Nog ‘n spookstorie vir Henry
Desember 29, 2011 in Sonder kategorie
As skoolhoof moet ek elke dag probleme oplos, klein en groot. En die meeste daarvan kry ek wel opgelos, dis net…soms is daar iets wat nie pluis is nie…
Daar hardloop klein Cecilia oor die vierkant. Ek hoop daardie verskriklike bloukolle is nie meer so sigbaar nie. Volgens die dokter is dit die gevolg van draaiknype wat doelbewus toegedien is. Ek kan dit nie verstaan nie – die maatskaplike werker sê dat sy in Cecilia se ouerhuis geen teken van disfunksie of mishandeling kon bespeur nie; sy is ‘n enigste kind, dus kan dit nie ‘n boetie of sussie se werk wees nie; hier by die skool is die personeel altyd op die uitkyk vir boelies; en tog lyk die meisietjie alewig asof iemand haar te lyf gegaan het! Maar wag, ek het gedoen wat ek kon, laat ek my ophou verknies en aan die werk kom. Haar ouers het tog onderneem om die raaisel verder te ondersoek.
En nou, Juffrou Bekker, as jy sommer by my kantoor inbars? “Meneer, jy moet dadelik kom, kom help tog asseblieftog, dis Cecilia, ek…Meneer, ek dink iets is besig om haar aan te val! Sy het net skielik opgespring en begin skree en toe val sy op die vloer en rol rond soos ‘n mal mens!”
Ons hardloop met die stoep langs, dis chaos in die kind se klas. Kinders jil en skree, staan in ‘n wye kring om die bondeltjie wat nou doodstil op die vloer lê.
Ek tel haar op en in my arms begin sy weer te stoei en te gil. Voor my oë sien ek hoe daar snymerke op die kind se gladde velletjie verskyn… Ek hardloop met haar na my motor…waar gaan ek nou hulp kry? ”Verlos ons van die bose…verlos ons van die bose…”
TS het gesê op Desember 29, 2011
Sjoe… ek hoop ons kry later die ontknoping?
frandr het gesê op Desember 29, 2011
Daar is nie een nie, Tina! Dis iets wat my Pa vertel het wat hom self oorgekom het en ek het nooit by hom die uiteinde van die storie gehoor nie.
ludwig.heuer het gesê op Desember 29, 2011
Dit is jammer jy het nie die einde gehoor nie …
Grafsteen het gesê op Desember 29, 2011
Sjoe!
Madhatter het gesê op Desember 29, 2011
Dit klink alteveel na die waarheid die een. Ek voel sommer bang.
frandr het gesê op Desember 29, 2011
Daar noem jy nou die regte term vir die ding, wat ek nie kon onthou nie – “foltergees”.
frandr het gesê op Desember 29, 2011
Ai, Ludwig – as ek tog maar weer so lekker met my Pa kon gesels soos wat ons altyd gedoen het…dan kon ek hom gevra het.
Ientjie het gesê op Desember 29, 2011
Ons het vroeer jare langs n skoolhoof gebly wat ook die interessantste dinge kon vertel. As kinders het ons aan sy lippe gehang. Doerdie tyd se grootmense is heeltemaal anders as vandag se ouer mense(ek word nou self al as een van ouer mense geklassifiseer)
Ientjie het gesê op Desember 29, 2011
Nou dink ek ook ver terug toe ek gister sien en hoor dat die sjimpansee(reeds 80 jaar) wat in eerste Tarzan flieks gebruik is oorlede is! Johny Weismuller wat Tarzan was Het ook ver gedagtes teruggebring!Lekker ou dae!
HeavyHenry het gesê op Desember 30, 2011
Daar is 297 woorde in frannie2
frandr het gesê op Desember 30, 2011
Ek belowe jou, my “Open Office”-woordtelling sê 300! Maar newwermaaind, wat, ek maak die afsnypunt 😀
frandr het gesê op Desember 30, 2011
Ek dink mense het die kuns van gesels beter verstaan toe daar nie so baie afleiding was soos deesdae nie, of ten minste het hulle dit meer beoefen.
HeavyHenry het gesê op Desember 31, 2011
Dis die:
motor…waar
frandr het gesê op Januarie 1, 2012
Ooo – sal spasies aan weerskante van toekomstige ellipse sit
kompethenry het gesê op Januarie 1, 2012
Nee – net aan die einde – anders gaan die ellipsis as ‘n woord tel…