‘n Toneelbelewenis
April 22, 2012 in Sonder kategorie
Op die oomblik speel daar in Pretoria ‘n triptiek Afrikaanse toneelstukke, geskryf en geregisseer deur Nicola Hanekom. Dié van julle wat lief is vir toneel en vir Afrikaans en wat nie hierdie opvoerings by Aardklop gesien het nie, maak ‘n plan en gaan kyk!
Gisteraand was ek bevoorreg om die (ongelukkig) laaste opvoering in hierdie speelvak van die eerste stuk “Lot” te kon sien – briljante toneelspel, wonderlike Afrikaanse dialoog en ‘n hoogs oorspronklike konsep.
Nicola Hanekom is ‘n bondel energie en kreatiwiteit, en sy het hier iets geskep wat die gewone grense van die toneel oorskry. Die gehoor sit iewers in die veld op ‘n pawiljoen, terwyl die verhaal onder op die “verlaag” afspeel, op die werklike grond met ‘n rêrige hek wat lei na ‘n egte grasveld waarheen van die karakters later koers kry. Daar is verrassende rekwisiete wat kwalik binne ‘n teater gebruik sou kon word en een spesiale effek wat die gehoor soos een mens letterlik na hulle asems laat snak het. Dis so opwindend soos ‘n fliek – nee, omdat dit op die mespunt van onmiddellikheid balanseer, het dit ‘n opwinding wat mens nooit in die movies gaan beleef nie.
Hierdie komende week speel “Betesda” by die Hillcrest-swembad en die week daarna is dit “Babel”, iewers in Snake Valley by ‘n militêre basis. Te oordeel aan die eerste stuk, speel die subteks van die Bybelse verwysing ‘n baie klein rolletjie in die geheel. Ek weet glad nie wat om te verwag nie, maar kyk gaan ek kyk!
Laataand sit ek en ‘n kosbare vriend onder ‘n reuse plataanboom en dink terug aan ons jong dae in Sunnyside, ‘n leeftyd gelede. Dis herfs. Ek drink my soet sjerrie en vier die lewe en vriendskap. Dankie, my ou maat.
benvanbruggen het gesê op April 22, 2012
As 16 jarige het ek vir so n maand elke oggend 6.45 oor die muur van die Hillcrest Swembad geklim en
heerlik alleen lengtes gedoen in hierdie 50 meter
bad. Totdat die dem opsigter een oggend vroeg opgedaag het.
Ientjie het gesê op April 22, 2012
Pragtig man. Bly jy geniet die lewe soos dit kom. Sou nogal graag die opvoerings wou sien!O die liewe Sunnyside van die verlede was wonderlik was dit nie?
loudavisi het gesê op April 23, 2012
O, ek hou van sulke kreatiwiteit!
Hoop jy gaan ons van die ander ook vertel.
Doubtingthomas het gesê op April 23, 2012
Ja, Hillcrest swembad bring ook herinneringe terug…
TS het gesê op April 23, 2012
Ag hoe lekker… nou bly ek te ver… Lekker het ons teen halfprys by die Breytenbach teater stukke sien met baie bekende kunstenaars wat toe nog jonk was.
palamino het gesê op April 23, 2012
Sy is ongelooflik kreatief, ek stem saam! Dankie vir die deel. ek gaan my bes doen omm ten minste by Betesda uit te kom.
Ek is nou besig om n groep mense bymekaar te kry.
Trakie het gesê op April 23, 2012
Wat ‘n belewenis.
HeavyHenry het gesê op April 23, 2012
Ag nice!
frandr het gesê op April 23, 2012
Ek het weer plek aangewys by die Aula – die allerwonderlikste opvoerings so gesien.
frandr het gesê op April 23, 2012
As daardie swembad kon praat…
frandr het gesê op April 23, 2012
Sal graag so maak, Lou
frandr het gesê op April 23, 2012
Dit was, ja. Laat in die nanag kon ek die leeus in die dieretuin hoor brul, as ek op die oop balkonnetjie van my vooroorlogse woonstel gestaan het. Maar eintlik dink ek dit was maar ons jeug wat alles so spesiaal gemaak het.
frandr het gesê op April 23, 2012
Met daai spesie moet ‘n mens nie sukkel nie…
frandr het gesê op April 23, 2012
Dis die beste nuus – hulle verdien groot gehore.
frandr het gesê op April 23, 2012
Dit was so lekker om weer die bekoring te ontdek wat toneel nog altyd vir my gehad het.
frandr het gesê op April 23, 2012
:0)
avega het gesê op April 23, 2012
Hopelik sal mens dit iewers nog kan opvang, soos by Aardklop of so.
CelesteDumas het gesê op April 26, 2012
jaloers is ek nou! ek sal uitkyk as hulle dalk Kaap toe kom? sal seker gereeld moet Google
Perdebytjie het gesê op April 29, 2012
Klink baie kreatief!Wie sou nou kon dink om die opvoerings op regte plekke te hou?Briljante idee.