Jy blaai in die argief vir 2012 Maart.

Skuldbekentenis en apologie

Maart 17, 2012 in Sonder kategorie

 

Laatlam trek een van die dae na sy eie plek toe. Ek gaan hom mis, veral vanweë toneeltjies soos die volgende:

 

Gisteraand gaan hulle uiteet. Vanoggend kry ek die leë papier waarin die ham was wat ek vir ‘n omelet gekoop het op die kombuistoonbank. Al die paasbolletjies het ook verdwyn. Ek moet in elk geval winkel toe en koop weer ham, terwyl ek wonder hoe mens na ‘n restaurant toe gaan en so honger tuis kom dat jy soos ‘n sprinkaan deur die kombuis trek.

 

Terwyl ek die omelet maak, kom staan hy langs my en vra boetvaardig:

 

“O hêng, was daardie ham vir die een of ander ‘divine purpose’?”

Vrugteboord

Maart 9, 2012 in Sonder kategorie

In ons voorstedelike agterplaas het my pa ‘n paradyslike vrugteboord geplant. Elke jaar op my mammie se verjaarsdag het hy die eerste rooiwang- witvleisperskes soos ‘n liefdes-offer vir haar gebring. Daarna was daar kaalperskes en dan het die geel albertas gevolg.

 

Daar was ‘n laning vyebome en een boompie wat sulke klein pers vytjies gedra het. Daar was twee soorte pruime, geelperskes en amandels. In die hoek het ‘n granaat gegroei, net langs die turksvye, wat hy so behendig met ‘n stok kon pluk en vir die lekkerbek-kind kon skil. Hy het die bome gereeld natgelei, met ‘n blikkie wat die tuinslang se stroom water verswak, sodat dit nie die grond wegspoel nie. Dan het ek so saam met my pa van die een boom se kring na die volgende beweeg en my verkyk aan die manier waarop die water die stokkies en blaartjies oplig en laat dryf.

 

Die twee appelkoosbome se vrugte was groot en sappig en as mens klaar geët het, het jy die pitte met ‘n halwe baksteen oopgekap om die besonder geurige neut daarbinne by te kom. My pa moes maar self die oorvloedige opbrengs van sy boord verwerk en daar was altyd uitgedopte appelkoospitte in sy heerlike appelkooskonfyt, wat ‘n besonderse geur aan die konfyt gegee het.

 

Hy het dikwels helpers gesoek om saam te skil aan die geelperskes wat hy so heel-heel, met pit en al, ingelê het. Ag, en ek het sulke veragtelike toertjies uitgehaal om nie te hoef te help skil nie! Uiteindelik het hy ‘n skil-apparaatjie aangeskaf: mens het die perske so op ‘n pen vasgedruk en dan die vrug met ‘n slingertjie al in die rondte gedraai terwyl ‘n messie die skil in ‘n lang reep verwyder.

 

Langs die huis het ‘n prieel gestrek, met glippertjies, kanaanse kristaldruiwe en die soetste soet hanepoot. Die heel beste was die kweperlaning, waar ek latte kon pluk vir my pyl-en-boogspeletjies. Die kweperblare was soos fluweel en die bloeisels ‘n sagte bleekpienk. My pa het kweperjellie gemaak en sy ingelegde soet-suur kwepers saam met braaivleis was die heerlikste smaakkombinasie wat ek ooit geproe het.

 

Toe ons na sy dood die huis ontruim, het ek van die groot leë kênfroetbottels vir my toegeëien. Die eerste keer toe ek een oopskroef, het die geur van ingelegde kwepers my pa vir ‘n oomblik teruggebring – al was die bottel silwerskoon en het dit reeds lank leeg gestaan. Hoe geseënd was ek om so ‘n pa te hê!

 

 

Touwerk

Maart 2, 2012 in Sonder kategorie

 

My dogter wou hê ek moes dit weggooi, dit het reeds by die ander goedjies gelê wat asblik toe moes gaan – die vierkantige stuk hardebord met al die verskillend-geknoopte stukkies tou, elkeen versigtig met ‘n etiket benoem. Ek het dit opgetel en op ‘n kas staangemaak. Hoe kon ek die handewerk van haar laerskoolvingertjies wegmaak?

 

Net so min kon ek die hompie klei met die vaagweg-leeuagtige maanhaartjie prysgee, want ek het onthou hoe sy siek-siek opgestaan en skool toe gegaan het om hom betyds klaar te maak sodat hy gebak kon word, en hoedat ‘n onsimpatieke vise-hoof met haar geraas het omdat sy nie in die klas was nie.

 

Daar is my pienk present-plastiekhartjie wat ‘n mens kon opwen dat dit so ronddans, ‘n lelike plat growwe skulp waarop sy “Gesende Kersvees” geverf het, ‘n kraletjie wat in haar hare was die keer toe sy haar lang digte krulhare in klein-klein vlegseltjies laat vleg het vir die vakansie. As ek my oë toemaak, sien ek hoe daardie vlegseltjies in die songespikkelde seewater dryf – my meisiekind, die meermin!

 

Ons was besig om haar kamer op te ruim en so vinnig soos wat sy goed in ‘n swartsak gesit het, het ek weer uitgehaal. Hoe kon ek die oranje vis waarmee sy in die bad gespeel het ooit ontbeer? Dalk kan ek nog hierdie halfgewerkte tapisserietjie klaarmaak (al het ek vyf duime aan elke hand). Nee, moenie daardie mussie en serp uitgooi nie, dit was dan ‘n geskenk van jou liewe tweede ma! Uiteindelik gee sy moedeloos toe en neem ‘n selfoonfoto van my armsvol-reddingspoging: “Ma is nes ‘n éékhoorrrringgg!”

 

My liefste kind, die helfte is jou nie vertel nie. Vir elke voorwerpie wat ek opgegaar het, is daar tientalle herinneringe in my hart. Ek sien jou as vierjarige teen ‘n vasberade spoed om die rye klere in Woollies aangestowe kom, met ‘n brose, vriendelike tannietjie aan die hand. Daardie tannietjie moes ‘n ouma gewees het – geen ander spesie sou met soveel innige genot vir my kon verduidelik het nie: “She’s ‘helping me to walk’!” Ek onthou die keer toe ‘n by my gesteek en ek begin huil het – nie net oor die seer nie, maar sommer oor als wat op daardie stadium so moeilik was. Jy het my op ‘n stoel maak sit en vir my ‘n dik sny brood-met-stroop gebring. Van al die fynkos wat ek al in my lewe geëet het, was daardie gereg die heel, heel lekkerste. Ek herroep die verwondering waarmee jy gehoor het dat jy ‘n boetietjie gaan hê wat tien jaar jonger as jy gaan wees. Elke reënboog wat ek sien, laat my na jou verlang.

 

Gister was jou verjaarsdag. Jy is nou ‘n volwaardige volwassene, met jou eie lewe doer in die VSA saam met jou Amerikaanse liefde, die jongman wat my al “Mams” begin noem het nog lank voordat julle getroud is. Laatnag Skype ons. Ek kyk na jou vars gesiggie, jou dik hare met die mooi paadjie, jou blink bruin oë. Ek sit my hande om die rekenaarskerm asof ek jou so kan vashou, en ek dank God dat jy op hierdie aarde lewe en dat jy gelukkig is.