Vrugteboord

Maart 9, 2012 in Sonder kategorie

In ons voorstedelike agterplaas het my pa ‘n paradyslike vrugteboord geplant. Elke jaar op my mammie se verjaarsdag het hy die eerste rooiwang- witvleisperskes soos ‘n liefdes-offer vir haar gebring. Daarna was daar kaalperskes en dan het die geel albertas gevolg.

 

Daar was ‘n laning vyebome en een boompie wat sulke klein pers vytjies gedra het. Daar was twee soorte pruime, geelperskes en amandels. In die hoek het ‘n granaat gegroei, net langs die turksvye, wat hy so behendig met ‘n stok kon pluk en vir die lekkerbek-kind kon skil. Hy het die bome gereeld natgelei, met ‘n blikkie wat die tuinslang se stroom water verswak, sodat dit nie die grond wegspoel nie. Dan het ek so saam met my pa van die een boom se kring na die volgende beweeg en my verkyk aan die manier waarop die water die stokkies en blaartjies oplig en laat dryf.

 

Die twee appelkoosbome se vrugte was groot en sappig en as mens klaar geët het, het jy die pitte met ‘n halwe baksteen oopgekap om die besonder geurige neut daarbinne by te kom. My pa moes maar self die oorvloedige opbrengs van sy boord verwerk en daar was altyd uitgedopte appelkoospitte in sy heerlike appelkooskonfyt, wat ‘n besonderse geur aan die konfyt gegee het.

 

Hy het dikwels helpers gesoek om saam te skil aan die geelperskes wat hy so heel-heel, met pit en al, ingelê het. Ag, en ek het sulke veragtelike toertjies uitgehaal om nie te hoef te help skil nie! Uiteindelik het hy ‘n skil-apparaatjie aangeskaf: mens het die perske so op ‘n pen vasgedruk en dan die vrug met ‘n slingertjie al in die rondte gedraai terwyl ‘n messie die skil in ‘n lang reep verwyder.

 

Langs die huis het ‘n prieel gestrek, met glippertjies, kanaanse kristaldruiwe en die soetste soet hanepoot. Die heel beste was die kweperlaning, waar ek latte kon pluk vir my pyl-en-boogspeletjies. Die kweperblare was soos fluweel en die bloeisels ‘n sagte bleekpienk. My pa het kweperjellie gemaak en sy ingelegde soet-suur kwepers saam met braaivleis was die heerlikste smaakkombinasie wat ek ooit geproe het.

 

Toe ons na sy dood die huis ontruim, het ek van die groot leë kênfroetbottels vir my toegeëien. Die eerste keer toe ek een oopskroef, het die geur van ingelegde kwepers my pa vir ‘n oomblik teruggebring – al was die bottel silwerskoon en het dit reeds lank leeg gestaan. Hoe geseënd was ek om so ‘n pa te hê!

 

 

30 antwoorde op Vrugteboord

  1. Inderdaad gesee”nd.

  2. Ientjie het gesê op Maart 9, 2012

    Ooo! Hoe verlang ek terug na daardie dae. Ek ruik die vars geskilde vrugte en die heerlike Aldertas was ook my geliefkooste perske, nie te praat van vye en selfs kwepers. Heerlik terug gedink. Dankie man jy is n skrywer duisend.

  3. Ientjie het gesê op Maart 9, 2012

    Kyk n bietjie by scrapydo.wordpress.com Het bietjie ou skoene opgesit van my seun!

  4. Baie mooi en ek onthou baie van daardie dinge, ook as ons iets aangevang het wat nie moes nie, self ons kweperlat ook gaan pluk het. Julle en jy was bevoorreg.

  5. TS het gesê op Maart 10, 2012

    Lekker onthou die!

  6. loudavisi het gesê op Maart 10, 2012

    Ek en my pa het ook soggens voor skool ons ontbyt in die vrugteboord genuttig.
    My ma was die huishoudkunde-onnie en dit was sy wat die inlê gedoen het. Ek en Pa moes skil.

    Heerlike, sorgvrye dae wat jy (met baie talent) beskryf.

  7. Neander het gesê op Maart 10, 2012

    Jy skryf goed met oortuiging en emosie.

  8. louisna het gesê op Maart 10, 2012

    Ai hoe verlang ek nou na ons vrugteboord destyds op die plot. Kwepers, appels, geelperskes, granate.

  9. Hoe lekker het ek nou saam met jou in die vrugteboord gekuier! Ja, dit klink vir my ook jou pa was nie sommer van hier nie!

  10. frandr het gesê op Maart 10, 2012

    Dankie, Neander, ek waardeer jou kompliment!

  11. frandr het gesê op Maart 10, 2012

    Hy was so lief vir mense – het sommer onbeskaamd op die sypaadjie gaan staan om behoorlik te kýk as iemand hom geïnteresseer het!

  12. frandr het gesê op Maart 10, 2012

    Ek wed jou daar’s baie min kinders wat weet hoe ‘n kweper lyk – laat staan nog ‘n kweperlaning. Ons was gelukkig.

  13. frandr het gesê op Maart 10, 2012

    Oe, ek was so bang vir ons Huishoudkunde-juffrou – en toe kom ek laterjare agter sy’s die dierbaarheid vanself.

  14. frandr het gesê op Maart 10, 2012

    Jy’s reg, Tina.

  15. frandr het gesê op Maart 10, 2012

    Ag toggie, daai lat het seker vreeslik seer geslaan.

  16. frandr het gesê op Maart 10, 2012

    :0)

  17. frandr het gesê op Maart 10, 2012

    Het nou so lekker daar by Scrapydo gekyk. Daai pantoffeltjies met die twee groottoon-gaatjies gryp ‘n mens se hart vas! Die sjokolade-kosmos is ‘n allerpragtige blom, maar ek dink nie dit gaan help vir my verslawing om net daaraan te ruik nie…

  18. loudavisi het gesê op Maart 10, 2012

    Dit was beslis nie my ma nie…daar was bitter min dierbaar aan haar.
    Reguit soos nuwe saaglem..
    ; )

  19. louisna het gesê op Maart 10, 2012

    Ja, ons is bevoorreg

  20. HeavyHenry het gesê op Maart 11, 2012

    Lekker!

    Waar was die plek?

  21. endlich het gesê op Maart 12, 2012

    inderdaad.
    ‘n ware man.
    en tog so handig in die kombuis

  22. frandr het gesê op Maart 12, 2012

    In ware suburbia, Ontdekkers aan die Wesrand, op klipperige grond nogal. My pa het die grond gesif en ‘n lang wal en terras met die hope klippe gebou.

  23. HeavyHenry het gesê op Maart 13, 2012

    Nice – tuin gemaak van ‘n wildernis!

  24. Poepskroef het gesê op Maart 13, 2012

    Sjoe, dis mooi geskryf! Het my sommer so half tranerig gemaak oor ons ou vrugteboord in Kimberley se groot erf, en my pa wat deesdae sy jaggeweer ruil vir ‘n voorskoot waar hy konfyt kook van alles wat hy aan die hande kry…:-)

  25. frandr het gesê op Maart 13, 2012

    Ek wens dikwels dat mens vir so iemand kon vertel hoeveel hulle vir mens beteken het.

  26. frandr het gesê op Maart 13, 2012

    Vir iemand wat in elk geval nie biltong eet nie, klink dit na ‘n uitstekende ruil!

  27. Madhatter het gesê op Maart 16, 2012

    Ag hoe laat jy my terugdink. Daar was altyd ingelegde vrugte, konfyt en chutney in ons huis danksy my ma. Good old days.

  28. frandr het gesê op Maart 17, 2012

    Ons ouers was flukse mense, nè MH

  29. frandr het gesê op Maart 17, 2012

    Ek sukkel om te sê hoe baie jou kommentaar vir my beteken – dankie vir jou, Maryna!

  30. Dankie tannie fran!Puik geskryf.Jy het my nou meegevoer na my eie kinderjare toe almal nog vrugtebome gehad het.Nou koop mens alles in plestiekpakkies in ‘n supermark..hoe vervelig!Ek wonder of vandag se kinders weet hoe hierdie verskillende vrugtebome lyk.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.