Vakansie(s) – vir Rissiepit Ru

Februarie 12, 2012 in Sonder kategorie

 

Rissiepit het mens se gedagtes aan die gang gesit met haar interessante uitdaging…

 

In my lang liefdesverhouding met die lewe was daar vele vakansies en dis te moeilik om een uit te kies. Maar bepaalde vakansies het lewensveranderende oomblikke bevat:

 

Op agtjarige ouderdom, by Ifafa aan die Natalse Suidkus, het ek my hart aan die Here gegee. My kleinboet was toe ‘n baba en ek het min of meer op my eie rondgedwaal. Langs die strand het ek na die pragtige rotspoeletjies gekyk, met die anemones, seewier en klein vissies, en in spontane aanbidding Psalm 23 gesing – oor en oor, met die see as my begeleiding. Een warm oggend, die golwe se geruis gedemp deur die soetgeurende duineplante, het ek in die paadjie op my knieë neergeval en vir die Here gesê dat ek sy kind is en dit graag wil bly, my lewe lank.

 

Destyds het ek nie besef hoe idillies dit eintlik was nie, die vakansies by Scottburgh, in ‘n baie basiese rondawelkampie, waar die jongmense saans saamgekuier het en bedags strandrugby gespeel het. Ek onthou die growwe geel sandduin waar ek skemertyd “Sy kom met die sekelmaan” gesit en lees het, met die seegeruis in my kop en die pienk aandgloorgolwe voor my uitgestrek. In my hart was die opwinding van my eerste liefde, daardie kortasem kol op die maag, die afwagting – want vanaand gaan ons weer almal saam “Name, diere, dorpe…” speel en dan raak ons hande dalk “per ongeluk” aan mekaar.

 

Die eerste keer toe ek Stormsriviermond in die Tsitsikamma-Seekuspark beleef het, het ek geweet: hier is my hartsplek op die hele aarde. Terwyl ek ‘n baie hartseer episode in my lewe moes verwerk, het ek en my broer een aand bo-op die heel hoogste rots gesit – daar is ‘n rotsstoel daar, wat lyk asof dit spesiaal uit die rots gebeitel is, net-net breed genoeg vir twee mense. In die weste het ons die son sien sak en vir een betowerende oomblik ‘n groen flits gesien, iets wat nie vir almal beskore is nie. Ons het bly sit en in die ooste het ‘n yslike ronde kopermaan opgekom. Teen die ontroerende grootsheid van die natuur het my hartseer vervaag.

 

In Tsitsikamma se see het ek geswem toe ek ons middelkind verwag het, met my dierbare skoonma op die strand, ons eersteling in haar arms, skoon benoud oor die geswemmery so ver om die rotspunt na die volgende baaitjie toe!

 

Ek wil nog eenmaal die rooi flits van ‘n Knysnaloerie se vlerke sien as hy tussen die hoë bome sweef; die bospaadjies stap en die see ver en naby hoor klink; die ronde klippers hoor kletter as die golwe hulle heen en weer spoel; die pluime van die branders sien soos hulle teen die rotsriwwe opslaan.

 

My middelkind – die een wat “saam” met my daar geswem het, het onderneem om sy ma se as daar te gaan strooi.

17 antwoorde op Vakansie(s) – vir Rissiepit Ru

  1. Pragtig! Dis nou n heerlike lees beskrywing. Kan sommer die see, Knysna bome en heerlike ondervinding in my gedagtes sien.

  2. frandr het gesê op Februarie 12, 2012

    Dankie! Dis Maandagoggend by jou, ne? Ek het netnou met my broer gesels, net voor die dag daar ver sy loop begin kry het. Hoop dis ‘n goeie week vir jou.

  3. Ja, dis reg . Het reeds my grasperkie(eintlik my klawerlandjie) gesny. Met die reen groei dit welig. Ek het nog een van die hand grasnyertjies! Klakke klakke in vroee oggend gewees

  4. frandr het gesê op Februarie 12, 2012

    Jy’s baie fluks! Ek gaan nou lui wees en slaap.

  5. Mooi Ru …

  6. TS het gesê op Februarie 13, 2012

    lekker lees die

  7. Jy skryf GOED!
    Mag hierdie dag jou asem wegslat!

  8. avega het gesê op Februarie 13, 2012

    Tsitsikamma hou ook goeie herinneringe vir my in, een van die mooiste plekke op aarde.

  9. Lekker lees!

  10. Ek het dit geniet! So tannie fran is ook n “as-jas” mensie en nie n “hout-jas” ene’tjie nie… lol.

    ….het onderneem om sy ma se as daar te gaan strooi.

  11. frandr het gesê op Februarie 14, 2012

    Dit is die mooiste, mooiste gebaar – dankie, Maryna, jy’t my nou skoon bewoë.

  12. frandr het gesê op Februarie 14, 2012

    Ek kom te min by die see, maar eendag sal ek vir altyd daar rondwaai.

  13. Blikemmer! Ons het raakpunte in woorde!

  14. So mooi geskryf, mens kan die liefde en mooi herinneringe so sterk aanvoel…ja, dit oorweldig mens, en mens kan nie help om aan jou eie Scottburgh te dink nie, want ons almal het tog een, of hoe?

    Baie, baie dankie vir die welkome boodskap, jammer ek antwoord nou eers maar daardie email waarna dit gestuur is gebruik ek nie eintlik meer deesdae nie, so ek het dit nou eers gekry. Ek is nou besig om n nuwe pos te skryf…

  15. Hoe seer word my hart nou !

  16. frandr het gesê op Februarie 24, 2012

    Weetjy, Caro, toe ek dit geskryf het, was ek glad nie hartseer nie. Wat wel die trane laat loop het, was Maryna se pragtige, kosbare foto. Maar nouja, ek huil sommer maklik as iets vir my aangrypend mooi is…

  17. My blaas sit self deesdae onder my ogies !

Los ’n antwoord vir TS. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.