Spookstorie vir Henry

Desember 28, 2011 in Sonder kategorie

As klein dogtertjie woon my mammie in Potchefstroom in ‘n huis met ‘n groot tuin en ‘n lae muurtjie tussen hulle en die bure. ‘n Ent agter die huis groei ‘n groot ou peerboom, wat nooit vrugte dra nie.

 

Een nag begin die honde verskriklik blaf en haar ouboet gaan kyk wat aangaan. In die lig van sy lantern sien hy ‘n tamaai bobbejaanmannetjie op die tuinmuur loop! Ouboet is ‘n plaaskind en hy eien dadelik die silhoeët – waar sou bobbejaan se kind hier in die middel van die dorp vandaan gekom het? Stadig retireer hy en glip by die kombuisdeur in – mens soek nie moeilikheid met ‘n volgroeide bobbejaan nie.

 

Dis die begin van ‘n skrikbewind. Elke nag drie-uur lawaai die honde dat g’n mens kan slaap nie. Dan stap Ta met die tuinmuurtjie langs en klim rats in die peerboom op, waar hy in die donker verdwyn. Die bure kry net so swaar en daar is lang bespiegelings oor waar die ellendige dierasie vandaan sou kom. 

 

Totdat Sophie van die ding te hore kom. “Hau, ounooi, dis die spook daai! Julle moet hom die Slams laat kom, gou-gou!” Die gesin is huiwerig, dis duiwelsgoed en hulle is goeie Christenmense. Maar die nagtelike besoeking is besig om almal gek te maak en hulle vra Sophie om die Slams te laat roep.

 

‘n Klein verrimpelde gryskopmannetjie daag op en stap langs die tuinmuurtjie af. Toe sê hy met gesag die huismense aan om onder die peerboom te gaan grawe. Ouboet se graaf dolwe ‘n klein botteltjie uit, vol mensnaelknipsels en hare. Die Slams steek dit in sy sak saam met die pond wat Oupa hom gee.

 

Die bobbejaan het nooit weer opgedaag nie en van toe af dra die peerboom elke somer die heerlikste soet vrugte…

8 antwoorde op Spookstorie vir Henry

  1. TS het gesê op Desember 28, 2011

    lekker gelees

  2. bondig, kompak en met die nodige oemf. Lekker

  3. Yhoe ! Tannie Fran ,hier ontpop jy as bobaas spoker.

  4. Daar is 298 woorde in frannie1

    Yip!

  5. Hoe het die oumense dit genoem? Goëlery.

  6. frandr het gesê op Desember 28, 2011

    Ag askies, my somme is maar altyd ietwat wankelrig – maar ek maak nog die afsnypunt!

  7. frandr het gesê op Desember 29, 2011

    Dis reg, MH – ek onthou hoe ek as kind skoon skeel gekyk het van die angs as die grootmense hierdie soort stories vir mekaar begin vertel.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.