Verras, verstom, verward
April 28, 2012 in Sonder kategorie
In die dae van die streeks-kunsterade kon ‘n mens ‘n glansprogram koop wat die gebeure op die verhoog opgesom het en verduidelik het wat eintlik aangaan. Vanaand het ek so ‘n program baie nodig gehad om die tweede drama “Betesda” in Nicola Hanekom se triptiek te kon verstaan. Ek het net hier en daar grondgevat en voel nou soos die dom outjie in die klas.
Ek het wel besef dat menslike ellende hier verteenwoordig word: die blinde, die dowe, die lamme en die malle. ‘n Besondere moderne toevoeging was die vette. Maar hoekom het die engel wat die water moes roer op ‘n stadium in onverstaanbare taal (“engeltaal”) by die voorste ry van die gehoor kom pleit? Ek dog dan sy’s begrawe?
Daar was ‘n aangrypende klaaglied oor die toestand van die aarde. Daar was ‘n lewensredder wat niemand gered het of wou red nie – ‘n nare karakter, hierdie valse skaapwagter, en waarskynlik die rede hoekom mense al tydens die stuk uitgeloop het.
Die gebeure het in en om die Hillcrest-swembad afgespeel – ‘n yslike stuk ruimte wat baie goed gebruik is. Die regisseur is meester van onverwagte en treffende effekte. Die spelers kan nie net toneelspeel en sing nie; onder hulle is daar ‘n rolskaatser, kitaarspeler en klopdanser. Oja, en hulle kan almal swem – baie goed.
Daardie mense het vanaand dapper aanhou swem toe die rêrige weerlig begin flits en sodoende my senuwees, wat reeds rou was vanweë die stuk, totaal verinneweer.
“Babbel” speel volgende week by 68 Lugsportgrond in Lyttelton. Volgens die skrywer-regisseur is dit weer meer van ‘n “regte” toneelstuk, dus sal ek dit hopelik beter verstaan as vanaand se happening. Maar wat – volledige begrip is nie ‘n voorvereiste vir genot nie, of hoe?
Onlangse kommentare