Touwerk

Maart 2, 2012 in Sonder kategorie

 

My dogter wou hê ek moes dit weggooi, dit het reeds by die ander goedjies gelê wat asblik toe moes gaan – die vierkantige stuk hardebord met al die verskillend-geknoopte stukkies tou, elkeen versigtig met ‘n etiket benoem. Ek het dit opgetel en op ‘n kas staangemaak. Hoe kon ek die handewerk van haar laerskoolvingertjies wegmaak?

 

Net so min kon ek die hompie klei met die vaagweg-leeuagtige maanhaartjie prysgee, want ek het onthou hoe sy siek-siek opgestaan en skool toe gegaan het om hom betyds klaar te maak sodat hy gebak kon word, en hoedat ‘n onsimpatieke vise-hoof met haar geraas het omdat sy nie in die klas was nie.

 

Daar is my pienk present-plastiekhartjie wat ‘n mens kon opwen dat dit so ronddans, ‘n lelike plat growwe skulp waarop sy “Gesende Kersvees” geverf het, ‘n kraletjie wat in haar hare was die keer toe sy haar lang digte krulhare in klein-klein vlegseltjies laat vleg het vir die vakansie. As ek my oë toemaak, sien ek hoe daardie vlegseltjies in die songespikkelde seewater dryf – my meisiekind, die meermin!

 

Ons was besig om haar kamer op te ruim en so vinnig soos wat sy goed in ‘n swartsak gesit het, het ek weer uitgehaal. Hoe kon ek die oranje vis waarmee sy in die bad gespeel het ooit ontbeer? Dalk kan ek nog hierdie halfgewerkte tapisserietjie klaarmaak (al het ek vyf duime aan elke hand). Nee, moenie daardie mussie en serp uitgooi nie, dit was dan ‘n geskenk van jou liewe tweede ma! Uiteindelik gee sy moedeloos toe en neem ‘n selfoonfoto van my armsvol-reddingspoging: “Ma is nes ‘n éékhoorrrringgg!”

 

My liefste kind, die helfte is jou nie vertel nie. Vir elke voorwerpie wat ek opgegaar het, is daar tientalle herinneringe in my hart. Ek sien jou as vierjarige teen ‘n vasberade spoed om die rye klere in Woollies aangestowe kom, met ‘n brose, vriendelike tannietjie aan die hand. Daardie tannietjie moes ‘n ouma gewees het – geen ander spesie sou met soveel innige genot vir my kon verduidelik het nie: “She’s ‘helping me to walk’!” Ek onthou die keer toe ‘n by my gesteek en ek begin huil het – nie net oor die seer nie, maar sommer oor als wat op daardie stadium so moeilik was. Jy het my op ‘n stoel maak sit en vir my ‘n dik sny brood-met-stroop gebring. Van al die fynkos wat ek al in my lewe geëet het, was daardie gereg die heel, heel lekkerste. Ek herroep die verwondering waarmee jy gehoor het dat jy ‘n boetietjie gaan hê wat tien jaar jonger as jy gaan wees. Elke reënboog wat ek sien, laat my na jou verlang.

 

Gister was jou verjaarsdag. Jy is nou ‘n volwaardige volwassene, met jou eie lewe doer in die VSA saam met jou Amerikaanse liefde, die jongman wat my al “Mams” begin noem het nog lank voordat julle getroud is. Laatnag Skype ons. Ek kyk na jou vars gesiggie, jou dik hare met die mooi paadjie, jou blink bruin oë. Ek sit my hande om die rekenaarskerm asof ek jou so kan vashou, en ek dank God dat jy op hierdie aarde lewe en dat jy gelukkig is.

23 antwoorde op Touwerk

  1. loudavisi het gesê op Maart 2, 2012

    Wens ek kan nog duisende sterre gee vir hierdie skrywe!

    Ek het myself verkyk aan my mooie dogter toe sy laatmiddag van die werk afgekom het, met deernis en soveel dankbaarheid dat hulle op my eie kleine hoewe kan woon.

  2. TS het gesê op Maart 2, 2012

    Ag hoe lekker … Bêre maar die goedjies niemand gaan jou kwalik neem

  3. Ientjie het gesê op Maart 2, 2012

    Heerlik om jou terugflitse te kon lees. Ek sit ook met n kartondoos vol herinneringe hier in die vreemde. Elke artikel het sy eie storie. Selfs babaklere en eerste skoene en sandale is nog hier weggebere. Het begin om fotos te neem van alles en dan by te skryf wat in my gedagtes opkom. Jy mag maar wegsit vir later dis belangrik

  4. bly om te verneem daar is nog iemand wat soos ‘n eekhoring is.
    My ma het gesê ek is soos ‘n kraai, gaar alles in die nes op – sy was glad nie so nie

  5. Perdebytjie het gesê op Maart 2, 2012

    Ai,hoe hartseer voel ek nou.’n Mens probeer so hard klou aan daardie dingetjies,maar op die end is dit net die herinneringe wat oorbly.Ek verlang nou sommer na my drie mooi meisiekinders en hul stoute boetie!

  6. HeavyHenry het gesê op Maart 3, 2012

    Nice!

  7. avega het gesê op Maart 3, 2012

    Sjoe ek kan nie dink hoe mens verlang as jou kinders so ver is nie. Geniet die herinneringe.

  8. frandr het gesê op Maart 4, 2012

    Dis nou ‘n goeie plan, maar ‘n groot projek! Deel ‘n paar van jou foto’s en skrywes, toe?

  9. frandr het gesê op Maart 4, 2012

    Ek maak so, dankie Tina – die plastiekvis sit steeds op my badrand!

  10. frandr het gesê op Maart 4, 2012

    “Erkentlik deur die dae…”, nè Lou.

  11. frandr het gesê op Maart 4, 2012

    Die kraaie gaan mos eintlik vir die blink goete! Mense wat nie opgaar nie verstaan ons glad en geheel en al nie :0)

  12. frandr het gesê op Maart 4, 2012

    Die skrywer Sharon Pennan praat van “a glimpse of cherished ghosts haunting the country of childhood” – dis vir my so mooi!

  13. frandr het gesê op Maart 4, 2012

    Jou inloer is altyd welkom, Henry

  14. frandr het gesê op Maart 4, 2012

    Jy moenie praat hoe verlang mens na jou kleinkinders nie! Ek het tweetjies in Kaapstad en dis regtig swaar.

  15. frandr het gesê op Maart 4, 2012

    Dankie, Ekke – dit lyk my ek’s in baie goeie geselskap met my opgaardery!

  16. O, dit is so pragtig. Dit ontroer my omdat dit so presies in woorde vertel hoe ek voel wanneer ek aan elkeen van my kinders individueel dink.

  17. HeavyHenry het gesê op Maart 5, 2012

    🙂

  18. pienkvolla het gesê op Maart 5, 2012

    Baie baie mooi geskryf!

    Ek hoop sy het die voorreg om dit self te lees.

  19. frandr het gesê op Maart 5, 2012

    Sy weet van haar ma se blog en sal dit waarskynlik lees.

  20. frandr het gesê op Maart 5, 2012

    Ma’s se harte verstaan mekaar se taal, en watter voorreg is dit tog om deel van daardie susterskring te kan wees.

  21. Ek-Myself het gesê op Maart 7, 2012

    Lekker en mooi onthou dinge… Ek bere ook so my kinders se goedjies wat vir my spesiaal is – ma het dit ook gedoen. Tyd vlieg en dit sal brandhout vir my oudag wees.
    Ek is bly sy is gelukkig daar ver!

  22. frandr het gesê op Maart 7, 2012

    Dis ‘n mooi beeld, Ek-Myself – so ‘n knetterende herinneringsvuurtjie wat sommer die koue van die ouderdom verdryf.

  23. Madhatter het gesê op Maart 8, 2012

    Jy maak my hartjie baie seer. Dis so mooi. Nou verlang ek weer dik stukke na my 2 in Dubai. Ai toggie. Lekker aandjie vir jou.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.