gegaan het as jy toe geweet het wat jy nou weet?

  15. Nee, o Kriek, my kop is te plat vir sulke simboliese shows!

  16. frandr het gesê op Mei 1, 2012

    Oja, verseker! Dis net so wonderlik om verbeeldingryke Afrikaanse toneel te kan beleef.

  17. frandr het gesê op Mei 1, 2012

    Laat jy my nou beter voel :0)

  18. HeavyHenry het gesê op Mei 1, 2012

    Nou dan was dit mos nice!

    🙂

  19. frandr het gesê op Mei 1, 2012

    Yup!

  20. Loergaatjie het gesê op Mei 1, 2012

    🙂 xx

  21. palamino het gesê op Mei 3, 2012

    Ons sit nog so lekker en kyk Vrydagaand, toe verskiet daar ‘n ster reg bokant die swembad! Dit het soveel bygedra tot die magic.

    Sulke kontemporere teater maak meestal nie sin in, ja wel, die ware sin van die woor5d nie. Ek dink dit het als begin met Beckett se ‘Waiting for godot” Hier word ook gewag… vir ‘n engel wat versuip het. Ek dink die boodskap hier is dat daar juis nie vir ons ‘n engel gestuur word nie, maar dat ons ons eie power het om wel te heling te vind, al genees ons kwale en krankhede dan nou nie. So klim die malle van sy trollie af en kry ‘n stukkie sanity, en die lamme wys ons hoe hy aan die binnekant dans….

    Vir my gaan dit ook oor die emosie wat by my ge-evoke is aan die einde, juis toe die engel haar pleidooi lewer. Ek het gevoel hoe ek heling kry.

  22. palamino het gesê op Mei 3, 2012

    Ek is huistoe met soveel prentjies in my kop

  23. frandr het gesê op Mei 4, 2012

    Ja, dit maak sin! Soos ek jou uitleg lees, sien ek die karakters en verstaan ek heelwat meer. Die pleitende engel se mooi gesiggie was skaars ‘n halwe meter van my af, maar vanweë my onbegrip het ek die gevoel van heling misgeloop… Maar toemaar, Saterdagaand probeer ek “Babbel”.

  24. Joanna Graham het gesê op Mei 5, 2012

    Met die begryp van die stuk kan ek jou ongelukkig nie help nie, maar ek is aangegryp deur die genot wat jy nietemin uit die kuns gehaal het.

  25. Joanna Graham het gesê op Mei 5, 2012

    Ja, nou’t ek ook sommer lus om die stuk te sien!

  26. Twaksak het gesê op Mei 6, 2012

    Ek dink dikwels is die punt dat jy juis nie moet verstaan nie. Want dis hoe die lewe verloop.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.